Thursday, September 21, 2006

Om by Oupas en Oumas te leer

Daar is ‘n oorvloed van plooie en valstandglimlagte in hierdie coffee shop. Dis ‘n lang pad Upington toe, en ek het eers hier ietsie kom kry vir innerlike versterking.
In Kimberley.
Dis 11:45 en die plek is vol kromgetrekte oupas en oumas wat hulle beursies of vasklem, of wonder waar hulle dit gesit het. By die tafel langs my lees een egpaar saam die Huisgenoot – grootogig oor die dinge van die wêreld.
Twee waardige vriendinne met pasgedoende hare kyk vonkelogig na foto’s van kinders en kleinkinders. Later is hulle ernstig. Probeer om probleme van die nuwe generasie op te los, namens gejaagde kinders, skoonkinders en kleinkinders.
Want hulle maak tyd.
Soos oumas en oupas mos maak.
11:45 in die oggend.
Tussen rotresiesreisende en rennende besig-heidsmense.
‘n Ouma met woelende peuters stap in. Ma koop kruideniers. Langs my gesels die tante en oom oor die artikel in die Huisgenoot. Tussen hardhorendheid en klantegeruis bly die storie tussen hulle hang, deels verlore maar tog gedeel.
Hier is jare se lewenservaring in hierdie coffeeshop.
En wat het hulle geleer?
Daar is geen haas nie, is my eerste waarneming. Daar is nie ongeduld nie, net hande wat uitstrek na mekaar by ‘n trapreëling. Gedeelde fotoverledes. ‘n Gemaklikheid met stiltes wat gesprekke betree. Geen oordeel of verwyt nie. Net opoffering, sonder kla. Blymoedig.
Soos oumas en oupas mos maak.
Daar is ook die regop stap ten spyte van kieries. ‘n Ander tipe regop. Regop met ‘n afwagting, sonder die uitdagendheid van die jeug. Een omie maak ‘n grappie met die kelnerin terwyl hy uitstap. Sy glimlag.
Ek moet bestel.
Iets met kaneel. Pannekoek. Om oumas en oupas te vier.
Omdat hulle tyd het in ‘n wegholwêreld.
Terwyl ek eet begin van hulle uitstap.
‘n Jongman stap vinnig in, reguit na sy wagtende tafelgenoot.
“Skuus ek’s laat”, sê hy.
Sy selfoon lui.
Ek kyk om my. Al die oumense is weg.
Sonder dat ek eers gesien het.
Soos oumas en oupas mos maak.

No comments: