Thursday, September 21, 2006

Die Kunsgalery van jou gees

Die kunsgalery van die gees.
Die ding het met pa begin. En prentjies. Dit was een van daardie laat nag geselsies oor wat maak dat mens iets onthou en ander dinge vergeet. Toe vertel pa my van die drie prentjies wat hy nog nooit kon vergeet nie. Die kosbaarheid daarvan te eenvoudig om te deel, en die eenvoud te kosbaar om nie te deel nie.
Die eerste was ‘n ets van baie jare gelede toe hy met die “alkies” (alkoholiste) gewerk het. Dit was laat nag toe pa ‘n oproep kry. Hy moet gaan help. Een van die alkies het weer moeilikheid begin maak by die huis. Pa het aangetrek en na die betrokke huis gery. ‘n Klein dogtertjie het die deur oopgemaak. Haar woorde en gesiggie was die eerste van die prente wat pa lewenslank sou bybly: “Hier’s Oom Ben”. Met daardie drie woorde het dit gelyk of die wêreld van haar skouertjies gelig het. Die gesiggie het getuig van die wete dat alles nou reg sal wees …Wat ‘n reuse verantwoordelikheid, wat ‘n fantastiese kompliment.
Die tweede prentjie was van my boetie Jan. Pa-hulle het visgevang en die reën het geleidelik begin uitsak. Aan pa se lyn het ‘n wispelturige peuteraar van ‘n vis net die lyn nou en dan laat roer. Genoeg dat pa nie kon gaan skuiling soek nie. Hy wou die vis vang. Ma het ‘n kombers gebring en oor hom gegooi. En oor Jan. Jan het langs pa op ‘n klein stoeltjie gesit. Al die ander was al in die tent of motors, want die reën het nou al meer driftig geval. En toe kyk Jan op na pa. En daardie trots, daardie wete van “ek is by jou, en dis lekker” op Jan se gesig, was die tweede skildery wat pa in sy hartkamer bewaar het. ‘n Oomblik van ewigheid.
Die derde skildery is een wat baie van ons ken. Pa het laat aand tuisgekom. Jan was in die bed en het gelê en wag dat pa die kombers onder sy ken moes kom trek. Want dit was winter in Bethlehem. Toe pa instap en die kombers optrek het Jan se gesig getuig van tevredenheid en knusheid. Geborgenheid. Pa is tuis.
Die drie prente was deel van ‘n groot groep herinneringe, maar wat my verstom het was dat pa hierdie drie eksklusief gebêre het, terwyl daar soveel ander oomblikke soos verjaarsdae, gradeplegtighede, funksies ens was.
Ek dink nog baie oor die drie prentjies. Maar wat ek weet is dat al drie getuig het van kere toe pa vir iemand anders iets beteken het, vir iemand “die warmte van menswees” verskaf het. Hy het nooit baie oor sy prestasies gepraat nie, en hierdie was een laatnaggesprek, oor, waarskynlik sy grootste prestasie – die gawe van deel, uit die gees. Die een prestasie waarvan ons vandag so min weet.
Twee vrae: Geniet ons nog die prentjies wat ons dag vir dag skep, en deel ons nog geesgawes?
Die wonder van elke dag is dat ons nooit weet wat ons eendag gaan onthou nie. En waarvoor ons onthou gaan word nie. Maar miskien moet ons onthou om mooi prentjies te versamel in die skatkamers van ons harte, want daardie prentjies is ons oases op die lewensreis, en ons kan hulle besoek net wanneer ons wil. Daar is baie hartseer, leed en smart prentjies, hulle verdien hulle plekke en aandag. Dis terapeuties nodig, en belangrik vir balans. Maar die prente wat ons dag vir dag in die kunsgalery van ons harte saamdra definieer ons, daarom moet hulle mooi wees, inspirerend, mededeelsaam – en net ons eie, om dalk eendag met iemand anders te deel. Laat aand, as padkos vir hulle reis Toebroodjies vir hulle harte …-

No comments: