Tuesday, January 02, 2007

Kersfeeswense

Hierdie kersseisoen het ek ‘n paar wense. Wense wat ek graag in die kerskous van my lewe wil plaas. Wense vir elkeen wat hierdie artikel lees. So hier gaan ek…
Mag die herberg van die lewe altyd vir jou oopstaan,
Waar jy ookal poog om heen te gaan
En as die stal dan al is wat vir jou gebied word,
Weet dat jy eintlik, juis dan, niks skort.

Mag die vrese en die angste wat jy het
Verdwyn soos die van die vrou van Nasaret
Want ja, onthou, sy was ook ma van ‘n onbeplande kind
Maar die Here was haar deurentyd net goedgesind

Mag jy elke dag net wonderwerke verwag
En die lewe elke dag tegemoet gaan met ‘n glimlag
Want die seuntjie in ‘n krip gebore
Was toe allermins verlore

So wat ook al jou drome en jou ideale
En al misluk jy in die toekoms menigmale
Weet net dat êrens teen die donker kruis
Het bloed gevloei wat nou deur jou kan bruis

En vir die groot pyn van elke liewe sonde
Was daar genesing deur daardie kind se wonde
So gaan heen, geniet elke liewe dag, dit is al wat hy vra
Dis nie nodig om jou eie kruis te dra.

Onthou dan ook met die oopmaak van elke liewe geskenk
Dat ons die vreugde van die Betlehem kind gedenk
En onthou die woorde van God se seun, sy aardse brief:
Ek hou jou vas my kind. Ek het jou lief!

Mag God se vrede oor hierdie vakansieseisoen by elkeen van julle wees. En mag die liefde van die seun aan die kruis steeds uitstaan as die grootste geskenk wat ons nog ooit ontvang het.
Geseënde Kersfees.

Die wonder van vakansies

Dis nou vakansie. Nou kan ons almal saam jaag see toe, sodat ons moeg daar kan kom. Dan pak ons vyftig weke se stres weg en besweer dit met twee weke se rus. Om dan weer sogenaamd uitgerus terug te jaag huis toe.
En ons glo dit.
Ons jaarlikse uittog see toe om te gaan verbrand in die son, soutwater in te sluk en in groot winkelsentrums te verdwaal is eintlik verstommend snaaks. Dit sluit nie in die sand wat in die motors ingevoet word, warm teer parkeerareas onder kaal kindervoete en pogings om sambrele in die wind regop te hou nie. Vergeet ook nie die gevegte van die kinders op die agterste sitplekke wat mekaar vir nog twee ure gaan irriteer nie. Al hierdie gekkernye wat ons aan onsself opdis as lekkernye!
Wat besiel ons?
Miskien is dit tog die moeite werd. Daar is immers die sloffie-stop by die ultra city se coffeeshop. Daar is die wete dat ons selfone afgeskakel kan word, en dat ons, soos kinders en met die kinders, weer met sand en water kan speel, sodat ons net weer onsself kan vind – sonder e-pos of inbokse. Daar is die lekker van braaivleisreuke in die aand wanneer die son oor die water sak. Daar is die soektog na skulpe saam met die kinders. Die rustelose rustigheid van brekende branders.
Voordat alles weer verby is, en ons terugjaag met twee bottels water in die kattebak vir die huisbediende. Deur tolhekke en spitsverkeer. Gereed vir nog ‘n seisoen by die werk…
Reg of verkeerd, dit lyk my ons het almal ons vakansies nodig…
Maar ons het nie nodig om soos cowboys en crooks te ry daarheen of daarvandaan nie. Maak seker dat jy hierdie jaar die rit net soveel geniet soos die bestemming. Sien weer die mooi dinge langs die pad. Waai vir die jaende massas wat verbystorm, om maar net weer by die volgende vulstasie agter te raak.
Want die vakansie begin reeds as jy in jou motor klim, en eindig eers wanneer jy tuis aanland…
Dit is behalwe vir die herinneringe wat altyd in jou hart sal woon, selfs wanneer jou kinders se kinders op die agtersitplek baklei…
En omdat ons kan kies wat ons wil onthou is die herinneringe soms die mooiste deel van die vakansie. Bewaar dit mooi.
Ry veilig.

Die wonder van Briewe

Ek wonder hoeveel mense geniet nog briewe. Om na die poskantoor te gaan en ‘n brief te ontvang is seker een van die lekkerste dinge. Nou praat ek nie van daardie vensterkoeverte wat jou herinner om jou kredietkaart te betaal nie. Ek praat van ‘n “properse” brief van ‘n vriend of familielid wat net gesels.
Dis anders as e-pos. Daar is immers die reuk van die skrywer wat nog aan die skryfblokblaadjies kleef. Die handskrif wat sê dis persoonlik en vol karakter, en meer nog, die tasbaarheid. Dis nie saam met 50 ander briewe op ‘n skerm in die middel van ‘n besige dag nie.
Deesdae is selfs kerskaartjies digitaal. En mens stuur dit sommer aan 100 mense gelyk. Ag nee wat mense. Ons is mos nie intekenaars op mekaar se lewe nie. Ons is mense. En nou wil ek ‘n beroep doen vir hierdie jaar. Stuur weer briewe, of kerskaartjies (met gedrukte foto’s van die gesin), geskryf in handskrifte en met die wete jy neem tyd om net aan die persoon wat dit gaan ontvang te dink. Dis nie net wonderlik vir die persoon aan die ander kant van die koevert nie – dis ook wonderlik vir jou siel. Want dit stop die gejaag en massamaking van mense.
Ek het nog briewe wat ma vir my gestuur het toe ek in die weermag was. Briewe van my broers en suster toe ek weg van die huis was, en dan die enkele briewe wat pa gehou het toe ons vir hom geskryf het terwyl hy oorsee was. Die beste waarskynlik die briewe wat ek en Boetie Frans geskryf het wat altwee begin met: “Dit gaan goed. Lutje is baie stout.” En dan die eerlikste een van almal, Sus Lutje se brief wat dan open: “Ek is baie stout.” Ek kan net dink hoe pa dit moes geniet het. Lutje was so in graad 2 rond, kon skaars skryf en was sekerlik onder die invloed van een van die broers.
Maar dis wat briewe so wonderlik maak.
Die eerlikheid daarvan. En die wete dat dit jare later nog pret verskaf. Anders as e-posse wat saam met hardeskywe en digitale ontwikkeling vergaan. Hoe grafies en mooi ook al.
Want ‘n mens kan nie die mens agter ‘n boodskap wegneem nie.
Stuur gerus vandag ‘n brief.