Friday, May 01, 2009

Ons was ook helde

Liewe Benno,
Verlede Saterdag was ons by die pantsermuseum. Wat sê ‘n pa vandag vir sy kinders oor die Bosoorlog? Hoe verduidelik ‘n mens dat jy eenvoudig moes gaan. Dat dit nie om verkeerde redes was nie. Destyds was dit in landsbelang en geen mens kon omtrent die vangnet van Diensplig ontduik nie.
Tog.
Vandag wil die geskiedenis ontken dat ons net gewone skoolkinders was wat kort na matriek ons lewens moes gaan waag om ons land te beskerm. Vandag word vergeet van hulle wat sonder bene of arms teruggekeer het van ‘n oorlog waaroor hulle eerder verwyt word as krediteer word.
Daar loop steeds ouers rond wat hulle kinders verloor het, en met rede kan vra: Hoekom?
Ek sien rooi elke keer as ek hoor hoe onkundige politieke narre die geskiedenis verdraai om hulle te pas. Elke oorlog het soveel goeie en slegte dinge.
Ja, in ons land blyk dit mode te wees om te kruisig en te straf. So dikwels laat ons dit wat goed was net agter. Tussen die verandering in plekname, die agteruitgang van ons water, die verrotting van ons munisiple infrastrukture en die regering se patetiese gebrek aan pogings om misdaad hok te slaan, vergeet ons dalk net dat mens ook die goeie uit die verlede kan neem, en daarop die toekoms kan bou.
Ek sien rooi elke keer as ek ‘n park sien agteruitgaan, nie oor die swak munisipaliteit nie, maar oor ons land so leierloos geraak het. Ek sien rooi elke keer as ek sien daar word meer ophef gemaak van die Reitz politiek as oor ‘n kind wat verkrag word. Ek sien rooi as ek besef dat elke keer as mens teen die regering iets sê die groot Suid-Afrikaanse troefkaart, die een van Rassisme, teen jou gebruik gaan word. En ons het ‘n klomp lamlendige papsakke geword wat net verskonend terugstaan en kyk hoe meer as 50 mense op ‘n dag vermoor, verkrag en versaak word.
Jammer. Ten spyte van elke verwyt. Ten spyte van Julius Malema se onopgevoede uitsprake oor die “defeated minorities”. Ek bedoel, liewe hemel, wie spog daarmee as jy ‘n minderheid verslaan het? Wat beteken dit? Ten spyte van alles, my seun, wil ek jou vertel van die waarde van dissipline, trots en dapperheid.
Ja, toe ek vandag in die Eland probeer klim met my ouer en groter lyf het ek weer besef watter ongelooflike werk die weermag met ons gedoen het. Ek het vergeet hoe warm en klein ‘n pantserkar is. Ek het vergeet dat mens jou kop so maklik stamp as jy nie ‘n kopstuk en help ophet nie. Maar ek vergeet nie dat daar baie jong Suid-Afrikaanse seuns is wat nooit weer teruggekeer het nie.
My generasie kan nie meer stilbly nie. Ons oorlog was ‘n oorlog vasgevang in die kake van die Koue Oorlog, maar ook geskets teen die Afrika agtergrond. Ons was kinders. Tog het ons vinnig mans moes word. En ja, selfs vandag nog aarsel ek nie om te sê ek was bang om Weermag toe te gaan nie. Ek was immers nie die toonbeeld van fiksheid nie. Tog is ek vandag trots dat ek daar was. Ek is trots dat ek bereid was om vir stabiliteit in my land te veg. Kyk gerus na die res van Afrika en sien waar Suid-Afrika staan. Sien ook hoe trots en dissipline vergaan en weet dat ons deel is van ‘n nuwe stryd. ‘n Stryd teen misdaad, korrupsie en armoede. Tussen al die politiek deur bly daar steeds gewone mense in hierdie land. Wit en Swart. Mense wat beter verdien.
Toe ons uiteindelik die ou majoor by die museum raakloop en ek sien hoe hy borrel van trots het ek besef dat ek dit verskuldig is aan hulle wat destyds saam met my op die skoolbanke gesit het, hulle wat nie meer hier is nie omdat hulle bereid was om vir hierdie land te sterf, aan hulle is ek dit verskuldig om te salueer en te sê: “Dankie dat julle bereid was om op te offer sodat ons vandag kan probeer verstaan. Dankie dat julle trots was op julle land en lief was vir julle mense. Dankie dat julle julle lewens gegee het vir ons wat agterbly.”
En dan met ‘n knop in my keel wil ek huil, omdat niemand regtig verstaan nie.
Al wat ek vra, ou seun, is dat jy en jou generasie ons nie sal oordeel op grond van politieke narrery en eenogige geskiedenisboeke nie, maar verstaan dat ons kinders was wat dikwels te gou moes grootword.
Maar dat ons die reg het om trots te wees op die feit dat ons bouers was en nie brekers nie.
Ons praat weer.
Liefde
Pappa