Thursday, September 21, 2006

Die Meester maak kiekies van ons...

“Môre Meester”
Hy’s onmiddellik langs my motor. Beswaarlik 6 jaar oud, maar bekkig. Ek sien uit na die gesprek, soos elke keer.
“Hoelykit meester, ek’s hongerig. Wat van ek sê virrie meester ‘n gediggie vannie Spinnekop, dan gee die Meester my so titseltjie vir ‘n ietsie te peusel?”
Ek stop graag hier.
Griekwastad.
Die seunjies bedel nie bakhand nie. Hulle kom met met gediggies. Kompleet met handgebare en wringende gesiggies.
Toe hy sien ek stel belang, staan sy vriend stowwerig met sy draadkar nader.
“Ek ken ôk ene, Meester, van Meerkat, Wil Meester hom hoor? Hy’s ‘n mooie versie?”
Hulle gesels nou deurmekaar.
“Daas nog versies, Meester. Vannie jakkalsgat ennie boer se vrou. Willie meester hoor?”
Hulle skoene is flenters, maar die gesiggies blink in die warm Noord Kaap son. Daar staan swaarkry geskryf diep in hulle oë, maar, vir nou, vonkel dit. Hulle kan mos hulle talente deel.
Ek haal my kamera uit. Terwyl ek hier is kan ek maar bietjie tyd maak vir foto’s. Hulle draf met die draadkarre en speel model. Geduldig en opgewonde.
Die glimlaggies is haasbek maar blink.
“Die meester maak kiekies van ons.”
Ek vra hulle name.
Die kleinste outjie kom staan reg voor my. Hy kyk my reguit in die oë. Daar is ‘n trots in sy houding en ‘n fermheid in sy stem.
“My naam is Daniël Leeuw, Meester.”
Een sin.
Waarvan die klem helder en duidelik op sy naam rus.
En in daardie sin, en in daardie trots regop houding, is ‘n egtheid, ‘n selfvertroue, wat ek nie verwag het nie.
En hier in die stowwerige straat, tussen stukkende skoene, verslae straatbrakke en blink draadkarwiele is dit mooier as die gedigte.
Want hy is trots op wie hy is, ten spyte van sy omstandighede.
En ek weet dis wat van ons almal verwag word. Om trots te wees op wie ons is, waar ons vandaan kom, om ons talente te deel, en reisigers op die lewenspad te verkwik.
Want die Meester maak kiekies van ons.

No comments: