Thursday, July 05, 2007

Julio se pa se treinstel

Julio se pa het al begin planne maak vir sy aftrede. Toe gebeur die motorongeluk. Opeens was aftrede nie meer iets om na uit te sien nie. Dit was ‘n werklikheid. Medies ongeskik. En Julio se pa het begin twyfel aan homself. Hy was nie meer die broodwinner nie. Daar was nie sin in sy dag tot dag bestaan te vinde nie. Hy was afhanklik, en ja, selfs moedeloos.
Julio se ma moes ‘n plan maak met haar man. Die donker maalkolk van depressie het hom al dieper ingetrek. En sy moes die proses omkeer. Na lang gesprekke en omgedraaide sente besluit sy dat ‘n oorsese reis net die regte ding is. Die kaartjies is gekoop en die datum van vertrek het al nader gekom.
En toe besluit Julio se pa hy wil nie meer gaan nie. Hy hou nie van vlieg nie, vreemde lande staan hom nie aan nie. Vir soveel jare het hy ander se planne help uitvoer. Genoeg was genoeg. Hy wou tuisbly.
Julio se ma was slim genoeg om nie te karring nie. Maar sy het oor een ding voet by stuk gehou. Sy gaan geld spandeer, een van die familie sou saam met haar reis, maar in ruil daarvoor moes hy ook iets doen waarvan hy hou. Sy sou te skuldig voel om die enigste een te wees wat ‘n groot bedrag van sy pensioenuitbetaling gebruik. Dit was immers sy beloning vir jare se werk.
Na lang oorreding en laatnaggesprekke besluit Julio se pa toe op iets om te koop. As kind wou hy bittergraag ‘n treinstel hê. Sy ouers kon dit egter nooit bekostig nie. Nou was daar net een droom om te verwesenlik: Die Treinstel.
En toe gaan koop hy een. ‘n Duur een. Die ekwivalent van die koste van sy vliegtuigkaartjie. Almal het gewonder oor die aankoop…maar, soos ek mos sê – dit was sy beloning. Hy kon hierdie keer kies wat hy wou doen…
So begin Julio se pa se tweede lewe. Die treinstel het weer sy belangstelling wakker gemaak. Vriende het kom kuier. Stasies is noukeurig gebou en perronne aanmekaargesit. Julio se pa het weer begin lag. Die vonkel was terug in sy oë. Vroegoggend het hy nie lam in die bed bly lê nie, hy het gaan stap, planne gemaak, selfs weer dorp toe gegaan. Daar was altyd nog ‘n stasie, nog ‘n perron…nog passasiers wat kom deel word het van sy lewe.
Die hele gesin het die energie geniet.
Julio het my die storie vertel terwyl ons een oggend op die plaas stap. Teen die einde van die storie stop Julio in sy spore. Hy bly lank stil. Ek weet nie of hy emosioneel of filosofies is nie, maar ek wag. Hy draai na my en vra:
Het jy al jou treinstel in die lewe gevind?
En dit, liewe leser, is al wat ek jou vandag wil vra.

Benno, die Duiwel en die Blou Bulle

Ek is nie die wêreld se grootste rugbyspeler nie. Om die waarheid te sê, my loopbaan het op Voortrekker se rugbyveld ‘n yslike knou gekry toe ‘n halfblinde Meneer my in die stutposisie gekies het tydens ‘n oefening. Nou daardie tyd was ek ‘n paar borde kos agter. Vandag is ek ‘n paar borde kos voor. Die sielkundige oorsaak dalk nog vasgevang in die merke wat my tande daardie dag na elke skrumoefening gelaat het. Dit was ál weerstand wat my graatagtige liggaam gehad het – tande in die grond.
Ten spyte van my verwronge en tragiese rugbyverlede poog ek tog om te ondersteun waar en wanneer ek kan. En so was dit dan na vele jare die afgelope twee jaar tyd vir die Cheetahs om in die finaal teen die Blou Bulle te speel. Die hele gesin was betrokke by die ondersteuningsgroep. Skoonma wou selfs die katte oranje verf – maar daarvoor het ons ‘n stokkie gesteek. ‘n Cheetah is ‘n Cheetah, en ‘n kat is ‘n kat. Skoonma het grommig haar plan laat vaar, maar elke nou en dan het die kinders gekla dat ouma vreeslik hongerig lyk as hulle besig is om met die oranje waterverf of potlode in te kleur.
Die effek op die kinders het egter nie by skoonma gebly nie. Iewers het ek en Arné sowel as suster Lutje en swaer Theo se entoesiasme deurgeskemer.
En verlede week het ek eers die impak daarvan verstaan.
Daar by Sunnyside verval Benno toe in die rol van hoofdierebeskermer. Die kinders is nog besig om krappe te vang toe hy met sy vyfjarige kleuterskoolwysheid daar aankom. Terwyl ‘n krap nog hang aan ‘n stuk tou, laat waai hy van die kant af:
“Haai, julle moet nie die diere seermaak nie.”
Sy woorde val op dowe ore, die kinders speel heerlik, Anienie inkluis. Benno besef hy sal veel ernstiger moet wees.
“Daai is Liewe Jesus se diertjies. Moenie hulle seermaak nie.”
Steeds speel die kinders voort. Niemand steur hulle nie, hulle maak immers nie eers regtig die krappe seer nie, so die borselkopseuntjie op die oewer se pleidooie raak hulle nie regtig nie.
Benno probeer nou die kleuterskooljuffrou se tegniek:
“Is julle Liewe Jesus se kinders?”
Steeds geen reaksie nie. Hy moet nou artilleriewoorde gaan soek. Woorde wat hulle aandag sal trek.
“Hei, is julle die Duiwel se kinders?”
Dis in sy opinie omtrent die skokkendste aantyging wat hy kan maak. Steeds geen reaksie nie, die spul speel so lekker hulle sien hom nie eers nie.
En toe haal hy die ergste van ergste skoktegniek uit sy woordarsenaal.
“Skreeu julle vir die Blou Bulle?”
Die woorde het oor die water weerklink. Ook die gelag van die grootmense. Ek het geweet dat daar baie terreine is waar ek meer entoesiasties sal moet wees oor wat reg en wat verkeerd is. Ek sal moet werk aan prioriteite en waardes – soos elke ouer maar moet doen. En ek sien uit daarna om al hierdie dinge met my kinders te deel.
Solank as wat hulle net sal aanhou om op te staan vir die regte van al Liewe Jesus se kindertjies – dierekinders of mensekinders.
Want dit is waarvoor ons hier is!
igno@intekom.co.za

Sjokolade op vadersdag

Baie mense glo nie in vadersdag nie. Dit word as kommersieel afgemaak. Soos Valentynsdag is dit meer van ‘n verkoopsfoefie as iets anders. Of is dit?
Hierdie jaar het ek weer geleer dat vadersdag is wat mens daarvan maak. Reeds in die week voor vadersdag het Benno by die skool ‘n geheime persentjie gemaak. Vir die res van die week het hy uitgesien om dit vir my te gee. Elke oggend as hy wakker word wou hy weet: “Is dit al vaardersdag?”
Intussen het Arné vir Anienie geneem om te gaan biltong koop vir die dag. “Omdat pappa van biltong hou, en omdat ons vir hom lief is.”
En die opgewondenheid het gebou. Want in Benno se pakkie was ‘n sjokolade. Een van sy gunsteling lekkernye. En Anienie is self baie lief vir biltong. Sondagoggend breek vadersdag aan. Toe Benno dit hoor skree hy kliphard vir my: “Hou jou oë toe!” En hy hardloop om sy geskenk te gaan haal. Anienie is met deurmekaarhare agterna. Arné moet haastig gaan help.
Hulle kom na die kamer met hulle geskenkies. Twee vonkeloogkinders wat elkeen graag wil deel. En so vind ek my hele gesin Sondagoggend saam in die bed. Anienie kou verwoed aan die biltong. Benno se sjokolade maak strepe oor die kussingslope. Arné laat alles maar begaan en wys vriendelik Benno se offer van sjokolade vir ontbyt van die hand.
Dis die lekker van Vadersdag. Nie die kommersiële deel daarvan nie. Maar die feit dat dit my gesin help om herinneringe te skep. Dit gaan immers nie oor die ontvang nie, maar oor die gee. En elke keer as jy gee ontvang jy.
Vra maar vir Benno.
Sjokolade is immers sy gunsteling!