Saturday, September 29, 2007

Tiger Woods se pa

‘n Hele paar jaar gelede hou ons vakansie in Natal. Een bewolkte reënoggend lees ek in die koerant die storie van Tiger Woods se pa. Die pa wat sy seun help oefen het, sodat hy later die beste gholfspeler in die wêreld sou word. Die pa aan wie Tiger sy grootste oomblikke sou opdra.

Die wonderlike van Tiger Woods se pa is dat hy vir sy seun ‘n liefde vir die spel gekweek het. En dis waar dit uitdaging sou lê. Nie om die seun se talente to ontgin nie, maar om die seun se passie te behou.

Dis moeilik.

Vandag sien mens al meer talentvolle sportmense en besigheidsmense wat hulleself “uitbrand”, hulle passie verloor, en dan maar net deel van die gemiddelde word.

Hoekom?

Druk?

Druk kan talent ontgin of vernietig. Ouers, onderwysers en afrigters se grootste uitdaging vandag is om gebalanseerde druk uit te oefen. Te min druk is sleg, so ook te veel.

En dis deksels moeilik om die balans te vind.

Maar Tiger Woods se pa het. En vandag, wanneer mens Tiger op die gholfbaan sien, verstaan mens die uitdaging waarvoor Tiger staan, om elke keer deur die hele wêreld dopgehou te word. Maar die persoon wat die grootste uitdaging moes hanteer was Tiger se pa.

Want dit moes ‘n reuse verantwoordelikheid wees.

Om Tiger Woods se pa te wees.

Elkeen van die kinders in die wêreld kom ons lewens binne met potensiaal. Dalk nie die potensiaal om hulle ouers of die wêreld se drome te bewaarheid nie, maar wel met die potensiaal om hulle eie drome te bewaarheid.

Besonderse pa’s en ma’s verstaan dit. Goeie onderwysers verstaan dit. Bekwame afrigters verstaan dit.

En dis al wat elke kind vandag nodig het.

Iemand wat verstaan.

Luke Skywalker en verbeelding

Die tenger seun het droomverlore in die tuin gespeel. Iewers in sy verbeeldingswêreld was hy Luke Skywalker wat met die slegte ouens baklei het. Dit was sy onvlugting uit die druk van sy skoolbestaan en werklikheid.

Later by die skool het hy ook droomverlore gesit. Net gesit. Hy was ‘n bietjie hartseer omdat hy gevoel het dat hy sy pa teleurgestel het. Sy pa wou graag hê hy moes sport doen en presteer. ‘n Seun wees om op trots te wees. Nou was hy in ‘n kleiner skooltjie omdat hy nie met die hoofstroommassa kon kompeteer nie. Dit was net te veel vir sy sensitiewe gemoed.

Sy pa was uiters suksesvol. Hoë profiel besigheidsman. Sterk. Jare gelede voorry gespeel vir een of ander klubspan. ‘n Man’s man. Donker en aantreklik.

En in die aande het sy pa soms alleen in die sitkamer gesit. Soms was sy ma ook daar. Dan was daar die kwaai stemme. Hy het die kussing oor sy kop getrek en aan Luke Skywalker gedink.

Want hy was bang.

Hy was bang vir die langmourok wat sy ma die volgende somersdag sou moes aantrek. Hy was bang vir die kringe onder haar oë. Meer nog was hy bang vir die trane wat so vlak agter haar oë gelê het. Trane, nie van die seer van die blou merke aan haar arms nie. Maar trane van die onsienbare merke in haar hart.

Die enigste plek waar hy veilig gevoel het was die verbeeldingswêreld. Maar dis juis waar sy skoolprestasie ‘n knou gekry het. Hy droom te veel. Dit was elke onderwyser se oordeel. Hy moet beter konsentreer in die klas. Ons sal hom op medikasie moet plaas. Wat is fout met die kind?

Sy storie is maar een van talle soortgelyke stories wat ek elke dag hoor. Dis nie stories wat ver van ons af plaasvind nie. Hulle kom sit in klaskamers met allerhande afwykings, hulle word voortdurend veroordeel oor hulle skoolprestasies, hulle voel sleg omdat hulle nie die beste presteer nie, want hulle dink hulle stel hulle ouers en onderwysers teleur.

Hulle vind hulle saligheid in hulle eie verbeelding. Weg van die tronk van wêreldse druk.

En hulle wag vir iemand.

Iemand wat met ‘n sagte, nie oordelende stem, en teerheid in sy oë hulle naderwink en sê:

Laat die kindertjies na my toe kom.

Vasgevang in die oomblik

Die twee seuntjies het visgevang. Die son het net-net sy kop oor die horison gelig. Hulle was vasgevang in hulle konsentrasie terwyl hulle groen netjies deur die water gesleep het. Spatsels water teen die lig. Dit was kompleet of die tyd tot stilstand gekom het.

Die branders het hier en daar tot by hulle voete gestrek waar hulle weerkaatsings uit die seeswembad terugreflekteer het. Twee seuntjies vasgevang in die oomblik.

En wat ‘n gawe is dit nie.

Om weer in die oomblik vasgevang te word. Om een te word met die wêreld waar dit mode geword het om meer as een ding op ‘n slag te probeer doen. Ons tokkel op ons rekenaars terwyl ons ons selfone in ons skouers vasknyp. Ons gesels in motors op ons selfone, ons mxit, sms en ipod ons tyd om. En mis die eenvoudige ding. Om te wees. Te wees sonder om te doen. Ons is immers “human beings” – mense wat is, eerder as “humans doing” – mense wat doen.

Maar ons wil doen. Alles gelyk.

En dis gek.

Dit besef mens as jy kyk na twee seuntjies wat visvang. Selfoonloos en stressloos. Gemaklik. Totdat die omgewing, vriende of groepsdruk hulle voorsien van tegnologie wat hulle noop om werklikheidsoomblikke met digitale oomblikke te vervang.

Ja, daar is sprake van virtuele realititeit (virtual reality), maar dis nie meer sprake nie, dis reeds daar. Daar is ‘n digitale realiteit wat ons van ons omgewing vervreem. Ons verloor die sonskyn en stap. Ons verloor die vars lug en die draai van die seisoene.

Want tegnologie neem ons na ander plekke.

Plekke waar ons nie is nie. Waar ons nie kan wees nie. Maar dit verdeel ons aandag. Neem ons weg van ons hede. Maak ons gejaagde mense.

Die seuntjies het nie ‘n enkele vis gevang nie.

Maar hulle was só gelukkig.

Ons is dit ook aan onsself verskuldig om nou en dan net weer die wonderlikheid van die wêreld te waardeer.

Eerstehands. Nie digitaal nie.

Soos kinders wat visvang.