Sunday, February 10, 2008

Die wieke van tyd

As daar een ding is wat ek wens my ouers my geleer het, is dit dat ‘n jaar bitter kort is. Jaar na jaar vind ek my in die geselskap van die “jinne maar die tyd vlieg” brigade. En ek is een van hulle. So ek sê sommer reguit, “hierdie jaar het vinniger verbygegaan as enige ander jaar”. Al weet ek dat ek jok.

Miskien is die spoed waarmee tyd wegvlieg nie so ‘n vreemde verskynsel nie. Miskien moet ons weet die tyd vlieg. Vinnig. Dalk sal dit ons meer dringendheid gee. Om voluit te lewe. Terwyl ek hierdie gedeelte skryf is die langste dag van die jaar pas verby. Die kinders is later as gewoonlik bed toe, want hulle is opgewonde oor kersdag wat kom. Die langste dag was inderdaad ‘n oogwink. Vir hulle was dit ‘n dag soos enige ander. Vir my was dit anders.

Ek het in die laaste paar jaar die brug gekruis van hulle wat wens die lewe kan nog bied, na die geledere van hulle wat wens dat die verlede nie so vinnig deel geword het van my immerverlengende lewensverhaal nie. Die ander dag was ek ‘n kind langs die kersboom – nou’s ek Kersvader. Sonder ‘n kussing vir ‘n boepens en die eie hare staan ook al nader aan silwer. En ek geniet dit. Al reken skoonma ek moet dringend begin maagoefeninge doen, voordat die kar se lugsakke eendag uitskiet as ek hoes!

Elke keer as ek na my kinders kyk hoop ek hulle waardeer elke wonderwerk wat voor hulle oopgaan. Anienie wat hierdie jaar tot so ‘n mate leer lees het dat sy elke aand met ‘n boekie in die bed klim. Benno vir wie die werf skielik van ‘n dinosaur-opgraweplek na ‘n insekte en padda-paradys verander het. Elke dag bied die lewe meer geleenthede. En as ek na hulle kyk, weet ek dat ek die verantwoordelikheid het om 2008 te omarm met die oë van ‘n kind. 2007 Was ‘n skoenlapper wat op die wieke van tyd weggefladder het. En so sal 2008, en elke jaar wat volg. Want daar bly net soveel minute in ‘n uur, soveel uur in ‘n dag, soveel dae in ‘n week en soveel weke in ‘n jaar.

En teen die tyd weet ons die tyd vlieg. Dis wat dit so kosbaar maak. Die vlerke van die tyd het een doel – om ons na ‘n beter, meer lagkapperjolvolle lewe te lei – al wat ons moet doen is om die saad van tyd te neem en daarmee die bome van ons lewens te laat groei.

En as bonus vir 2008 het ons ‘n ekstra dag!
Een dag waarop ek dalk maagoefeninge kan doen.

Die verskil wat mens maak

Elke dag lees ek en skoonma die koerant. En ons blaai albei dikwels na die doodsberigte. Skoonma om te sien of hulle “in haar kampie skiet”. Dis haar idioom om te sien of daar enige van haar tydgenote afgesterf het. Ek, omdat dit my herinner hoe waardevol die lewe is.

En elke nou en dan tref ‘n skok mens. Soos verlede week. Toe ek Robbie se foto sien. Robbie met sy lewenslustige oë wat altyd opgewonde was om mens te sien. Robbie het vir die derde tennisspan gespeel, maar op ‘n stadium was sy uitslae nie wat dit moes wees nie. Dan moes Robbie tuisbly. Tog kon die span nie sonder hom nie. Gereeld moes ek met die skoolkombi tot agter die kafee ry om Robbie op te laai. Dan het hy sy lekker pot tennis gespeel, en kon ek hom daarna weer gaan aflaai, waar hy agter sy boeke kon sit en almal tevrede stel dat hy ‘n lang middag se werk gedoen het.

Baie mense sal sê dis oneties van ‘n onderwyser om dit te doen. ‘n Onderwyser nogal wat ‘n kind uit sy skoolwerk hou! Maar toe ek Robbie se foto sien, weet ek dat dit die regte ding was. Want Robbie het die kuns bemeester om voluit te leef, diensbaar te wees, en merendeels, om ander te laat deel in sy energie, sy vrolikheid en sy lag.

As daar ‘n kind sterf wat by my in die klas was, breek dit my hart. Want mens weet watter ongelooflike potensiaal daar in die jongmense skuil. En eers het ek met trane in my oë die gediggie gelees wat die gesin oor Robbie geskryf het. Sy gesin gaan hom verseker mis. Robbie was een van die kinders wat mens mal kon maak met sy lewenslus, maar altyd deel van sy energie by jou gelaat het. Sy entoesiasme en stralende geaardheid kon nie anders as om aansteeklik te wees nie.

En nou is Robbie weg.

‘n Koerantberig en ‘n foto. Ek dink weer oor die feit dat doodsberigte my leer oor die waarde van die lewe. Die tyd vlieg so vinnig. En dan wonder mens wat werklik saakmaak.

En jy kyk weer na Robbie.

En jy besef wat saakmaak is die verskil wat mens aan ander maak. Ek dink almal wat Robbie geken het is beter mense om dat hulle hom geken het. Sy energie is deel van ons herinneringe.

En daarom sal Robbie nooit heeltemal doodgaan nie.

En tog gaan ons almal hom vreeslik mis.

Ek betuig ook hiermee my simpatie aan Robbie se familie. ‘n Sonstraal het agter die horison verdwyn, maar die warmte bly. Ek hoop dit troos.

Kabamba Ouma

Uiteindelik het ons die Blou Bulle terugbetaal vir verlede jaar se gelykop. Verswakte span of te not. Die telbord sal oor tien jaar van nou af steeds wys die Bulle het in Bloemfontein kom swaarkry. Lekker kom swaarkry. Eintlik ‘n pak slae kom kry. Een wat hulle al jare verdien! Nie weens swak spel nie, maar weens hulle vermoë oor die jare om ons pret te bederf. En dit sal steeds lekker wees om, jare van nou af , aan die heuglike dag te dink. Maar hierdie wedstryd het ‘n anderster week gehad wat hom voorafgegaan het.

Skoonma wou haar hare laat kleur. “Net so ‘n stigtelike gryserigheid”, het sy gereken. Êrens het die woord highlights ook tussen haar planneberaming deurgeskemer. Gelukkig het ek die verskoning gehad dat ek kon werk toe gaan. Gelukkig ja, want daardie middag trek die duiwel in die kleursel in.

Laatmiddag stop ek tuis. Die kinders sit buite. Die wind waai koel. “Hoekom gaan julle nie in nie?” My vraag onskuldig. Hulle antwoord ook: “Daars ‘n spêtakel in die huis,” reken Benno. Dis nie nuus nie. Skoonma is immers elke middag daar. Maar wat Benno bedoel het was iets anders as ouma se gewone “spêtakelgeit”. Skoonma was blond. Annelien Kriel blond. Nee, nog erger.

Kabamba Floors blond!

Nou hier moet ek bely dat ek die Kabamba oomblik gemis het, want Arné was reeds met ‘n reddingspoging besig. Toe ek die huis inkom was sy reeds rooi van haarkleur. So ‘n kruising tussen Purdy (wie onthou dan nie die New Avengers nie) en ‘n jersey koei. Nêrens ‘n stippeltjie grys of wit te bespeur nie. Mens kan maar sê sy’t geroes gelyk. Met ‘n glimlag op haar gesig. Dankbaar dat sy nie meer Kabamba was nie! Mens weet immers nie hoeveel mense Rassie al Kaap toe gelok het nie. Gelukkig het hy net die berg en die see as lokaas, want hulle rugby is mos maar vrot. Skoonma was net bang daar is ‘n klomp wat weggelok is, en dat Naka haar dalk sou nader om as impakspeler op te tree. Mens weet mos nie watter verskil hare kan maak nie. Simson het ‘n ander dimensie gegee aan hoe mens hare sien.

Met die rooi hare het sy egter veiliger gevoel. Na ‘n paar waspogings was die roesbruin vervolmaak in so ‘n modderbruin kleur wat darem nie meer so ‘n “spêktakel” is nie. Skoonma het net kom kla dat daar nou so Kojak kol op haar kop was. Met die dat bleskop Hendro nie kon speel nie was ek gereed om ‘n voorstel te maak.

Maar gelukkig lyk die nie of die cheetahs op hierdie stadium hulp nodig het nie. En nog minder ‘n “spêktakel”.

Dit los ons vir die Bulle.

Tot hulle weer ons pret kom bederf.

Topvertraagde katte en skoonma se oordeel

My suster se skenking was ongevraagd en onverdiend. Twee katte. “Die kinders sal so lekker speel.” Dit was ‘n onnodige toevoeging tot my huis waar mense reeds op die vloer moet sit omdat die katte reken dat die stoele aan hulle en skoonma behoort. Maar mens mag nie ‘n gegewe kat in die bek kyk nie. So reken skoonma.

Die twee nuwe katte sou weldra name kry wat uitstekend by hulle persoonlikhede pas. Ek weet, want ek het die name gegee. Topvertraag nommer 1 en Topvertraag nommer 2. Dis miskien nie oorspronklike name nie, maar dis baie beskrywend.

Hulle dra muise aan, en wag vir skoonma om dit te eet. Sy weier egter. Maar daar mag ook nie met die katte geraas word nie. Hulle is mos heiliger op my plot as die koeie in Indië. Hulle duik en spring agter onskuldige voëls aan en laat nou en dan ‘n spul vere in die sitkamer. Nie genoeg om ‘n kussing te stop nie, maar genoeg om tot ‘n wrewelrige opruimingsessie te lei. Snaaks as daar opgeruim moet word verdwyn almal – ouma, die katte, die kinders... En ek ruim op, maar sonder enige opgeruimdheid. Ek dink dit het iets met Adam te doen – in die sweet van jou aanskyn sal jy katte versorg.

Alles was hanteerbaar, maar die naamsverandering het my die finale nekslag toegedien. Toe ek weer hoor het skoonma en die kinders die katte se nuwe name afgekort. Skielik is hulle nie meer Topvertraag nommer 1 en Topvertraag nommer 2 nie. Hulle is Nommer 1 en Nommer 2. As’t ware die regeerder en adjunk-regeerder van die huis. Ek belê ‘n huisvergadering. Niemand kan sommer net die pa van die huis se gesag ondermyn nie. Aikôna.

Totdat die waarheid seëvier. Of dan skoonma se waarheid. Wie is in werklikheid nommer 1 en nommer 2? In haar opinie die katte. “Kyk dan nou – hulle is broodwinners, versorgers, te pragtig...” Nommer 1 sit en spin krulstert op haar skoot. Sy pruil haar mond. En kyk met oorwinning in haar oë na my.’n Kyk wat sê: “Jy is nie die baas van die huis nie. Jy moet net sorg dat dit opgeruim is.”

En ek kyk na die spulletjie wat voor my sit, en ek weet ek het twee pligte. Die een is om op te ruim. Die ander is om opgeruimd te wees. Want as ek nie lig loop nie gee skoonma vir almal nommers.

En ek weet wat ek gaan kry – want ek kan tel – Daar is 2 katte, skoonma, 2 kinders en Arné. Dus ses.

Ek gaan nommer 7 wees.

En as ek reg onthou, is dit die nommer van Maljan se donkie in die Jopie Adam reeks van jare gelede.

Nou swyg ek.

En bly naamloos.

Kinderkuns en kleurvolle lewens

Ons was nou al ‘n paar keer by Oliewenhuis se kunsgalery. Veral Sondagmiddae kan mens op die groot grasperk piekniek hou, terwyl die kinders balle rondskop. Aan die ander kant is ‘n lekker restaurant waar mens kan koffie en koek eet terwyl die kinders mallemeule ry.

En binne die gebou is die kuns. Die uitstallings verander gereeld. Maar een ding wat nie verander nie, of so voel dit vir my, is die feit dat die kuns so swaar is. Sulke abstrakte beelde of dikwels swart en wit foto’s. Swaar. Donker. Morbied selfs.

En dan moet mens nog die kinders stil hou ook. “Sjjt, dis ‘n galery...”

Soms stap ek nie eers deur die galery nie, dis net te veeleisend. Sleep sommer reguit om, betaal die mallemeule kaartjies en gaan drink ‘n koppie koffie.

Sondag is ons toe weer daar.

En die uitstalling is verrassend.

Kinderkuns.

Lekker kleurvolle oranje-geel en rooi. Helder! Dit wissel van gewone spatsels tot ongelooflike realistiese beelde. ‘n Dogtertjie met haar perd. ‘n Seuntjie se fiets. Gunstelingplekke. Maats. Die temas is kinderlik naïef .

En net daar stop my gedagtegang.

Waarom moet die grootmenskuns so swaar en morbied wees. “Daar is te min liedjies wat vals gesing word”, het my pa ons geleer. “Maak nie saak hoe mens sing nie. Sing net!” Ek dink ook aan sy woorde – “Ons het meer ‘slegte’ kuns nodig – want slegte kuns is goeie kuns. Hoewel die wêreld dit nie vir miljoene verkoop nie, is ‘n kleuter se lomp handjie verspatsels mos baie mooier as enige iets anders.”

Pa was reg. Soggens het hy in die motor gesing terwyl ons skool-toe ry. Dikwels het hy gefluit. Daar was nie selfone om mee te praat of waarop ons as kinders kon Mixit nie. Daar was die wete dat ons almal saam iewers heen oppad is, die wete dat enige een maar kon saamsing – al was ons vals. Die wete dat kind-wees oor kleurvolheid gaan.

En dit was lekker.

Daarom mag ons nooit vergeet dat alhoewel ons grootmense is, ons steeds kinders van die Skepping is.

En daarom mag ons lag, gesels, sing, en kleurvolle stralende kuns uitstal. Deur met passie te glo in alles wat vir ons mooi is. Soos vriende, perde, lekker plekke, en alles waarvan ons hou.

Dis ons goeie reg.

Meer nog. Dis ons plig.

Want die kinders kyk vir ons!

Mense wat alles weet vergeet soms iets...

Daar is ‘n paar eienskappe wat mense gelukkig maak. Hierdie is nie die gewone selfhelpboekeienskappe nie. Nee dis dinge wat jou houding en verhouding teenoor ander mense so inrig dat jy hulle respekteer. In ‘n wêreld vol kritiek en voorstelle is dit respek, bewondering en selfs jou verwondering oor ander mense wat bepaal dat jy eindelik uiters gelukkig is. Want soos wat ons mos oor ander mense dink, so dink ons hulle dink oor ons, en so word ons wie ons is. Klink soos nonsies, maar dis die reine waarheid.

En dit bring my by my storie. Hoe my kinders oor ander voel. Ongerep, natuurlik, en soms te eerlik. Maar vol verwondering. Benno is ander dag in gesprek met Anienie. Die vraag wat hy opdiep is ‘n mengsel van rekenaarspeletjies, geskiedenis en wiskunde. Anienie dink lank na voordat sy met al haar graad 2 kennis antwoord:

“Ek weet nie, Benno.”

Sy oë is soos pierings. “Maar Anienie, dit kan nie wees nie, jy weet dan alles.” Daardie uiterste verwondering vir sy sussie slaan deur in sy stem. Hier is nie sprake van sarkasme nie, eerder verdwasing. Anienie besef waarskynlik dat hierdie verwondering van haar kennis nie ignoreer kan word nie. Haar antwoord kom vinnig, maar met beredeneerde logika.

“Ja, Benno, maar mense wat alles weet vergeet ook soms iets.”

Pragtig. Volpunte vir die gesprek. Daar is respek van Benno, en trots van Anienie. Sy is nie arrogant nie, maar sy weet sy moet trots genoeg wees om sy respek aan te hou verdien.

En hulle word groter.

Snaaks hoe grootword mens soms stroop van daardie twee wonderlike elemente van menswees. Trots en respek.

Die ander kant daarvan is kritiek, agteraf-praatjies en ‘n gebrek aan selfvertroue. Dis wat mens aanleer as mens nie meer alles weet nie.

Want mense wat alles weet vergeet soms iets!

En dis dat niemand alles weet nie.

Daar is 'n inboorling op my stoep

Benno is ‘n digitale inboorling. Dit beteken op die rype ouderdom van ses het hy geen vrees vir rekenaars, knoppies of sagteware nie. Hy het reeds die dvd speler by twee geleenthede ge-childlock. Dit het bloot beteken dat ek twee keer ongeveer ‘n uur met die handleiding moes spartel voordat die ding weer kon werk. Hy kon geen verduideliking gee van hoe dit gebeur het nie, maar ‘n week later het hy dit weer gedoen. Die Childlock moet keer dat die kinders nie met die dvd se knoppies torring nie, maar, soos my ma sou sê: “Ai, vandag se kinders!”

Ek is een van die wat regtig probeer om by te bly met die tegnologie. Maar my generasie bly die digitale immigrante. Ek karring nie graag waar die rekenaar nie jeuk nie, en my vingers is nie sms-gereed nie. Digitale inboorlinge se vingers is rekenaargereed en krioel soos miere oor enige sleutelbord, hetsy dit ‘n selfoon, rekenaar of i-pod is. Die verstommende is hoe hulle presies weet watter knoppies om wanneer te druk. Sonder handleidings. Hulle laat waai somme net.

Ek en Arné se groot verantwoordelikheid is om te keer dat Benno nie te veel ure agter die rekenaar spandeer nie. Sy tweede belangsteling het van dinosaurusse na swaarde begin skuif, danksy die Hercules rekenaarspeletjie natuurlik. Hoe anders?

Dus moet ek nou in die middag aan swaardgevegte deelneem. Maar dis nie regverdig nie. As ek lyk of ek wen word reken hy sommer: “Pappa ek is nou ge-charge, ek kan niks oorkom nie.” Of: “Ek het nog twee lewens.” En soms gooi hy my met potion. Menige ouers sal dink ek lei my kind verkeerd... Die feit van die saak is ek probeer net die tyd spandeer om te weet wat in sy kop aangaan. Om aan hom te verduidelik dat mens steeds net een keer lewe, en dat geen mens ge-charge is nie. Juis daarom moet mens die lewe respekteer. Maar om ook te verstaan dat hy in ‘n ander wêreld as ek grootword, ‘n wêreld wat ek nooit sal verstaan nie, maar ek sal aanhou probeer, en aanhou om tyd met hom te spandeer.

Want sy wêreld kan ongelukkig nie ge-childlock word nie. En kyk ek in die koerante dan weet ek dat ek twee realiteite het waarteen ek my kinders moet beskerm, die realiteit van misdaad en die virtuele realiteit wat die rekenaar skep. Dis inderdaad nie ‘n maklike taak nie.

En ek is nie eers ge-charge nie. Daar is ook geen potion nie. Die enigste power wat ek het, is die tyd by my kind.

Ek hoop ek kan volhou.

Skooma en my tuin

Elke dag as ons voor die hek stop maak skoonma ‘n opmerking. “Ek het nooit gedink ek gaan eendag in die oerwoud woon nie.” Soms het sy dit weer oor die wilde diere. “Eendag gaan ‘n olifant ons nog bestorm en ons gaan hom nie sien voor hy op die stoep is nie.” En so gaan dit aan. Oordrewe stories om my in die tuin te kry. Ek aanvaar dit gelate. Tuinmaak was nooit een van my talente nie. En ek het immers al probeer.

Met probeer bedoel ek nie dat ek self probeer het nie. Ek het die tuindienste mense gebel. Die man het dapper met sy bakkie vol grassnyers en gereedskap gestop. Een keer na my tuin gekyk. En met spoed, dog bedagsaam, verduidelik dat hy nie sy gereedskap in hierdie klipperige spul kan waag nie. Toe is hy fort. Nogal vinnig. Nou as hy, die man wat elke dag tuine tem, nie my tuin kan tem nie – wie is ek nou na alles om te probeer.

En toe broei die paddavisse uit. In die visdam wat ek onlangs skoongemaak het. Ek dink dit was net voor die winter. Skoonma kon nie wag nie. “Een van die dae is daar haaie ook in die tuin. Nee man, dit word nou te erg.” Ek het haar herinner aan die tuindiensteman en gevra of sy dalk sa navraag doen of ons ‘n baggerboot kan kry om die visdam skoon te maak. Ek weet self nie mooi wat ‘n baggerboot is nie, maar danksy die rottang van Dr Hans Koen het ek sedert my skoolloopbaan nog geen Afrikaanse woord vergeet nie. En dit het geklink of dit kan pas. Jammer dat lyfstraf nie meer toegepas word nie – vrees vir ‘n rottang was immers nog altyd die beste leermeester.

Terug by die paddavisse. Vir Benno het dit ‘n nuwe wêreld oopgemaak. Hy was elke dag daar. En elke dag moes ons paddavisse skool-toe neem. ‘n Week later was dit paddatjies. Steeds het die maatjies hom met verwondering ingewag. En elke oggend was dit ‘n bak water in my motor. ‘n Bak water met die wonder van die natuur daarin vasgevang.

En Benno met ‘n glimlag op sy gesig. Hy was skielik die hoof-natuurkundige by die kleuterskool. En meer nog, ek het hom geleer dat die natuur baie goeie diertjies inhet. Diertjies vir wie sy ouma omgee. Omdat sy dierbaar is. En juis daarom het ek om herinner as hy ooit besorgd is oor die paddatjies wat buite moet slaap, moet hy altyd onthou: Ouma se bed is lekker warm. En sy is lief vir diere.

Sy leef immers in die wildtuin.

Of so sê sy.

Duiwels van die dood

Die eerste waarvan hy bewus was, was die feit dat iets teen sy kop gedruk het. Toe hy sy oë oopmaak het vier of meer mans aan sy vrou se kant van die bed gestaan. Instinktief het hy geskop en die rewolwer het oorverdowend teen sy kop ontplof. Warm stukke kruit het teen sy wang gebrand. Die koël het ‘n gat deur die kussing gebrand.

Sy vrou het die kombers oor haar en die baba geruk. Hy het probeer om sy selfoon onder die kombers na haar aan te gee. Harwar. In die chaos het die inbrekers vermoed dat die selfoon ‘n alarm se paniekknoppie was. Hulle het die geweer teen sy kop gedruk en hy het gehardloop. Hulle weggelok Sy vrou kon die deur sluit. Genadiglik was sy en die baba veilig.

In die ander kamer het die twee kleuters salig voortgeslaap. Min wetend van die duiwels van die dood wat daardie nag in hulle huis gedwaal het. Bloemfontein is immers veronderstel om veilig te wees. Hy het na buite gehardloop – bereken dat hy deur die sitkamervenster sou kon terugspring in die huis. Agter hom het sy ouers se eenmanwoonstelletjie se deurgang oopgestaan. Vinnig gedink. Die hekkie toegeklap. Met die klop teen sy pa se venster het hy so angstig geklop dat die venster gebreek het. Bloed het teen sy hande afgestroom. Genesende hande. Hy is ‘n dokter sien. Een van die bestes in die land. Maar vir hulle het dit nie saakgemaak nie. Hulle wat nou in die straat weggedrentel het – oppad na die volgende huis, die volgende slagoffers...

Eers wou hy nie vir die kinders vertel nie. Maar met die polisie, die bure en die vriende se besoeke het hulle al meer begin agterkom. Sy kussing met die brandmerke en koeëlgat het hy plegtig in die middel van die tafel neergesit. Die kinders ingeroep. En toe maar verduidelik, die beste wat hy kon.

“Liewe Jesus dink nog nie julle is al soet genoeg om sonder pappa te lewe nie.” Die grappie het nie heeltemal gewerk nie. “Hy het pappa gespaar sodat pappa nog na julle kan kyk. Pappa gaan nog steeds sy bes doen om julle te help grootmaak. Pappa is vandag dankbaar om hier te wees, om te sien wat julle doen en hoe julle speel. Pappa was gelukkig. Pappa is gelukkig”

Hulle het dele verstaan. Hy het probeer verstaan. Sy vrou ook. Maar ons verstaan nie. Niemand nie.

Waarom ons in die mooiste land moet leef, maar een van die gevaarlikstes. Een van die wreedstes.

Vir elkeen wat 2008 binnegaan. Waardeer elke oomblik, leef, lag en wees lief vir alles hier.

En spaar ‘n gedagte vir hulle, die polisiemanne, die veiligheidswagte die soldate en die burgerlikes wat deur die jare in hierdie land hulle lewens gegee het sodat ons die wonder van die lewe meer kan waardeer.

En mag jy vanjaar jou deel doen om te help om ons land ‘n veilige hawe te maak vir ons kinders.

God seën Afrika.

Wie onthou die lammervanger?

En toe is die vakansie verby. Die ene wat lank gelyk het, kort gevoel het en soos mis voor die son verdwyn het.

Benno is die laaste dae van die vakansie kleuterbeswaard. Hy gaan nou eers graad R toe maar sien geen rede vir skool nie. Sy logika is onweerlegbaar:

“Pappa, skool is ‘n nare plek waar mammas en pappas hulle kinders aflaai en dan lank daar los. Hoekom doen hulle dit?”

En ek weet nie waar om te begin verduidelik nie.Terwyl ek nog dink kom die volgende sarsie kleuterlogika-artellerie:

“Julle kan vir my verjaardag net een persent gee. Ek hoef nie skool toe te gaan nie. Dit sal nie eers geld kos nie.” Ek besef dat die arme man se skoolloopbaan nog nie eers begin het nie, en dat hy anti-depressante sal moet gebruik as hy hoor hy het nog meer as twaalf jaar van aflaaiende ouers voor!

Dis op hierdie stadium dat Anien met al die wysheid van ‘n nuwe graad 3 inval.

“Ja pappa, ek hoef ook nie meer skool toe te gaan nie. Ek kan al lees en skryf.” Ek probeer dink wat my ouers sou antwoord, maar ek onthou net lang stories van koue wintersoggende en donkiekarre en hoe dankbaar mens was vir ‘n ou bietjie beesmis om die kaalvoete in warm te maak..., maar dit was pa hulle se stories. My stories was ongelukkig nie so dramaties nie. En toe kom daar een storie terug. Een wat altyd gewerk het. Ek wonder wie onthou nog die nare bedreiging. Toe laat waai ek maar.

“Kinders, pappa verstaan dat julle nie wil skool-toe nie. Pappa was self ook nie altyd lus vir skool nie. Maar die lammervanger...” Ek verhef my stem dramaties. “Hy kom vang kinders wat nie skool-toe gaan nie. En dan vat hy hulle weg”. Vir ‘n oomblik slaan ek self hoendervleis uit toe ek net praat van die lammervanger... Ma het my menigmale van die nare ding vertel, en dit wyk maar nie uit mens se onderbewussyn nie!

Hulle oë rek groot. In my opinie is die gesprek afgesluit. My antwoorde was nie opvoedkundig korrek nie. Maar ek is nou lank genoeg ‘n ouer om te weet rus en vrede in die huis is dikwels meer werd as opvoeding. Trots gaan ek later die aand rus. Die kinders sal môre maklik opstaan vir skool.

Drie uur daardie oggend skreeu Benno angswekkend. Hy het van die lammervanger gedroom. Ek sit lank by hom. Toe hy uiteindelik aan die slaap raak is ek gedaan. En toe die wekker afgaan sien ek glad nie kans vir werk nie. Ek sukkel swaar regop. En ek weet ek het nie ‘n keuse nie – werk toe moet ek gaan.

Anders kom haal die lammervanger my.