Thursday, September 21, 2006

Ware rykdom is slap tjips en wors.

Dawie het in Wesselstraat gebly. So ‘n paar blokke van die skool af. Naby die Plaza kafee. Sy pa is jare gelede reeds oorlede. Toe Dawie in graad 1 was. Sy ma, Tannie Sannie, het by Bethlehem Skryfbehoeftes gewerk nadat Uniewinkels begin toemaak het. Ons twee was maats van Graad 2 af.
Dinsdae het ek in die dorp gebly vir CSV en Donderdae vir skaak. Dan het ons by Dawie se huis gaan eet. Chips en wors! Ek het geweet Dawie-hulle was skatryk. Enige iemand wat chips en wors kon eet – 2 keer ‘n week – moes ryk wees!
Naweke het Dawie by ons op die plaas kom kuier. Ons het bendevlae gehys, in die “grotte” (rotsoorhange) gespeel en met ‘n tou oor die rivier geswaai. Dawie was die buitelugseun. Ek sou eerder lees. Ek het die Famous Five reeks gelees, en Dawie het gesorg dat ons die avonture waarvan ek gelees het leef.
Ons plaas was, by terugskouing, klein, die huis oud en gedaan. Pa het by die Koöperasie gewerk en ma het kinders grootgemaak. Smiddae het ons met die bus huis-toe gery. Dawie het die plaas en die busritte geniet. Hy’t geglo ons was skatryk.
‘n Paar maande gelede kuier ek by Dawie. Hy woon nou in Klerksdorp. Tannie Sannie en my ma is al lankal oorlede. Onlangs ook Pa. Nou’s ons twee wees-grootmense wat moet grootmens-wees.
Laat aand vertel ek vir Dawie van die chips en wors. En dat ek gedink het hulle was skatryk. Hy dink weer terug aan die plaas wat so groot soos ‘n planeet was, want ons kon nog, soos die digter sê: “die wêreld in ‘n korreltjie sand sien”. Iewers langs die lewenspad het ons besef dat ons ouers nooit materiële gewin gehad het nie. Tannie Sannie was ‘n weduwee wat haar kinders deur die skool moes kry. Ma en pa het op een salaris vier kinders grootgemaak.
Dawie het skielik trane in sy oë. Ek kan nie onthou dat ek hom al ooit sien huil het nie. Nou is die trane daar –oor dit wat mooi is. Oor mooi herinneringe aan dapper ouers, wat twee kinders hulle drome gegee het.
Toe Dawie sy sakdoek uithaal weet ek, dit gaan bars gaan om weer so ryk te word soos ons was. Toe ons kinders was, sakgeld skaars. En ons verbeeldingswêreld grensloos.

Om Nemo te vind

Om Nemo te vind.
Toe Nemo se DVD uitkom staan ek voor in die ry. Ek ken die storie al agterkantvorentoe en voorkantagtertoe. Agterstevoor, ondestebo en sydelings. In die huis lyk dit soos Nemo-rif. Nemo plakkers, ‘n Nemo bal, Nemo hemde en Nemo speelgoed. Anien, die kleuter in die huis, is al wat nog die fliek gesien het. En ek kan nie wag om ook te sien nie. Toe die winkel oopmaak is ek daar : om Nemo te vind! (Finding Nemo!)
Benno, die tweejarige in die huis ken ook al vir “Mienou”. In elke winkelsentrum laat hy luidkeels weet: “Daar’s Mienou!” En dring aan daarop om dit te “hê”. Nou!. Al is dit die plakkaat wat adverteer.
Hoekom Nemo? Dit vind ek uit met die lees van die boek en die film. Dis ‘n wonderlike storie. Een wat kinders en groot kinders oor die wêreld aangegryp het. Oor Marlin wat sy seun gaan soek. Die oorversigtige Marlin. Toe Nemo “ontvoer” word na die tandarts se visbak moet hy sy vrese oorkom. En sy reisgenoot is nie dom nie, sy’s onnosel. Dubbel onnosele Dory. Maar Marlin moet uithou. Het ons nie almal maar soms koddige medereisigers nie!
Marlin se inspirasie vir sy reis is Nemo. Elkeen van ons het inspirasies vir die lewensreis. Drome, vriende, familie, ideale – dinge wat maak dat ons die grense van die gees en verstand strek om iets te verwesenlik. Inspirasie is die merkwaardigste ding!
Inspirasie laat ons meer doen as wat moontlik geblyk het, Inspirasie maak dat ons nie lewens van stille desperaatheid leef nie, maar lewens van wonderlike ontdekking. (Jammer vir die Amerikaanse digter).
Maar wat werklike inspirasie, nastreef en leef van drome doen is om van ons meer te maak as wat ons was voordat ons die reis aangepak het. Ons soek nie na geluk en drome nie, ons is besig om dit te kry – dis mos immers Finding Nemo, nie Searching for Nemo nie. Die implikasie is dat die reis belangrik is, die soeke, die strewe, die lewe. Die LEWE.
Soek jy geluk of vind jy dit. Dis alles woorde, maar onthou die taal wat jy praat is jou dade se kompas. Vandag wil ek nie weet wat jy soek nie, ek wil weet wat jy vind. Ek het Nemo gevind. Die storie. Die dvd. Die reis. In my hart. Hou op soek. Maak vind ‘n werkwoord. Ons is lank nie meer soekers na geluk nie, maar vinders van geluk. En nou is Shrek 2 hier. Nog ‘n reis. Nog ‘n wonderlike storie. Nou moet ek die roomys gaan koop. Benno soek dit. NOU!

Die Kunsgalery van jou gees

Die kunsgalery van die gees.
Die ding het met pa begin. En prentjies. Dit was een van daardie laat nag geselsies oor wat maak dat mens iets onthou en ander dinge vergeet. Toe vertel pa my van die drie prentjies wat hy nog nooit kon vergeet nie. Die kosbaarheid daarvan te eenvoudig om te deel, en die eenvoud te kosbaar om nie te deel nie.
Die eerste was ‘n ets van baie jare gelede toe hy met die “alkies” (alkoholiste) gewerk het. Dit was laat nag toe pa ‘n oproep kry. Hy moet gaan help. Een van die alkies het weer moeilikheid begin maak by die huis. Pa het aangetrek en na die betrokke huis gery. ‘n Klein dogtertjie het die deur oopgemaak. Haar woorde en gesiggie was die eerste van die prente wat pa lewenslank sou bybly: “Hier’s Oom Ben”. Met daardie drie woorde het dit gelyk of die wêreld van haar skouertjies gelig het. Die gesiggie het getuig van die wete dat alles nou reg sal wees …Wat ‘n reuse verantwoordelikheid, wat ‘n fantastiese kompliment.
Die tweede prentjie was van my boetie Jan. Pa-hulle het visgevang en die reën het geleidelik begin uitsak. Aan pa se lyn het ‘n wispelturige peuteraar van ‘n vis net die lyn nou en dan laat roer. Genoeg dat pa nie kon gaan skuiling soek nie. Hy wou die vis vang. Ma het ‘n kombers gebring en oor hom gegooi. En oor Jan. Jan het langs pa op ‘n klein stoeltjie gesit. Al die ander was al in die tent of motors, want die reën het nou al meer driftig geval. En toe kyk Jan op na pa. En daardie trots, daardie wete van “ek is by jou, en dis lekker” op Jan se gesig, was die tweede skildery wat pa in sy hartkamer bewaar het. ‘n Oomblik van ewigheid.
Die derde skildery is een wat baie van ons ken. Pa het laat aand tuisgekom. Jan was in die bed en het gelê en wag dat pa die kombers onder sy ken moes kom trek. Want dit was winter in Bethlehem. Toe pa instap en die kombers optrek het Jan se gesig getuig van tevredenheid en knusheid. Geborgenheid. Pa is tuis.
Die drie prente was deel van ‘n groot groep herinneringe, maar wat my verstom het was dat pa hierdie drie eksklusief gebêre het, terwyl daar soveel ander oomblikke soos verjaarsdae, gradeplegtighede, funksies ens was.
Ek dink nog baie oor die drie prentjies. Maar wat ek weet is dat al drie getuig het van kere toe pa vir iemand anders iets beteken het, vir iemand “die warmte van menswees” verskaf het. Hy het nooit baie oor sy prestasies gepraat nie, en hierdie was een laatnaggesprek, oor, waarskynlik sy grootste prestasie – die gawe van deel, uit die gees. Die een prestasie waarvan ons vandag so min weet.
Twee vrae: Geniet ons nog die prentjies wat ons dag vir dag skep, en deel ons nog geesgawes?
Die wonder van elke dag is dat ons nooit weet wat ons eendag gaan onthou nie. En waarvoor ons onthou gaan word nie. Maar miskien moet ons onthou om mooi prentjies te versamel in die skatkamers van ons harte, want daardie prentjies is ons oases op die lewensreis, en ons kan hulle besoek net wanneer ons wil. Daar is baie hartseer, leed en smart prentjies, hulle verdien hulle plekke en aandag. Dis terapeuties nodig, en belangrik vir balans. Maar die prente wat ons dag vir dag in die kunsgalery van ons harte saamdra definieer ons, daarom moet hulle mooi wees, inspirerend, mededeelsaam – en net ons eie, om dalk eendag met iemand anders te deel. Laat aand, as padkos vir hulle reis Toebroodjies vir hulle harte …-

Waar is die vonkel heen?

Waar is die vonkel heen?
Hulle het nog die vonk. Al weet ek dit bloot omdat hulle saggies agter hulle hande lag as hulle stout e-posse ontvang en die agtergrond van die rekenaarskerms nog getuig van uitspattige hormone.
Maar waar is die vonkel?
Hulle jaag dag vir dag met blink gedoelwitte motors agter nuwe korporatief gegenereerde drome aan. Hulle fluister agter hulle hande in vergaderings. Hulle dra duur dasse en tassies vol beplanning, syfers, leiding, organisering en beheer.
Maar hulle lewe lewens van stille desperaatheid.
Want die vonkel is weg, die lag oneg, die lewe gemaak lekker, maar sleg. Want ek sien hulle oë. Daar lewe sterwende geeste agter hulle oë. Daar is verskuilde kinders, diep weggebêre in hulle oë – ver weg, onhelder, dof, uit fokus -: Wagtende kinders.
Hulle wag vir hartaanvalle.
Die jaagtog is hulle lewe, die adrenalien hulle skemerkelkies en die salaris hulle dapper offerandes aan hulle gesinne. Hulle is gebalanseerde 21e eeuse mense – sonder enige balans. Hulle kyk na hulle kinders en wonder waar dié die energie vandaan kry om aanhoudend te speel en te lag. Hulle raas oor onnutsigheid.
En hulle maak my bang.
Want ek is dikwels een van hulle…
Maar ek weet daar is nog plek. Van stilte en sterre. Regte, egte sterre, nie Hollywood sterre of aardse sterre nie. Nee.
Hemelse sterre: Wat vonkel.

Die lewe se specials is special!

Speelgoeduitverkoping!
Toe ek van al die specials hoor, ry ek dadelik.
Ek hou van speelgoed. Ek hou van my kinders se gesigte as hulle geskenke oopmaak. Maar meer nog, ek hou daarvan om speelgoed te koop wat ek nog altyd begeer het.
Die dag gaan kom wat ek nie meer werk nie.
EN DAN gaan ek met my kinders se speelgoed speel. (Want dan is hulle groot, en sal by die werk wees).
Dalk eers in die ouetehuis.
So ek moet maar goeters koop wat die toets van tyd en kleuterjare sal deurstaan.
En daar staan dit op die rak.
Die droom van my kindertyd.
Teen 50% Afslag.
‘n MECCANO stel! Een van daai wat my pa nooit kon bekostig nie. En selfs teen 50% afslag wonder ek of ek dit kan bekostig.
En die boks kyk vir my. En ek vir die boks.
En ek maak somme. Minder eet hierdie maand en dalk spaar op die luukses (soos brood en melk). Daar’s hoeka ‘n special op sopbene.
Elke aankoop is emosioneel. Mens rasionaliseer later. Ek staan nog so, toe word ek die slagoffer van my emosies.
Tuis gekom, kan ek nie wag nie.
Ek maak die stel oop en roep die kinders. “Kom speel saam met pappa”.
En hier begin my moeilikheid. Ek het in die laerskool kartonwerk gedruip, en in die hoërskool het seuns hardop vir my gebid as die onderwysers na ons handewerk kyk…
(Daar’s baie slaangoed in ‘n houtwerkklas, en my houtwerk was altyd rommelwerk. Ontstellend vir die esteties-passerronde en gewinkelhaakte afgeronde psiges van my houtwerkonderwysers…)
En hier sit ek. Met ‘n MECCANO stel. En ‘n boekie.
Na ‘n uur het die kinders belang verloor. (Niks het nog enige vorm nie. Daar is 4 skroefies vas – en ek praat van die moertjies. Maar sonder die verkleining!)
My droom is ‘n nagmerrie.
Ek sweet.
Dis toe dat Arné (vroutjie) instap. Sy kyk na die spul. Neem die boekie en begin bou. 5 Minute later is daar ‘n pretpark.
Ek kan dit nie glo nie.
En ek weet sommer, dis oor ek nie ‘n MECCANO stel gehad het toe ek klein was nie. Dis waar my twee linkerhande vandaan kom. Ek noem dit vir Arné as my enigste verweer.
Ek verwonder my aan die pretpark. Die kinders kom terug Hulle wil ook nou speel.
Daardie aand speel ons almal tot laat MECCANO – …
Speelgoed kom op specials, maar dis die saamspeel wat dit special maak.
En dis lekker.
Want as ek in die ouetehuis kom moet die goed klaar gebou wees…Sodat ek kan terugkyk na alles wat ons gebou en gespeel het.
Want dit is waarvoor oud wees daar is.
Dis ‘n tyd vir terugkyk…
Na die lewe se specials!

Om by Oupas en Oumas te leer

Daar is ‘n oorvloed van plooie en valstandglimlagte in hierdie coffee shop. Dis ‘n lang pad Upington toe, en ek het eers hier ietsie kom kry vir innerlike versterking.
In Kimberley.
Dis 11:45 en die plek is vol kromgetrekte oupas en oumas wat hulle beursies of vasklem, of wonder waar hulle dit gesit het. By die tafel langs my lees een egpaar saam die Huisgenoot – grootogig oor die dinge van die wêreld.
Twee waardige vriendinne met pasgedoende hare kyk vonkelogig na foto’s van kinders en kleinkinders. Later is hulle ernstig. Probeer om probleme van die nuwe generasie op te los, namens gejaagde kinders, skoonkinders en kleinkinders.
Want hulle maak tyd.
Soos oumas en oupas mos maak.
11:45 in die oggend.
Tussen rotresiesreisende en rennende besig-heidsmense.
‘n Ouma met woelende peuters stap in. Ma koop kruideniers. Langs my gesels die tante en oom oor die artikel in die Huisgenoot. Tussen hardhorendheid en klantegeruis bly die storie tussen hulle hang, deels verlore maar tog gedeel.
Hier is jare se lewenservaring in hierdie coffeeshop.
En wat het hulle geleer?
Daar is geen haas nie, is my eerste waarneming. Daar is nie ongeduld nie, net hande wat uitstrek na mekaar by ‘n trapreëling. Gedeelde fotoverledes. ‘n Gemaklikheid met stiltes wat gesprekke betree. Geen oordeel of verwyt nie. Net opoffering, sonder kla. Blymoedig.
Soos oumas en oupas mos maak.
Daar is ook die regop stap ten spyte van kieries. ‘n Ander tipe regop. Regop met ‘n afwagting, sonder die uitdagendheid van die jeug. Een omie maak ‘n grappie met die kelnerin terwyl hy uitstap. Sy glimlag.
Ek moet bestel.
Iets met kaneel. Pannekoek. Om oumas en oupas te vier.
Omdat hulle tyd het in ‘n wegholwêreld.
Terwyl ek eet begin van hulle uitstap.
‘n Jongman stap vinnig in, reguit na sy wagtende tafelgenoot.
“Skuus ek’s laat”, sê hy.
Sy selfoon lui.
Ek kyk om my. Al die oumense is weg.
Sonder dat ek eers gesien het.
Soos oumas en oupas mos maak.

Liewe Jesus gee altyd ons goed terug


Ek was een van daardie mense. Vyftig teorieë oor kinders grootmaak en geen kinders nie. En my boeties en sussie kon nie wag dat my kinders kom nie…
Nou het ek twee kinders en geen teorieë nie. Net vrae. My eie, en my kinders s’n. Myne gaan meeste oor hoe om hulle s’n te antwoord.
Vandat die kinders gebore is lees ek: Living and Loving, Dr Spock, Jan van Elfen, Raising Perfect Children, ens ens.
Ek spoedlees om by te bly.
En wanneer die geleentheid kom om hierdie slim teorieë toe te pas, is die teorie of vergete, of is die geleentheid nie reg nie. Ek wens soms ek kon soos die wonderlike Hollywood draaiboeke die regte droomantwoord voorsien en dan wegry teen die sonsondergang. Maar so maklik is dit nie.
Soos die dood.
Daar is al baie geskryf oor hoe om kleuters oor die dood in te lig. Maar hulle vrae kom mos nie net nadat mens die artikel gelees het nie. Dit kom as jy haastig oppad is werk toe, en hulle vinnig by die kleuterskool moet aflaai, en jy allerhande vrae het oor jou eie dag.
Pappa, hoekom gaan mense dood?
Uit die bloute.
En nou begin ek antwoorde soek, maar terwyl ek soek…
Waar is Setla nou?
(Setla is een van die honde wat onlangs dood is – ‘n storie op sy eie).
Ek antwoord maar die beste wat ek kan:
By Liewe Jesus.
Maar sy gee nie bes nie.
En waar is Oupa?
Ek gee maar dieselfde antwoord, dit lyk tog of dit werk…
By Liewe Jesus.
Sy is ‘n kort rukkie stil, en dan:
Nou wanneer gee Liewe Jesus ons goed terug?
Skaakmat.
Ek kan nie eers onthou wat ek geantwoord het nie. Kleuters vrae goeie vrae. En ek soek antwoorde. En toe, verlede week, is dit weer sulke tyd. Een van die maatjies by die kleuterskool se oupa is dood. En ons is oppad huis toe.
Pappaaa…?
As die a op die einde so lank word, weet ek, hier kom ‘n weldeurdagte vraag.
Ja?
Hoe is Charne’tjie se oupa dood?
Nou weet ek, ek moet versigtig antwoord. Sê ek dit was sy hart, dan wonder sy hoekom mens se hart, wat dan goed is so iets doen. Sê ek hy was siek, wil sy weet hoekom hulle hom nie dokter toe gevat het nie. (Ons sê dan altyd sy moet dokter toe gaan as sy siek is) En ek wil nie my kind se vertroue in die genesende vermoë van dokters skend nie. En ek dink. Want ek is mos nou al ‘n slim ouer. Wyd gelees. Ek maak gereed om ‘n antwoord te verskaf wat tot die minste opvolgvrae sal lei.
Dis toe dat Benno, haar boetie (3 volle jare oud), met die antwoord kom. Weldeurdag.
Uit sy karstoeltjie:
Anienie, dit was seker maar ‘n “dinosaur” of ‘n monster of iets.
Ek wag.
Stilte.
Sy is tevrede met die antwoord.
En nou?
Nou wonder ek. Oor lewe, en oor dood, maar meer oor die wonderlike onskuld van kinders. En hoe ek die seer kan weghou solank ek kan. En die valle kan keer. En hulle steeds kan help groei en leer. En alles wat mooi is gee, en oor hoe wys my eie ouers was.
En of Liewe Jesus nie lankal ons goed teruggegee het nie….

Dis lekker om te onthou

Elke keer as ek in die spieël kyk wag ek vir ‘n agtienjarige om terug te kyk. Dis hoe oud ek voel. En ek ken nie die man wat daar voor my staan nie.
Hy’t sulke grys kolle in sy hare soos Charlie Weir. En so ietsie om sy maag soos Jimmy Abbot.
Maar ten spyte van sy voorkoms het hy meer lekker herinneringe as enige 18 jarige.
Wie sal dan ooit die High Street Book Exchange in Bethlehem vergeet? Daar waar sulke lang groen sepe tussen al die tweedehandse boeke gestaan het. Dit was seep en boeke. Die reuk van seep en die koerantagtige gevoel van die Ruiter in Swart, Arend van die Oerwoud, Kid die Swerwer en al die ander lekker boeke. Party mense het gesê die slapbandboeke was onheilig. Pa het volstaan: Laat die kind lees. En so het ek en Pa menige Saterdag gaan boeke koop. Pa was lief vir Alex Hailey en The Executioner. Ek was in my eie verbeelding Ben, die Ruiter in Swart. Die tannie het my altyd afslag gegee as ek alleen gaan koop het. Sy’t seker ook maar gedink: Laat die kind lees.
Net om die hoek was Bethlehem Restaurant waar ons Sondae na kerk kon gaan lekkers koop. Ons kon self betaal en die tannie het ons van kleingeld geleer. Sy moes elke sent aftel en geduldig weer tel as ons nie saamgestem het nie. Sy was elke keer reg. Ons het ook geweet as ons ma of pa iewers in die dorp misgeloop het tydens ‘n inkopiejagtog dan kon ons by Bethlehem Restaurant gaan wag.
By K.Oosthuizen haarkappers is ons hare borselkop geskeer. Die voorste deel van die winkel het die heerlikste verskeidenheid speelgoed gehad. Ook rockets en crackers vir nuwejaar. Later is hulle naam verander na Smokers Mecca. Die tannie was altyd gaaf, en mens kon enige geskenk daar kry.
Dan was daar natuurlik die ou biblioeek, net oorkant die munisipale swembad. Die Bib het sulke swaar deure gehad. En die kinderafdeling was heel agter. Daar kon mens Huppelkind, Fritz Deelman en die Jasper stories uitneem. En ses sent se boete betaal as dit laat was!
Daar was ook oom Gary Kahts se sportwinkel. Hy’t my eenkeer voorgeskiet toe ek nie ‘n visvangkatrol kon koop nie. Ek moes elke maand R1, 50 gaan betaal, vir omtrent ses maande. Ek glo nie hy het ooit boek gehou nie. Maar hy het ‘n seuntjie se drome help waar maak. En meer nog hy het my geleer dat dit beter is om ‘n mens te vertrou as om hom nie te vertrou nie.
Esquire het daardie tyd aan oom Ian Bradshaw en sy vrou, Tannie Zandra, behoort. Desembervakansies het ek en Dawie daar gewerk. En elke kee as dit kersfees word kon ons elkeen ‘n hemp kies. Ek het een jaar so Hawai hemp gekry soos Magnum op tv. Ma het gedink dis flashy, ek het geweet dis cool. Ons was seker albei reg.
Oom Ian het my gehelp om my eerste kamera te koop en ‘n lang aand spandeer om my te leer van sluiterspoed en lig. Daarna het hy my vordering by die kameraklub fyn dopgehou. Vandag nog neem ek graag foto’s en baseer baie van my werk daarop. En nou en dan salueer ek oom Ian wat die tyd gevind het om ‘n seun te help leer van die wonder daarvan om met lig te kan verf.
Naby Goble park was daar ‘n kine! Daar het ons gaan kyk na Sybil Coetzee en Eckhard Rabe in Springbok. Daar was meer Afrikaanse flieks as vandag. Ons het van die Globe gepraat as ons daarheen gegaan het. Soms was daar Yo-Yo vertonings of iemand wat baie goed dingbat kon speel. Die vermaak was oneindig. Die ure het minute geword, en die minute sekondes.
En na ‘n paar sekondes wat ewig wou duur, staan die man voor die spieël.
En hy lyk soos Charlie Weir in sy hare, soos Jimmy Abbot om sy maag.
Maar hy glimlag as hy terugdink aan dae toe besigheid nog oor omgee gegaan het.
En hy glimlag
Soos Mona Lisa.

Die Meester maak kiekies van ons...

“Môre Meester”
Hy’s onmiddellik langs my motor. Beswaarlik 6 jaar oud, maar bekkig. Ek sien uit na die gesprek, soos elke keer.
“Hoelykit meester, ek’s hongerig. Wat van ek sê virrie meester ‘n gediggie vannie Spinnekop, dan gee die Meester my so titseltjie vir ‘n ietsie te peusel?”
Ek stop graag hier.
Griekwastad.
Die seunjies bedel nie bakhand nie. Hulle kom met met gediggies. Kompleet met handgebare en wringende gesiggies.
Toe hy sien ek stel belang, staan sy vriend stowwerig met sy draadkar nader.
“Ek ken ôk ene, Meester, van Meerkat, Wil Meester hom hoor? Hy’s ‘n mooie versie?”
Hulle gesels nou deurmekaar.
“Daas nog versies, Meester. Vannie jakkalsgat ennie boer se vrou. Willie meester hoor?”
Hulle skoene is flenters, maar die gesiggies blink in die warm Noord Kaap son. Daar staan swaarkry geskryf diep in hulle oë, maar, vir nou, vonkel dit. Hulle kan mos hulle talente deel.
Ek haal my kamera uit. Terwyl ek hier is kan ek maar bietjie tyd maak vir foto’s. Hulle draf met die draadkarre en speel model. Geduldig en opgewonde.
Die glimlaggies is haasbek maar blink.
“Die meester maak kiekies van ons.”
Ek vra hulle name.
Die kleinste outjie kom staan reg voor my. Hy kyk my reguit in die oë. Daar is ‘n trots in sy houding en ‘n fermheid in sy stem.
“My naam is Daniël Leeuw, Meester.”
Een sin.
Waarvan die klem helder en duidelik op sy naam rus.
En in daardie sin, en in daardie trots regop houding, is ‘n egtheid, ‘n selfvertroue, wat ek nie verwag het nie.
En hier in die stowwerige straat, tussen stukkende skoene, verslae straatbrakke en blink draadkarwiele is dit mooier as die gedigte.
Want hy is trots op wie hy is, ten spyte van sy omstandighede.
En ek weet dis wat van ons almal verwag word. Om trots te wees op wie ons is, waar ons vandaan kom, om ons talente te deel, en reisigers op die lewenspad te verkwik.
Want die Meester maak kiekies van ons.

Die Skoenlappers raak weg

Die skoenlappers raak weg.
Ek is bang vir wat ons doen. Met onsself. Ons praat onsself besig om ons werk te behou, definieer onsself moeg om ons rus te verdien, praat onsself suksesvol om materialisme te regverdig.
Maar ons word nie stil nie. Baie stil. Lank stil. Kalm stil. Bang stil. Dood-stil…Skoenlappervlerkfladderhoor-stil. Ons doen dit nie.
En nou hoor ons dit nie. Die skoenlapperfladdervlerkgeluide van ons drome, wat huiwer bo ons oë, en wegraak in ons versnelde visies, versmoor word in ons beperkende missies – toegevou word in die binneblaaie van gejaagde lewensboeke. Om daar fyngepars te word en dan hartkloploos die tema van ons lewensreis probeer beïnvloed. Sonder hoop.
Maar ons hou aan met ons doendinge en dinge doen. Die moets en makabere verpligtinge. Met die hoop op EENDAG. Maar EENDAG is dalk net een dag. En eendag is ‘n gevaarlike dag, want dis ‘n dag van terugkyk.
Eendag was daar…
En dan is eendag weg. Saam met die wind. Versonke in die harspan van tyd. En daar sit jy dan met eendag in jou geplooide hande. Eendag kruip weg in ‘n oumenstehuis met klein kamertjies, die lewenspols van nou – die verkalkende are van dan.
Ek is soms bang vir eendag.
Want die storie van eendag word vandag geskryf. En ek sien niemand met ‘n klein kinderspeelgoednetjie nie. ‘n Sommer net net. Soek die net gerus – dit lê in stilte.
‘n Net om die skoenlapperdrome van vandag vir eendag te vang.

Liewe Skelms...

Liewe Skelms
Ek weet nie wie julle is nie. Ek weet net julle is ‘n spul lafaards. Uiterste lafaards wat meehelp om ons land in ‘n duister poel van somberheid te laat versink.
Om by ‘n kleuterskool in te breek. In die middel van die nag.
Ons moet seker dankbaar wees dat julle dit nie met rewolwers in die middel van die dag gedoen het nie. Julle het seker nie daaraan gedink nie, anders sou julle.
Dis nie julle patetiese diefstal van die cd speler waarop die kleuters vir hulle skoolkonsert geoefen het wat my onstel nie. Ook nie die geldjies wat die juffrouens die vorige week ingevorder het vir die skooltjie se jaarafsluiting nie. Nee, dis baie meer.
Dis die feit dat julle ons juffrouens nou verplig het om 3-4 jarige kinders te vertel van misdaad. Om hulle in vuilbemorste, speelgoedbestrooide, stukkendgerukte klaskamers te verplig om onskuldige kindergemoedjies van julle agterbakse lafhartige bestaan te verwittig. Dis vir hardwerkende ouers om nou in die middel van die nag weer op te staan om te gaan kyk of die deure gesluit is, want ‘n kleuter kry nagmerries oor die skelms. Dis omdat julle die misrabele misdaadspiraal nou op ons kinders afdwing – dis wat my onstel.
Miskien luister julle vanaand sonder enige skuldgevoelens na Jan De Wet en die Loflaaities. Ek kan al sien hoe julle die kindersang as gemors afmaak en julle eie gemors in die CD speler druk. Ek hoop julle geniet die gemors. Julle verdien dit.
En dan wil ek net vir julle sê, - terwyl julle smalend sit en julle verkneuter in julle geroofde besittings: Die kleuterskooljuffrouens se vergewensgesindheid en die manier waarop hulle die diefstal/rooftog/lafhartige plundery hanteer het, bewys julle verkeerd. Daar is nog mense met naasteliefde in hierdie land. Daar is nog mense wat verstaan dat opbou meer beteken as afbreek. Ja, ironies genoeg, ten spyte van julle lafhartige oorwinning is julle eintlik die verloorders.
En julle sal aanhou verloor, want daar is niemand wat die stryd kan wen teen mense wat werklik omgee nie.
Vandag huldig ek elke onderwyser in die land wat ten spyte van die allemintige oormag teen hulle, die stryd om liefdevolle, vredeliewende en gebalanseerde kinders die land in te stuur, aanhou voer. Want soos Jan de Wet en die loflaaities hulle noem:
Hulle is meer as net juffrouens en menere.
Hulle is Jesus se soldaatjies, Ja Meneer!

Kastele bou is moeilik

Dit is nie maklik om kastele te bou nie. Veral nie as mens probeer verneuk met die bouery nie. Dit het ek Vrydagaand agtergekom toe Benno my vra om saam met hom ‘n blokkieskasteel te bou.
Tjop-tjop, het ek gedink en langs hom gaan lê met die blokkies reeds versprei op die vloer. Sulke lego tipe blokkies wat inmekaar druk. Na 5 minute het ek die hele spulletjie halfpad klaar, toe die moeilikheid begin. Ek was redelik ongeërg met die pak van die eerste blokkies, en skielik het die kasteel se mure begin kantel. Alkante toe. Benno het niks gesê nie. My net met daardie vierjarige ogies aangekyk wat sê: “Ja, toenou, sorteer die gemors uit, jy het mos gedink dis maklik…”
Dit het my gekos alles afbreek en voor begin. Hierdie keer was ek slimmer as tevore. Na stewige fondamente bou ek toe sommer weer met die stukke mure wat ek pas afgebreek het. Hier en daar was ‘n gaatjie in die kasteel, waar die klaargemaakte mure nie lekker ingepas het nie. En sommer fluit-fluit is ek by die halfpadmerk verby. Net toe ek begin gloei van trots oor my bouvernuf begin die gaatjievensters lol. Die mure tuimel weer in. Benno sug. En ja, kleuters is sommer reguit:
“Dom Pappa!”
“Hei, met wie dink jy praat jy”, ek moet darem my dissipline ook handhaaf.
“Met jou.”
Ek swyg maar, want op daardie oomblik tuimel die hele kasteel weer in mekaar. Benno sug en ek soek verskoning:
“Maak toe die venster, die wind waai die kasteel om…”
“Die venster is toe.”
Die derde keer neem ek my tyd. Ek haal al die reeds geboude mure uitmekaar. Plaas hulle stukkie vir stukkie in posisie bo die stewige fondament. Dis tydsaam maar deeglik. Weldrae staan die kasteel. Benno is tjoepstil. Ek dog eers dis in ongeloof. Toe sien ek hy het aan die slaap geraak!
Ek dra hom saggies bed toe. En in die Bybel lees ek van die wyse man wat sy huis op die rots bou. En ek verstaan weer dat die Meester die fondament is waarop ons die kastele bou wat ons lewens noem. Die fondament is die basis, en elke dag is nog ‘n blokkie. Die bouwerk is in ons hande…
En ek weet my kasteel het maar ‘n paar krake en gaatjievensters, maar dis een kasteel waar die fondament reeds daarvoor voorsiening gemaak het.
Jare gelede. Op ‘n houtkruis.

Die Storiediewe

Eendag lank, lank gelede, in ‘n land ver, ver hiervandaan was daar ‘n storie. Die storie was jou storie. Dit was ook my storie. Om die waarheid te sê, dit was ons almal se storie.
Ons was die kinders van die storie, die karakters wat die storie gemaak het. En die storie was mooi, want ons het die storie moedig betree, as ridders en prinsesse.
In die eerste hoofstuk was ons totaal afhanklik. Ons was sonder tande en kon nie eens kruip nie, praat nie eens van loop nie. En die avontuur het begin.
Na vele maande van kopstamp, val, siek wees, seerkry, herstel en weer val, het ons die toppunt van ons kreatiwiteit bereik. Ons was so geïntereseerd om die wêreld te verken, dat ons Peuters genoem is. Ons was op die kruin van ons koningryk. Ons het gelag, en ja ook gehuil, wanneer ons so gevoel het.
Ons storie was mooi.
En toe kom die Storiediewe. En hulle kom steel ons mooi stories. Ons het ernstig en haastig geword. Wanneer ons speel, het ons gespeel om te wen. Wanneer ons werk, het ons gewerk om onsself te bewys. En wanneer ons bou, het ons meer mure as vensters gebou. Veral tussen mekaar.
Dit was alles deel van die meesterplan van die storiediewe. Hulle het meegebring dat ons al minder gelag het, weinig gehuil het, en ‘n nuwe maatjie gekry het.
Maatjie se naam was Stres. Maatjie het hom voorgedoen as verskaffer van energie, ,maar maatjie was ook besig om ‘n rekening op te stel wat ons weldrae sou moes vereffen. Maatjie het ons vertel dat daar min tyd was, maar tyd het nooit verander nie. Elke dag het steeds 24 uur gehad. Maatjie het aardse skatte as beloning aangebied vir dié wat saam met hom gegaan het. En eendag kom Maatjie en steel die gesondheid uit ons storie. Ons het nooit geweet dat hy elke dag ‘n stukkie wegdra nie!
En dan onthou ons dat ons nie met die verkeerde Maatjies moet speel nie.
Maar dan is dit te laat.
As jy dink iemand is besig om jou storie te steel. Gaan gerus vanaand en steel hom terug. Dis makliker as wat jy dink.
Want ons is die diewe van ons eie stories.