Monday, November 02, 2009

Die eerste dag van die res van jou lewe

Sondagoggend.
As mens dink dat jy nie nodig het om kerk toe te gaan nie, dan het mens dit nodig teen die tyd dat die kinders gereed is vir kerk. Hoe verdwyn skoene en haarborsels so maklik deur die nag ? Hoe word dieselfde kinders wat jou Saterdagoggend met borrelende energie uit die bed kom boender het teen Sondagoggend so traag?
Gelukkig bly ons sommer naby aan die kerk, so ons stap sommer vinnig daarheen. Dus is daar darem nie die probleem van almal in die motor kry, parkeerplek kry, en al die ander klein jakkalsies nie.
Ons is ook gelukkig verby die ergste klagtestadium ten opsigte van Sondagskool, en ja, dankie tog, verby die uitmergelende sessies in die moederskamer.Uitmergelend veral as jou eie kind die besige een is, so besig dat geen mens eers onder gebed hulle oë kan toemaak nie. Deesdae is dit eintlik maklik om kerk toe te gaan. Dis nou as al die skoene gevind is, die ontbyt se laaste dele van die monde afgevee is, en ja, die kinders aan die Sondagskool toevertrou is.
Vir die eerste tien minute word mens net rustig na die oggendgejaag. Dan neem die predikant oor, en uiteindelik stap ons met nuwe geestelike moed terug huis-toe. Hierdie keer is Benno sonder skoene en ek moet hom abba – danksy ‘n geskeurde toonnael. Ons drentel gesels-gesels aan.
Die buurvrou stop langs ons. Haar kinders is al groot en uit die huis uit. Daar is trane in haar oë. “Julle neem my soveel jare terug, soveel herinneringe…ai.” Wanneer sy verder ry besef ek opeens. Hierdie is die wonderlikste oomblikke van my lewe. Ek moet pasop dat ek dit nie mis nie.
Ek lig Benno hoër op my rug. Arné en Anienie gesels oor die boekie wat Anienie vashou. Dit vra die vraag oor wat mens sal doen as jy net dertig dae oor het om te lewe. Voorop staan die subteks: “Vandag is die eerste dag van die res van jou lewe.”
Skielik ruik die lug vars, voel die lente nader, en is die oggend se dramas net deel van die wonder van dankbaar wees.
Waar jy ookal vandag is wanneer jy hierdie stukkie lees – wees dankbaar vir wat jy het, maak nie saak wat dit is nie – tyd gaan verby. .

Politiek in die garage

Lovey se dragtige lyf het al groter geword. Elke keer as ek haar sien was ek kwaad vir myself oor ek nie veearts toe was nie. Maar dis water onder die brug deur. Toe word dit langnaweek. Ons was oppad Willem Pretorius toe vir ‘n fotografiekongres. Sommer die hele gesin.
Saterdagoggend lui die foon. Ons getroue huishulp, Ouma Violet kondig aan: “Lovey het babas, sy lê onder die boom. Iemand moet kom help.” Drie oproepe na die bure later is die babas in die garage.
Om my en Arné is die kinders vreeslik opgewonde. Ons staar maar voor onsself uit. Skoonma merk dadelik op dat sy niks met Lovey se koms te doen gehad het nie. “Hierdie keer is ek onskuldig.” En sy glimlag met ‘n vonkel in die oog. Die probleem is nie die babas nie. Dis die getal. Eers het ek gedink Ouma Violet maak ‘n grap, maar toe oom Willem sê dat dit tien pragtige hondjies is, is ek sommer net uit die veld geslaan. Tien. Eers was die plot oorbevolk van katte, maar skielik was daar twaalf honde as mens die ma en ons ander hond inreken.
Ek dink die katte is net so verstom. Vir ‘n wyle het hulle die plot regeer, en skielik was hulle, soos Julius Malema sou sê ‘n defeated minority. En nou moet die nuwe honde-regime name kry. Jare gelede het pa die honde na nuusgebeure vernoem. Dus is dit maklik, daar is sommer ‘n paar maklike name: Zille, Zuma, Terror en De Lill. Ek wys hulle uit, en die kinders kyk my vies aan. Hulle wil eerder die name van filmkarakters gebruik. Volgens my is daar in alle geval baie fiksie in die politiek, en ek hou voet by stuk. Totdat ek een flagrante flater maak.
“En daai kleintjie noem ons Malema.” Nou ek het nie eers gesien Arné is naby nie, maar die volgende oomblik tuit my ore. “Dit doen jy nie. Daai arme hond het niks verkeerd gedoen nie. Jy gaan dit nie aan hom doen nie.” Die kinders kyk dankbaar na hulle ma, hulle weet immers wie wen al die rondtes tussen ma en pa. Ek stap toe maar druipstert weg. Dit was eintlik lekker om te dink dat bekende name soos Zuma en Zille my teen misdadigers sou beskerm. Nou is die doop van die honde in iemand anders se hande. En soos ek gevrees het is dit nou sulke vreemde name soos Suri en Bella wat binnekort my erf gaan bewandel en in hulle ma se hurkspore gaan help om alles te bemes.
Nou ja, ek gaan haal solank die graaf en begin myself sielkundig voorberei vir die aanslag op die tuin. Met die verkiesing agter die rug is daar net een ding waaroor ek wonder, en dit is hoe die katte voel omdat die honde daarin geslaag het om sommer oornag ‘n tweederde meerderheid te kry. Soos dinge ontwikkel glo ek sal ek al meer insig kry in wat met die politiek sou gebeur het, en juis daarom gaan ek saans, as almal slaap saggies uit, streel die hondjies en sê: “Lekker slaap Zuma, lekker slaap Zille, lekker slaap al julle politici.”
En dan gaan ek binnetoe en sluit die deur.

Skoollesse by die klerewinkel

Net die ander dag was Benno in die Kleuterskool – gefassineerd deur dinosourusse, dinosorusse en dinosourusse. Daar was nie veel wat sy aandag daarvan kon wegtrek nie, behalwe lekkergoed. Nou is hy amper driekwartpad deur graad 1.
En ja, die invloed is duidelik.
Vrydag kondig hy aan dat ek hom na Mêegies Fêeshions (Maggy’s Fashions, ‘n Chinese winkeltjie, sou ek later uitvind) toe moet neem, om Bakugans te gaan koop. Nou die Bakugans is die nuwe magneetspeelgoed wat oopspring as dit op die kaarte val, en ja, daar is seker al miljoene opinies vir en teen die speelgoed. By ons werk dit maklik – as jy genoeg punte op die yskaslys vir goeie gedrag het teen die einde van die week, dan kan jy kies wat jy met jou sakgeld wil doen. As jy dus goeie gedrag toon vir een week, net om ‘n Bakugan te koop, dan het ek vrede met die kommentaar oor die speelgoed.
Net so terloops, Skoonma het so min punte gehad dat sy vir ‘n week by die familie aan die Rand gaan kuier het. Daar was darem ‘n begrafnis ook. Dankie tog, sy het hierdie keer nie met ‘n pistool in haar handsak op die vliegtuig probeer klim nie.
Terug na Benno en die Bakugans.
Dis ongelooflik hoe die graad 1 netwerk werk. Elkeen weet waar die goedkoopste Bakugans te koop is, en ruiltransaksies is aan die orde van die dag. Ek dink nie die spulletjie in Benno se groep het ‘n idee van hoe die kaarte werk nie, maar ek glo dat hulle baie meer van magnete weet as wat my generasie ooit sal weet. Goed – ek gee toe – daar was die mense wat Skeinat geslaag het. Ek sien vandag nog op na enige persoon wat Skeinat verder as graad 9 kan verstaan, of nog erger: kan onderrig. Daardie mense kort monumente vir genialiteit en geduld! Tog, dalk gaan die Bakugan generasie speel-speel meer weet, en sodoende ons land se Kurrikulum 2005 gemors kan help oplos. Dan praat ek nie eers oor hulle netwerk en onderhandelingsvaardighede wat so belangrik is, en nie regtig in die sillabus verskyn nie.
Dit bring my juis by die punt van die storie. Ek sien elke dag hoe Benno meer en meer huiswerk kry, en hoe Arnè al langer vat om hom en Anienie deur hulle huiswerk te kry. Dan wonder ek of ons kinders nie totaal oorlaai word met data nie. Ons vergeet dalk dat speel die beste manier van leer is. Ons copy en paste verwoed van die internet af. Ons kinders sosialiseer al minder. Intussen, dankie tog, begin hulle natuurlike kommunikasie en nuuskierigheid, dit wat tot ware leer lei, weer te voorskyn kom. Net jammer dis nie in die klaskamer nie.
Dis by Mêegies Fêeshions.

Die skool van die lewe

Die mistigheid het swaar oor die landelike teerpad gehang. Daar was net die drie kinders, die koue en die snerpende wind. Oppad skool-toe. Die wasem-asems het wit en wolkerig hulle gesprek onderskryf hoewel ek nie kon hoor waaroor hulle praat nie.
Tog was daar soveel opgesluit in die prentjie. Nugter weet hoe laat hulle opgestaan het, hoe ver hulle al gestap het, of nog moes stap nie. Wat wel lekker was was die wete dat dit nie vir hulle soos opoffering gelyk het om skool toe te gaan nie. Op ‘n eienaardige manier was daar selfs ‘n opgewondenheid in die lug. Dit het my herinner aan pa se storie oor geleerdheid.
Pa het die storie jare gelede gelees. Skynbaar een van O’Henry se stories. Dit het gehandel oor die ou koster wat die kerk so mooi opgepas het. Die vensters het geblink, die klok het helderder geskyn weens die voortdurende politoer en die terrein was onberispelik.
Toe kom die prins.
Die prins was verstom oor die netjies opgepaste kerkgebou. Hulle het die ou man nader geroep. “Watter kwalifikasies het jy?” het die prins gevra. “Standerd 1,” het die ou man skaam geantwoord. Toe die prins ry het hy die priester beveel om van die ou man ontslae te raak. “Iemand met so min kwalifikasies kan nie na so mooi kerk omsien nie.”
Vir die ou koster was dit vernietigend om te hoor. Die kerk was sy hele lewe. Hy het in ‘n parkie gaan sit en wonder wat om te doen. Op ‘n stadium wou hy ‘n sigaret rook. Daar was geen kafee in sig nie. En dis waar die plan begin het. Hy het sigarette gaan koop, en daarna een vir een in die parkie verkoop. Met die wins het hy meer sigarettte gaan koop, dit ook weer verkoop, en so het ‘n hele klein besigheid begin. Uiteindelik het die ou koster in drie parkies sigaret-kiosks bedryf. Teen hierdie tyd het die bankbestuurder gesien dat die ou man een van die rykste mense in die land is. Hy het hom laat roep. “Meneer, u het meer as ‘n miljoen pond in die bank. U is een van ons welvarendste kliënte. U moet baie intelligent wees. As ek mag vra, watter kwalifikasies het u?
Die ou man het geglimlag. “Ek het standerd 1”.
Die bankbestuurder het verdwaas gelyk. “Sjoe, kan u dink wat u sou gewees het as u selfs verder studeer het?”
Weer het die ou man geglimlag: “Ja, ek sou nog die koster by die kerk gewees het….”
Ek weet pa het die storie vertel om ons te leer dat kwalifikasies nie tel nie. Dit gaan eerder oor die bereidheid om dinge te doen, die ingesteldheid waarmee ons die lewe benader.
Terwyl die drie kinders laggend in die mistigheid verdwyn, oppad na hulle skool, bly die storie in my kop. Ek weet nie wat hulle onderwysers hulle gaan leer nie, ek weet nie watter boeke hulle gaan lees nie, ek weet nie eers in watter graad of standerd hulle is nie. Al wat ek weet is dat hulle vroegoggend oppad skool-toe is met toekomsdrome op ‘n wit wasige winderige wintersoggend.
En ek hoop hulle weet dat skool nie net oor papier en rapporte gaan nie, maar oor die deursettingsvermoë om, wanneer jou drome in skerwe spat, te kan aanhou.
Tuis kyk ek na een van die foto’s wat ek geneem het toe my kinders hierdie jaar hulle Kaalvoet Tjokkie loopbane begin het. En ek hoop en bid vir goeie onderwysers wat die sillabus van die lewe verstaan, nie oorgee aandie gek gejaagde sirkussillabus wat die departement voorskryf nie.
Want na alles gaan dit nie oor punte, proewe of profyt nie.
Dit gaan oor die kernkwalifikasies van ingesteldheid, entoesiasme en ywer. Ek hoop dat my kinders dit altyd belangriker sal ag as al die ander vakke.
En dat hulle dit met onderskeiding sal slaag.
Soos die ou koster.