Tuesday, October 24, 2006

Die Reisiger

Dit was ‘n klein dorpie. Op die pad tussen Bloemfontein en Kimberley. Die reisiger het gestop. Iets gesoek om sy innerlike te verfris. Daar was ‘n enkele kafee in die hoofstraat. Dit was 15:00. Die wind het liggies gewaai.
In die kafee was dit warm. Noord-Kaap warm. Voor die reisiger se oë het die gemeenskap se lief en leed ontvou. Die eienares het almal geken. Elke keer as iemand betaal het, het sy hulle by naam gegroet. Elke gesprek het die volgende persoon in die ry betrek. Die bekoring van die name en kleindorpse vriendskappe het die reisiger nie verbygegaan nie.
En toe is die tienerseun en sy ma voor in die ry. Die ma dra 2 pakkies. In die een hand ‘n sakkie met 2 tamaties. In die ander hand ‘n klein blokkie kaas. “Ons gaan pizza eet vanaand”.
Die kasregister lui. Die ma begin in haar beursie krap. Die tienerseun besef wat aangaan. Hy blaai vervaard deur ‘n tydskrif op die winkelrak. Skaam? Bang? Teleurgesteld in sy ma? Gekwes?
“Moenie kommer nie, ek skryf dit op.” Die gedeeltelike redding van die verleentheid kom van die eienares. Dis ook sy wat die gesprek verder voer.
“En wat hoor jy van hom?”
Die vraag hang in die lug. Die reisiger voel soos ‘n indringer in die ander se privaatsake.
“Hy en sy nuwe vrou het skynbaar ‘n babatjie. Hulle woon iewers aan die Rand”. Dis weer stil. Die eienares klik met haar tong.
Die tienerseun en sy ma stap uit.
Die reisiger betaal sy koeldrank.
Oppad by die dorp uit sien hy die tienerseun en sy ma in een van die dwarsstrate. In die seun se een hand swaai die sakkie met die tamaties en kaas. Sy ander hand hou sy ma se hand vas.
Vir die reisiger lyk dit kompleet asof hy sy ma dra.

Thursday, October 19, 2006

Waarom die lyfies maar die bed kan deel

Die slim boeke leer mens hoe om jou kind onafhanklik te maak. Ek en Arné sukkel. Veral met die geslapery. Los die kinders van babatyd af in hulle eie kamer. Hulle sal nie lank huil nie en dan is dit alles verby. Tjoef-tjaf en die kind is onafhanklik. So reken die boeke.
Aikôna Whêna. Daai kind sing in die middel van die nag soos ‘n idols deelnemer wat by die repetisies al uitval.
Nie ek of Arné kon dit ooit oor ons hart kry nie. Veral in die winter as mens nog weet jy moet later daardie baba gaan troos nie. En die ergste was die skuldgevoelens as ons dalk in die koue warm teen mekaar sou lê met die baba in ‘n ander kamer.
Ek weet ek is verkeerd.
Ek weet dit omdat Anienie wat nou al in graad 1 is, en Benno wat al 4 is steeds in ons kamer slaap. Darem op hulle eie beddens. En nou luister ek skelm na die gesprekke van die suksesvolle ouers. Baie van hulle het geslaag. Vir hulle haal ek my hoed af. Ernstig. Dit is ‘n kompliment.
Daar is ook die ander amper suksesvolles. Die kinders slaap in hulle eie kamers; en die ouers speel in die middel van die nag speletjies. Musical Beds. Hulle weet nie aldag in watter bed hulle gaan wakker word nie…want as baba skreeu, dan migreer hulle…en as die tweede enetjie kom word dit ‘n herwaartse, derwaartse somnambulistiese ekspedisie. (Vir die wat nie weet nie, ‘n somnambulis is iemand wat in sy slaap loop, - dit weet ek danksy dr Hans Koen se rottang). Maar ek weet ek mag nie ander mense se foute gebruik om my foute te regverdig nie. So ek sal plan moet maak.
Tot daardie dag.
Dit was net anderkant Dealesville. Ek was oppad huis-toe. Die motor het net eenvoudig begin verbygaan. Van voor af. Reg op my af.. Ek kon die kop-aan-kop botsing vermy, maar ek is van die pad af gestamp, binne in ‘n afvoersloot in. Die polisie moes my motor daar kom uithaal. Dit was net-net.
En daardie aand toe ek by die huis kom hou ek die twee lyfies en vir Arné vas. En toe welmenende ma’s weer praat oor onafhanklike kinders en aparte kamers, glimlag ek. Want vir my maak dit nie meer saak nie. Selfs al kom klouter een suutjies in die middel van die nag in die bed in.
Want die ou lyfies is ‘n voorreg. Lekker om vas te hou. Omdat ek nog kan. Omdat ek nog hier is.
En al is ek verkeerd, dink ek soms ek is reg.