Thursday, September 21, 2006

Kastele bou is moeilik

Dit is nie maklik om kastele te bou nie. Veral nie as mens probeer verneuk met die bouery nie. Dit het ek Vrydagaand agtergekom toe Benno my vra om saam met hom ‘n blokkieskasteel te bou.
Tjop-tjop, het ek gedink en langs hom gaan lê met die blokkies reeds versprei op die vloer. Sulke lego tipe blokkies wat inmekaar druk. Na 5 minute het ek die hele spulletjie halfpad klaar, toe die moeilikheid begin. Ek was redelik ongeërg met die pak van die eerste blokkies, en skielik het die kasteel se mure begin kantel. Alkante toe. Benno het niks gesê nie. My net met daardie vierjarige ogies aangekyk wat sê: “Ja, toenou, sorteer die gemors uit, jy het mos gedink dis maklik…”
Dit het my gekos alles afbreek en voor begin. Hierdie keer was ek slimmer as tevore. Na stewige fondamente bou ek toe sommer weer met die stukke mure wat ek pas afgebreek het. Hier en daar was ‘n gaatjie in die kasteel, waar die klaargemaakte mure nie lekker ingepas het nie. En sommer fluit-fluit is ek by die halfpadmerk verby. Net toe ek begin gloei van trots oor my bouvernuf begin die gaatjievensters lol. Die mure tuimel weer in. Benno sug. En ja, kleuters is sommer reguit:
“Dom Pappa!”
“Hei, met wie dink jy praat jy”, ek moet darem my dissipline ook handhaaf.
“Met jou.”
Ek swyg maar, want op daardie oomblik tuimel die hele kasteel weer in mekaar. Benno sug en ek soek verskoning:
“Maak toe die venster, die wind waai die kasteel om…”
“Die venster is toe.”
Die derde keer neem ek my tyd. Ek haal al die reeds geboude mure uitmekaar. Plaas hulle stukkie vir stukkie in posisie bo die stewige fondament. Dis tydsaam maar deeglik. Weldrae staan die kasteel. Benno is tjoepstil. Ek dog eers dis in ongeloof. Toe sien ek hy het aan die slaap geraak!
Ek dra hom saggies bed toe. En in die Bybel lees ek van die wyse man wat sy huis op die rots bou. En ek verstaan weer dat die Meester die fondament is waarop ons die kastele bou wat ons lewens noem. Die fondament is die basis, en elke dag is nog ‘n blokkie. Die bouwerk is in ons hande…
En ek weet my kasteel het maar ‘n paar krake en gaatjievensters, maar dis een kasteel waar die fondament reeds daarvoor voorsiening gemaak het.
Jare gelede. Op ‘n houtkruis.

No comments: