Thursday, September 21, 2006

Dis lekker om te onthou

Elke keer as ek in die spieël kyk wag ek vir ‘n agtienjarige om terug te kyk. Dis hoe oud ek voel. En ek ken nie die man wat daar voor my staan nie.
Hy’t sulke grys kolle in sy hare soos Charlie Weir. En so ietsie om sy maag soos Jimmy Abbot.
Maar ten spyte van sy voorkoms het hy meer lekker herinneringe as enige 18 jarige.
Wie sal dan ooit die High Street Book Exchange in Bethlehem vergeet? Daar waar sulke lang groen sepe tussen al die tweedehandse boeke gestaan het. Dit was seep en boeke. Die reuk van seep en die koerantagtige gevoel van die Ruiter in Swart, Arend van die Oerwoud, Kid die Swerwer en al die ander lekker boeke. Party mense het gesê die slapbandboeke was onheilig. Pa het volstaan: Laat die kind lees. En so het ek en Pa menige Saterdag gaan boeke koop. Pa was lief vir Alex Hailey en The Executioner. Ek was in my eie verbeelding Ben, die Ruiter in Swart. Die tannie het my altyd afslag gegee as ek alleen gaan koop het. Sy’t seker ook maar gedink: Laat die kind lees.
Net om die hoek was Bethlehem Restaurant waar ons Sondae na kerk kon gaan lekkers koop. Ons kon self betaal en die tannie het ons van kleingeld geleer. Sy moes elke sent aftel en geduldig weer tel as ons nie saamgestem het nie. Sy was elke keer reg. Ons het ook geweet as ons ma of pa iewers in die dorp misgeloop het tydens ‘n inkopiejagtog dan kon ons by Bethlehem Restaurant gaan wag.
By K.Oosthuizen haarkappers is ons hare borselkop geskeer. Die voorste deel van die winkel het die heerlikste verskeidenheid speelgoed gehad. Ook rockets en crackers vir nuwejaar. Later is hulle naam verander na Smokers Mecca. Die tannie was altyd gaaf, en mens kon enige geskenk daar kry.
Dan was daar natuurlik die ou biblioeek, net oorkant die munisipale swembad. Die Bib het sulke swaar deure gehad. En die kinderafdeling was heel agter. Daar kon mens Huppelkind, Fritz Deelman en die Jasper stories uitneem. En ses sent se boete betaal as dit laat was!
Daar was ook oom Gary Kahts se sportwinkel. Hy’t my eenkeer voorgeskiet toe ek nie ‘n visvangkatrol kon koop nie. Ek moes elke maand R1, 50 gaan betaal, vir omtrent ses maande. Ek glo nie hy het ooit boek gehou nie. Maar hy het ‘n seuntjie se drome help waar maak. En meer nog hy het my geleer dat dit beter is om ‘n mens te vertrou as om hom nie te vertrou nie.
Esquire het daardie tyd aan oom Ian Bradshaw en sy vrou, Tannie Zandra, behoort. Desembervakansies het ek en Dawie daar gewerk. En elke kee as dit kersfees word kon ons elkeen ‘n hemp kies. Ek het een jaar so Hawai hemp gekry soos Magnum op tv. Ma het gedink dis flashy, ek het geweet dis cool. Ons was seker albei reg.
Oom Ian het my gehelp om my eerste kamera te koop en ‘n lang aand spandeer om my te leer van sluiterspoed en lig. Daarna het hy my vordering by die kameraklub fyn dopgehou. Vandag nog neem ek graag foto’s en baseer baie van my werk daarop. En nou en dan salueer ek oom Ian wat die tyd gevind het om ‘n seun te help leer van die wonder daarvan om met lig te kan verf.
Naby Goble park was daar ‘n kine! Daar het ons gaan kyk na Sybil Coetzee en Eckhard Rabe in Springbok. Daar was meer Afrikaanse flieks as vandag. Ons het van die Globe gepraat as ons daarheen gegaan het. Soms was daar Yo-Yo vertonings of iemand wat baie goed dingbat kon speel. Die vermaak was oneindig. Die ure het minute geword, en die minute sekondes.
En na ‘n paar sekondes wat ewig wou duur, staan die man voor die spieël.
En hy lyk soos Charlie Weir in sy hare, soos Jimmy Abbot om sy maag.
Maar hy glimlag as hy terugdink aan dae toe besigheid nog oor omgee gegaan het.
En hy glimlag
Soos Mona Lisa.

No comments: