Tuesday, January 26, 2010

Gebed oor Bakugans

Die graad 1 klas bly ‘n miernes van bedrywighede. Benno het selfs een oggend gesê hy kan nie wag om skool toe te gaan nie, want die een dogtertjie verkoop Bakugans vir net drie Rand. Nou as mens in ag neem die goedkoopste Bakugans waarvan die hoog ingeligte graad 1 netwerk weet is R15.00, by Mêggies Fêshions, dan is hierdie ‘n reuse winskopie


Net jammer dat soos met enige besigheid wat dinge onder kosprys verkoop, was die dogtertjie se spesiale aanbiedinge van korte duur. Tog, die seuns se oë en ore bly oop vir enige nuus, advertensies of gerugte van Bakugans. Daar is ‘n paraatheid soos wat mens jare gelede in die Weermag gesien het. Benno oorweeg selfs om een of twee dinosourusse uit sy kleuterjareversameling te verkoop, ten einde sy versameling Bakugans uit te brei. En ja, wie ookal “Drago” mag wees, hy is die karakter wat saam met Benno bad en slaap, want hy is ‘n “good guy”.

Sodra dit klink of iemand die Bakugans kritiseer kom Anienie tussenbeide. “Hulle is nie verkeerd nie. Mens kan op TV kyk. Hulle leer mens goeie lesse oor vriendskap en goed-wees.” Tussenin word redekawel oor wie die beste Bakugan versameling het, wie die sterkstes het, en wie die meeste het –

En toe die storie.

Arné was by die skool. Een van die seuntjies se Ouma kom hom gereeld haal. Die ma werk harde en lang ure sedert die pa twee jaar gelede skielik oorlede is. Dan deel sy en Arné stories oor die kinders. Tog hierdie keer is die Ouma se verhaal iets wat mens diep laat dink.

Die vorige Dinsdag was dit twee jaar sedert die pa oorlede is. ‘n Besoek aan die graf teen laatmiddag, na werk is beplan. Toe hulle uit die motor klim haal die seuntjie al sy Bakugans uit. Dalk om mee te speel, hoe sal mens weet?

Maar nee.

Met sy stowwerige skoolskoene en uithanghemp kniel hy langs sy pa se graf. “Liewe Jesus, ek sal vir jou al my Bakugans gee, as jy net my pappa vir my teruggee.”

By die aanhoor van die storie tref die realiteit my. Geen materiële dinge kan die plek van liefde en omgee inneem nie.

Maak tyd vir dit wat vir jou saakmaak.

Tyd is nie geld of goeters nie.

Dit is baie meer waardevol.

Mag ons dit altyd onthou.

Nuwe sillabusse is nodig -

Terwyl die graad 12’s weer eindeksamen skryf, wonder ek oor die aard van ons sillabusse. Nou veel is al gespreek oor die Uikomsgebaseerde onderwys en die sogenaamde Kurrikulum 2005. Dan kyk mens na ontwikkelinge op die internet, in media en ook in besigheid. Kyk daarmee saam na die individuele behoeftes van leerders en die algemene ondermyning van kreatiwiteit deur ons huidige skoolsisteem wat gebaseer is op behoeftes wat gedurende die industriële tydvak bepaal is, nooit verander is vir die inligtingsera nie, en nog minder help om vaardighede vir die toekoms te slyp.


Voor ons verder gesels. Onthou asseblief, ek wil nie die baba met die badwater uitgooi nie, daar is genoeg sogenaamde onderwyskundiges wat dit al gedoen het – tot nadeel van elke liewe leerder en onderwyser in die stelsel. Voorts, dit gaan ook nie oor onderwysers nie. Die hemel weet hulle dra genoeg onnodige kritiek en stank vir dank op hulle skouers. Mag ons nie vergeet hulle is die kussing tussen die sillabus en menswees nie. Ek wil egter gesels oor ‘n paar nuwe dinge wat dringend aandag nodig het, en indien ons dit miskyk gaan ons leerders oplei vir ‘n toekoms wat niemand verstaan nie.

Die Industriële tydperk het hande nodig gehad om die werk te doen, die era wat ons nou betree, die post-informasie era, het kreatiewe denke nodig. In die vorige era was geheuekennis die die geëksamineerde indikator van sukses, vandag kan mens inligting google, maar nie wysheid nie. Die industriële era het leerders soos tropdiere hanteer, die nuwe era het meer individue (entrepreneurs) nodig. Voorheen was tegnologie ‘n bonus, in die nuwe, gekonnekteerde era, gaan dit ‘n voorvereist wees.

En nee, alles van die verlede was nie verkeerd nie – verhoudinge was menslik en nie virtueel nie, mens kon aanspreeklik wees vir wat jy kommunikeer, en nie bloot per SMS of e-pos verwytende kritiek “onpersoonlik” aanstuur nie. Sjoe, jy het darem iemand in die oë gekyk sou ‘n verhouding eindig – nie net met die duim ‘n paar sleutels druk en alles was verby nie.

Ons het ‘n nuwe menslikheid nodig. Menslikheid wat elkeen erken vir kreatiwiteit, potensiaal en die skep van geleenthede, maar ook ‘n nuwe medemenslikheid – iets wat maak dat ons meer vir ander omgee, en nie elkeen ons eie grondgebied verdedig nie.

So wat probeer ek sê? Wel, ons kort meer liefde, kreatiwiteit, mede-menslikheid en selfvertroue.

En ek sien dit nie in die sillabus nie.

So waar gaan ons dit leer?

Die kussings word al dunner.