Sunday, April 22, 2007

Ek groet 'n onnie duisend!

Ek het al vele kere oor onderwys en onderwysers geskryf in hierdie rubriek. Maar vandeesweek wil ek gesels oor iemand wat in statuur en persoonlikheid ‘n murg en been onderwyser in die Oos-Vrystaat was.
Ongeveer ses maande gelede stap ek in Bloemfontein deur Mimosa Mall toe ‘n bekende stem my naam roep. En daar staan hy. Hy lyk nie ‘n jaar ouer as toe ek hom 25 jaar gelede in die wetenskapklas voor my sien staan het nie.
Meneer Skippies van Rensburg.
Wat my egter meer as sy jeugdige voorkoms tref is die feit dat hy na 25 jaar my naam ken en navraag doen oor my broers en suster. Sulke onderwysers is skaars. Ongewoon. Toe ek onderwyser was het ek daarna gestreef om die kinders almal te onthou. Ek weet nie of dit my vroeë Altzheimers is, of die radikale veranderinge van die kinders nie, maar nou en dan skreeu iemand vir my “Hallo Meneer” van oorkant die pad, en kom gesels dan. Met babas op die heup en woelige kleuters.
G’n wonder ek herken nie almal nie, hulle het nie babas op die heup gehad toe ek vir hulle klas gegee het nie!
Maar Meneer Skippies was ‘n Meester. Nie net as onderwyser nie, maar ook as mens. En dit is waar dit saak maak.
Toe my sussie laas week laat weet dat Mnr Skippies oorlede is het ek baie stil gaan sit. Hartseer het oor my gekom omdat dit gevoel het of ‘n groot boom in die woud omgeval het. Maar daar was ook die wonderlike wete dat ek die voorreg gehad het om tyd in die skadu van daardie boom te kon spandeer.
En die boom het omgegee vir wie onder hom kom skadu vind het. Wat ‘n boom. Wat ‘n skaduwee!
Vir Mnr Skippies se familie wat agterbly weet ek daar is die hartseer van die wegval van ‘n besonderse man. Ek wil vir julle sterkte sê, maar ook dankie. Dankie dat julle hom wat vir julle geleen was met ons gedeel het.
Hy het ons almal geraak.
Soos net ‘n ware Meester kon.
Mag jou seile styf span, Oom Skippies. Ons gaan jou mis.

Thursday, April 05, 2007

'n Brief vir Marie

Liewe Marie
Dis nou sestien jaar. Sestien jaar sedert ek daardie oggend in die koshuiskamer as jong onderwyser die nuus van die wonderwerk van jou geboorte gehoor het. En wat ‘n wonderwerk was dit nie!
Vanaf jou babadae het jy die lewe met die padkaart van verwondering en die padkos van ‘n glimlag aangedurf. Daar was jou hygende babastemmetjie as ek by julle kom kuier het: “Hum Ig, Hum Ig”, wat beteken het: “Hier is oom Ig.” Oor elke liewe kuiergas was jy opgewonde, want jou liefde vir mense straal al van kleins af soos sterflikkeringe na almal wat jou pad kruis.
Jy was skaars drie jaar oud toe jy gereeld alleen by Oupa Ben op die plaas gaan kuier het. Oppad het jy en Oupa met sy ou bakkie gestop en by tannie Lily se kafee die koerante en ‘n Magnum roomys gekoop. Oupa was die koning, jy sy prinses. En het die prinses lekker gekuier!
Oupa se telefoon was nooit op sy mikkie nie, want jy en jou poppe het al wat leef en beef speel-speel gebel. Die spore van jou speletjies het vasgepritt en uitgeknip die mure en die matte versier...Oupa het geglimlag.
Soos jy ook kon glimlag. Ek onthou nog hoe jy by ons kom kuier het, en in ‘n vreemde huis met die saligste glimlag kon wakkerword, na al die teddiebere rondom jou kyk en hulle groet: “Môle al julle Bele” (Môre al julle bere).
Ja en toe een oggend was dit skool toe vir jou. Jy was die borrelliedjie in die kleuterskoolklas en die lag op die laerskoolsaal. Jou vermoë om met kinders te werk, en met grootmense te gesels is verstommend. Jy het daardie balans waarna die meeste mense net streef. Ware talent van menswees.
Hierdie sestien geseënde jare het so vinnig verbygegaan. Geseënd omdat jy die lag, lewe en liefde van menswees in jou saamdra en met ons deel...Dankie vir die wonder van jou lewe...
En ja, eers was dit Oupa Ben se plaasfoon van die mikkie af, vandag is dit mamma se selfoonrekening. Eers was dit die peuter wat nie volsinne kon uitspreek nie, vandag is die SMS’e die wêreld vol. Dinge verander, maar jy bly standvastig van karakter.
En daarmee wil ons jou gelukwens. Dat jy na feëverhale kon luister en ‘n prinses kon bly, dat jy jou briesie van liefde deur die lewenshuise van Ooms, tannies, oumas, oupas, nefies, niggies en maats laat waai!
Geniet elke oomblik van jou verjaardag. En mag elk van die sestien liggies op jou verjaardagkoek die hoogtepunt van ‘n lewensjaar versinnebeeld. Want dit is waarom kersies daar is. Om te onthou dat God wonderlike oomblikke gee.
Baie Liefde
Oom Igno, Tannie Arné, Benno en Anien. O ja, en Ouma Barbara en haar katte!

Herfsdag in Afrika

Sondagmiddag. Die son raak aan die water so tussen die herfsafwagtende populiere. Die water spat waar die kinders krappe vang. Nou en dan lig een ‘n stok triomfantlik met ‘n knypend-klouende krap omhoog. Die opgewonde omstaanders juig, ril en gil. Die grootmense eet gestadigd hulle braaivleis.
Tussen die tafels deur hardloop die langhaarhond om stokke op te tel wat die kinders met oorgawe gooi. Dan weer terug water toe. Die stok word in die water gegooi. Die hond agterna. Dan skud die hond die waterdruppels met spattende uitbundigheid. Die krapvangers lag terwyl die reënboogdruppels oor hulle dans.
Ek staan met my kamera. Êrens hier is ‘n sprokiesprentjie wat wag om te gebeur. Dit gaan vandag om tydsberekening en lig. Die prentjie is reeds geskilder. Om die waarheid te sê die prentjie is volmaak. Die uitdaging gaan wees om een van die volmaakte oomblikke vas te vang. Een van die dogtertjies se gelaatstrekke is half bekend. ‘n Vriendelike jong man staan nader. Hy groet. Hy is hulle oom. Dan begin die legkaart bymekaarval. Dis Ruben en Isabel se kinders. Isabel het jare gelede by my in die Engels klas gesit. Die jare van skoolhou kom sit op my skouer saam met die sonstrale deur die bome. Kinders lag in die spruit, maar in my geheueskatkis hoor ek weer die ware lewe van ‘n klaskamer. Dis mos die jeug. Hulle wat die pyle is waarmee na die toekoms geskiet word. Ons gesels. Uit die bloute verskyn ‘n porseleinpop feëtjiedogtertjie. Haar ma wakend gemaklik agterna. Elise. Dis asof verlede en hede in mekaar smelt.
Die wekkerwyser van boomskaduwees draai genadeloos. Weldrae pak ons op om te ry. Die porseleinpop huil, sy wil hier bly. Dis lekker. Dis lewe. Dis vreugde. Dis menswees. Maar almal moet terug.
In Bethlehem koop ons die Sondagkoerant. Sheldean se ma vertel hoe sy van die honger flou geword het by die skool, die week voor sy vermoor is. Thabo Mbeki wen weer wit geledere op deur harde verwysings na Blanke vrese – hy reken dis rassisme. ‘n Vermoorde boer se vrou staan met ‘n drie maande oue baba by die begrafnis van haar vermoorde man. Die blinde oupa huil.
En my hart breek Mens kan nie soveel vreugde en soveel seer in een dag absorbeer nie. Daardie aand kan ek nie slaap nie. Die prentjies wil nie wyk nie. Ek gaan haal my kamera. Laai die foto’s af op my rekenaar. Daar is een foto waarvoor ek nie kan wag nie. Dis ‘n seuntjie wat ‘n stok gooi vir die hond wat spring in die water. Die simbool van vreugde, onskuld en lewe.
Toe die foto op die skerm verskyn is daar ‘n oomblik se teleurstelling.
Die fokus is nie reg nie. Die lig was net te min. Ek kon nie die perfekte oomblik vasvang nie.
Miskien omdat dit nie so perfek was nie?

Ons land se stories bloei dood

Ek staan in die Spar. My bene word lam en my arms bewerig. Ek staar na die Sondagkoerant en ek voel hoe eienaardige emosie oor my vloei. Seer emosie. As my kinders nie hier was nie, het ek gehuil.
Twee jaar gelede staan ek voor die geleentheid van ‘n leeftyd. Ek is deel van ‘n groep van ons maatskappy wat na die groot storieverteller gaan luister. Ek is kinderlik opgewonde toe ons vroegoggend Bloemfontein verlaat. Oppad na Natal.
En wat ‘n belewenis.
Vroegoggend sit ons in bewolkte weer teen die helling van Isandlawana. Daar waar die Zoeloes die Britte ‘n les in oorlogvoering en dapperheid geleer het. Hy vertel die storie van die slag uit sy hart. Jy kan die perde letterlik hoor proes. Daar is die taalskildery van geweerskote wat klap. Die sjiep van assegaaie deur vel en been. Die uitroepe van oorwinning.
Hy kies nie kant nie.
Vir my word hy die simbool van alle hoop wat ons in die land het. Iemand wat na die geskiedenis kyk en geen oordeel fel nie. Hy vertel bloot stories. Een oogmerk: – ons moet almal trots wees op waar ons vandaan kom.
Ek begeer om stories te kan vertel soos hy. Ek skryf in vir my MA graad in geskiedenis want ek wil my kinders leer om dieselfde balans te handhaaf. Ek wil bewaar soos hy. My land se mense liefhê soos hy.
En nou staar ek na die Sondagkoerant.
David Rattray is dood.
Vermoor.
My kinders sal nooit na die wonderlikste storieverteller wat die land ooit gehad het kan luister nie. My begeerte was om my hele familie eendag te bring. Om hulle te laat verstaan waarom ek hoop het vir die land.
En daarom breek my hart voor ‘n Sondagkoerant.
Oor die hoop vir ‘n land wat doodbloei.
Week na week.
En my kinders weet nie wat met hulle pappa aangaan wat staan en huil voor ‘n koerant nie.
Want ek kan nie vir sulke klein kindertjies verduidelik dat hulle toekoms dag vir dag van hulle weggesteel word nie.
En dat hulle pa magteloos staan nie.

Skoonma se vakansie deel 2

Iemand vra my na aanleiding van verlede week se artikel: “Nou hoe kan jy jou skoonma sommer net wegstuur?” Ek weet nie of die persoon oor my skoonma bekommerd is, en of hy ‘n plan het met sy eie skoonma nie. Maar kom ek vertel hoe die hele avontuur begin het...Net om my onskuld te bewys…
Kort voor kersfees maak skoonma die aankondiging.
“Ek wil Zeerust toe.” Vier woorde wat my lewe kan en gaan verander.
Die hele familie kyk wes en ek kyk na skoonma. Sy wil hierdie kersfees by my swaer gaan kuier. Dis haar weg-van-die-van Niekerks kersfees. Sy verdien ook haar rus.
En Zeerust is ver. Vrek ver.
Benno en Anienie is steeds uitgeput van die rit see toe. Hulle dreig om tuis te bly. Alleen. Arné kyk afwagtend na my. Die hele Bybelse ding van die man wat die verantwoordelikheid moet dra weerkaats in haar oë. So ek het ‘n probleem. Maar elke probleem het sy oplossing!
Voyager Myle.
As ek skoonma tot op Pretoria kan kry is sy oor die Vaalrivier. Dan is dit die Gauteng niggies en nefies se plig om haar te help…Dis ‘n ongeskrewe reël in die familie. Ek het dit pas uitgedink.
Ek het genoeg voyager myle vir ‘n eenrigting vlug na Johannesburg. Net Net.
En vir mens se skoonma het jy net eenrigting vlugte nodig. Dan nie?
Maar niks is maklik as dit by my skoonma kom nie. O nee. Op ‘n warm Bloemfontein middag jaag ek deur Bloem se strate – skoonma se maag was ongesteld en nou is ons laat vir die vlug…
Die hele familie is saam. Snaaks die katte het by die huis gebly, en nie saamgekom om hulle mentor en vriendin te kom afsien nie.
En dis op die lughawe dat die moeilikheid begin. Daar is massas mense. Êrens tussen kaartjies en tasse verloor ek kontak met die res terwyl ek en skoonma voortbeur na die sekuriteitsafdeling. By die x-straal masjien wil hulle my nie deurlaat nie. Soos ‘n goeie skoonseun betaam roep ek sekuriteit nader. Iemand moet seker maak skoonma kom veilig op die vliegtuig. Sy is immers al oor die sewentig en kan dalk op die verkeerde vlug klim. En dan sal ek haar in die Kaap moet gaan haal. Die Kaap val buite die jurisdiksie van die Gautengse neefs en niggies…
En Kaap toe gaan ek nie.
Tussen die massas en die sekuriteit dwaal skoonma deur die metaalverklikkers en x-straal hekke. Terwyl die strome ander passasiers by my verbybeweeg sien ek skoonma verdwyn. Maar skielik wuif die sekuriteitswag vir my. Eers dog ek hy is vriendelik. Toe sien ek hy wink my nader. En hy lyk ernstig.
Ek beur tussen die passasiers deur terug. Die sekuriteitswag se lippe vorm een woord. Met my beste lippetaalleestegnieke ontsyfer ek dit:
“Firearm.”
Skoonma het ‘n pistool by haar…in haar handsak!
En oor die luidspreker hoor ek hoe hulle na skoonma roep. In die taal van SA Express:
Passenger Wessels, still delaying fllight 1007 to Johannesburg, you must board now please.
Maar passasier Wessels is besig om met die sekuriteit te argumenteer – niemand vat sommer net haar rewolwer nie. En daar is nog koeëls ook. Hulle moet eers met haar skoonseun praat.
En daar staan ek. Volbaard na die vakansie. Plakkies en kortbroek. Hemp hang uit van die jaagtog lughawe toe en die tasse se dra…
Iets in die lyn van Osama Bin Ladin.
Die res van die storie het ek laas week gedeel, maar my enigste advies vir die wat na aanleiding daarvan planne met hulle skoonma’s het…
Dis nie sommer net van aflaai nie…

Skoonma gaan hou vakansie

Die sekuriteit kom reguit na my toe.
“The old lady has a firearm with her.” Hy fluister half, en hy lyk half kwaad. Ek het van kleins af ‘n vrees vir kwaai sekuriteitsmense.
Kort op sy hakke kom skoonma. In haar hand het sy ‘n kamerasakkie – en in die kamerasakkie haar pistool. Die een waarmee sy eendag die mol in die tuin probeer verjaag het en die huisbediende amper ‘n hartaanval gegee het – maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag. Asof dit nie genoeg is nie, is daar een of twee los patrone.
Die lughawepersoneel het dringende dinge om te doen.
Vir nou moet skoonma op die vliegtuig kom. Die luidsprekers sê ook so: “This is the last boarding call for passenger Wessels, still delaying flight 1007 to Johannesburg. Passenger Wessels, you must board now please. Non boarding will result in offload.”
“Ek moet nou vlieg,” reken skoonma. “Sorteer jy hierdie ding uit.”
Ek staan verstom. In hierdie hele sage was die prentjie wat ek in my kop gehad het dat ek die rol van taxi-bestuurder en portier sou vertolk. Maklik. Laai skoonma af, dra haar tasse tot by die vertreksaal, soengroet haar en waai vir haar saam met die kinders terwyl sy aan boord gaan. Nou is ek oppad om te verklaar dat skoonma ‘n eerlike en gedienstige landsburger is. Nogal iets waaroor ek self gereeld twyfel. Ek is omring deur veiligheidspersoneel. Van taxibestuurder tot medeverdagte. Ek weet nie hoe ek dit reggekry het nie. Maar mens weet mos. Met ‘n mens se skoonma is enige iets moontlik.
Terwyl die vlug opstyg teken ek vrywaringsvorms, vul papiere in en eindig met ‘n vuurwapen wat tot skoonma se herkoms in veilige bewaring opgesluit moet word. In die hitte van die lughawegebou martelstap ek terug na Arné en die kinders.
“Ouma vlieg weg,” reken Benno. Die trane is skielik vlak in sy oë. “Ek verlang na ouma. Ouma moenie weggaan nie.”
Op vlug 1007 skink skoonma seer sekerlik ‘n drankie.
En op Bloemfontein lughawe staan ek met haar rewolwer in my hand. Ek kyk na my seuntjie, dan na die kamerasakkie waarin sy die rewolwer kamoefleer.
“Ek ook seuntjie…ek ook.”
En saam stap ons weg. Ons gaan skoonma mis. Sy is ‘n droom ouma. En ‘n ware karakter. G’n wonder die Gauteng familie het reeds gebel nie. Hulle sien uit na haar kuiertjie.
Daar het seker lanklaas avonture op hulle drempel plaasgevind. Maar avontuur is oppad.
In die vorm van “passenger Wessels”.

Oor die paastyd

Die storie het wyd geloop. Soos stories mos maar doen. En later het niemand meer geweet wat die waarheid was nie. Nie eers die mense wat naaste aan die storie geleef het nie. Want saam met die veroudering het die verbeelding dikwels parte gespeel. Mens kan uiteindelik nie meer tussen droom en werklikheid onderskei nie.
Maar vir haar het dit saak gemaak.
Sy het alles probeer onthou. Nie omdat sy nie kon vergeef nie. Maar omdat dit haar van menswees geleer het.
Want, na alles, dit was háár kind.
Sy het onthou wat ‘n weerlose baba hy was. En daarna, die harde werk saam met sy pa. Hy was goed met sy hande. ‘n Natuurlike aanleg. Iets wat later alles soveel erger sou maak.
En sy glimlag.
Veral vir ander mense. Hy was soms sku, soos kinders maar is. Maar merendeels was daar die glimlag. ‘n Hemelse glimlag. Snaaks, jare later was dit die glimlag wat nie wou wyk nie. Selfs nadat hy weg is, het die glimlag in die aand na haar teruggekeer. Asof hy wou hê dit moet vir altyd daar wees.
Sy het dikwels gewonder hoekom die storie haar pad moes kruis. Sy het immers nie daarvoor gevra nie. Soos wat niemand vir uitsonderlike stories vra nie, want uitsonderlike stories verg uitsonderlike mense. Ronde karakters, so noem hulle dit in die letterkunde. En bo-en-behalwe die karakters is daar die uitdagings. Dinge waarvoor ander mense nie kans sien nie.
Gelukkig het hy darem sy vriende gehad. ‘n Uitsonderlike spul. Uiteenlopend nogal, maar deurlopend by hom. Sy het hom dikwels gewaarsku oor vriendskappe. Want aan jou vriende sal jy geken word het die ou mense gewaarsku. En hulle was reg. Vriende vorm mens. Hulle bou jou. Hulle verraai jou selfs. Hulle is ook mos maar mense.
En wat in haar herinnering gebly het was hoe sy regstaanhande gebloei het toe hulle hom aan die kruis vasgeslaan het. Die spykers deur die sagte vleis. Die hartseer van sy dors. Die wete dat hy deur verskriklike pyn gaan.
En terwyl sy daar staan het sy onthou hoe hy eendag met ‘n blom na haar gekom het.
Dis vir jou, Mamma.
En sy het ‘n laaste keer na die kruis gekyk. En geweet wat die boodskap was wat nooit sou vergaan nie:
Dis vir jou!
En dit is wat van jou so ‘n uitsonderlike karakter in ‘n besonderse storie maak.