Monday, November 22, 2010

Rowwe naweek

Soms, net soms is iemand anders se erns iets wat verstommend kostelik, en selfs snaaks is.


Een van hierdie kostelike momente het onlangs gebeur toe Anienie by ‘n maatjie gaan kuier het. Nou met kuiers, soos met skooldae, is dit asof mens die inligting by die kinders moet “bedel.” Die gewone antwoord op die vraag: “Hoe was jou skooldag?” is gewoonlik iets soos: “Orraait, Okay of Nie te sleg nie.” Daarmee is die gesprek gewoonlik afgehandel.

Nou ek het al geleer om alles te doen wat die gesinstydskrifte voorstel. Die motorradio word afgeskakel, die vraag hang in die lug, en dan wag mens maar vir antwoorde. Soms is daar sommer ‘n stortvloed woorde, ander kere niks.

Saterdagoggend het ek en Arne vir Anienie gaan oplaai na ‘n kuier by ‘n maatjie. “So hoe was die naweek?” Die vraag het in die lug gehang. En toe, na ‘n rukkie die antwoord.

“Erg.”

Ons luister.

“Julle sien, ons klim toe in die kar om saam met die oom en die tannie na ‘n eetplek toe te gaan. En daar sit ek, agter in die middel. En die oom en die tannie begin te rook. Hulle rook sulke blou wolke, en al die wolke kom tussen die twee sitplekke deur, reguit na my toe. Ek kon omtrent nie asem kry nie. “

Dan is sy ‘n oomblik stil.

“Maar dit was nie die ergste nie!” Ek en Arné kyk na mekaar en wag vir die hoogtepunt van “erg.” Het die mense gejaag? Het die motor gebreek? Al die moontlike scenarios blits deur mens se verstand.

En toe, na haar dramatiese pouse:

“Net toe eg dog dit kan nie erger nie, toe sit hulle hulle Bloubul musiek kliphard. Geen mens kan dit hou met die Bloubulle geraas nie.”

En ek kan nie anders as om saam te stem nie.

Geen mens kan dit hou met die Bloubulle se geraas nie.

Dit kon nie erger nie. Met ‘n glimlag kyk ons na haar, en Arné draai om met ‘n vonkel in die oog:

“Sjoe my kind, dit was ‘n rowwe naweek.”

Sunday, November 21, 2010

Liewe Anienie

Liewe Anienie,


Dis net die ander dag dat Pappa vir jou hier geskryf het. Jy was gereed vir jou eerste skooldag, en ek en mamma het met angstige opgewondenheid gewag om te sien watter weë die skoollewe met jou sou stap.

Nou staan jou graad 5 jaar al einde se kant toe. En ja, dit was nie ‘n maklike pad nie. Omdat jy ‘n dromer is, is jou pad soveel moeiliker as baie ander. En tog, my kind, pappa is so ongelooflik trots op jou. Elke oggend as ek jou by die skool aflaai, en sien hoe jy kop-onderstebo en droomverlore staan, dan wil my hart breek. Ai, pappa wens ek kon selfvertroue in ‘n boks koop, en dit kersfees vir jou gee. Ek wens ek kon woorde van bemoediging in jou kosblik pak sodat jy dit kon uithaal en eet as dinge pouses moeilik raak. Ek wens ek kon vir jou ‘n skuilplek wees as kinders ongenaakbare opmerkings oor jou maak. Ek wens ek kon vir net een spesiale maatjie wys watter lojale, liefdevolle en besonderse maatjie jy is. En meestal wens ek dat ek ‘n spieël kan wees waarin jy kan sien watter wonderlike, wonderlike dogtertjie jy is.

In een van Koos du Plessis se liedjies sing hy treffend vir een van sy kinders:

Ons val soms, en almal kry seer, my kind, dit is al wat ek jou kan leer.

Pappa wil vandag vir jou sê dat seerkry gaan altyd gebeur, maar dat ek hoop dat dit jou sal leer om op te staan. Jy sien, die enigste ding wat Pappa en Mamma nie kan bekostig nie is om geloof in jóú of in die Here se plan vir jou lewe, te verloor nie. Dis ook die een ding wat die hardepad mens leer – om gelowig te wees. Pappa hoop dat elke hartseer traan wat oor maatjies gestort word, die groeiplek van jou menswees sal vrugbaar maak vir omgee vir ander. Ek hoop dat elke ongevraagde opmerkingspyl nêrens ‘n stoorplek jou sagte sielsteiken sal vind nie, maar sal wegval en toegroei met woorde van liefde en omgee.

Die moeilikste deel van ouer wees is om te sien hoe mens se kind swaarkry en seerkry. En waarom dit met die sagstes die ergste moet wees sal ek seker nooit verstaan nie. Miskien omdat sagte klei in ‘n harde oond gebak moet word om goddelike kruike van genade te word. Die een ding wat ek net wil hê jy moet mooi verstaan my kind, is dat pappa en mamma altyd sal probeer om daar te wees vir jou, dat ons onwrikbaar in jou glo, dat ons met ‘n glimlag staan as jy jou verbeeldingspeletjies speel wat ander maatjies net nooit verstaan nie, dat ons ook weet dat jy nog ongelooflike dinge gaan doen in jou lewe, dinge wat die wêreld ‘n beter plek gaan maak – omdat ons sien dat jy gebrei word daarvoor.

Liewe dogtertjie – jy word groter, jou hart raak oper en die wêreld oënskynlik wreder. Onthou net om te bly droom, te bly hoop en te bly glo.

Ons het jou soort meer as ooit nodig.

Liefde,

Pappa.

Thursday, November 18, 2010

Nie 'n idol nie

Ek maak geen geheim van die feit dat ek nie die wêreld se grootste sanger is nie. Ek kyk nie eers Idols nie, want dit is heeltemal te ver van my eie verwysingsraamwerk – mense wat so kan staan en sing, musiek maak, en ja, selfs op die regte noot bly! Dis ‘n geskenk wat uitgedeel is onder ‘n boom waar ek nie was nie.


Verlede week hou die kleuterskool waar Arné skoolhou konsert. Geleidelik begin die opdragte deurkom. Eers is ek net ‘n bywoner en ondersteuner van my vrou, kort daarna hoor ek dat ek die seremoniemeester is, en net voordat ons ry vir die konsert verneem Arné dat die fotograaf se kamera gebreek is, en ek word dood eenvoudig ingelig dat ek ook sommer as fotograaf moet optree. En ja, daar moet een of twee kort video’s vertoon word – ek moet net met die klankman sinchroniseer. En o, ja, daar is ‘n lied wat gesing moet word as die skriflesing en gebed verby is...

Genadiglik hou die lysie uiteindelik op toe ons by die saal stop. Die kinders begin arriveer, en ek kry die program – ek moet net kophou reken my geliefde vrou, daar is so ‘n paar veranderinge, maar niks ernstig nie. Teen hierdie tyd is ek ordentelik deurmekaar, maar ek weet ek moet uiterlike kalmte uitstraal, anders klits ek almal om.

En so begin die program. Alles loop baie mooi – die verwelkoming, die video’s, die skriflesing en gebed. En toe verlaat die dominees die verhoog.

Op die bord is die gesang. In my hand is die mikrofoon.

As dinge nie so vinnig gebeur het nie, sou ek seker kon kophou, en die gesang laat verbygaan. Maar nee, op daardie stadium is ek so betrokke by die proses dat ek die gesang aankondig. Later sou ek hoor iemand moes ‘n CD met begeleidende musiek reël, en het vergeet! Op daardie oomblik is dit egter tyd vir my om “in te sit”.

Die trekkerige vals klank van my eie stem, is die eerste wat terug-eggo – saam met die dwaalsang van een of twee simpatiseerders. Ek besef ek moet red: “Nee, Dames en Here, ons kan beter doen! Kom ons begin weer.” Hemele behoed my, toe ek dit klaar genoem het, besef ek dat ek weer sal moet insit... My entoesiasme kwyn toe ek by die tweede reël agterkom dat ek besig is met ‘n onbegeleide solo. “Nee, mense, ons moet sing!” Toe ek die vierde keer stop en voor begin, besef die gehoor dat hulle vanaand gaan moet saamsing, of hulle gaan na hierdie mannetjieskatgeraas-solo moet luister vir die res van die aand. Ons sing een strofe, en genadiglik kom die gesang tot ‘n einde.

Die res van die aand het vlot verloop. Ek bedoel, dit kon nie juis erger nie. Nie nadat ek soos ‘n verdwaasde idols-deelnemer ten toon gestel het waar my talente juis nie lê nie.

Die interessante was dat dit die eerste kleuterkonsert was, waar die kleintjies uit volle bors saamgesing het – hulle het seker besef:”Eerger as daardie onvoorsiene voorvertoning kan dit nie!”

Tuesday, November 16, 2010

Les van Anienie

Net die ander dag is Anienie skool-toe. Dit klink na so ‘n cliché om te sê dat die tyd vlieg. Maar toe ek my oë oopmaak hierdie jaar is sy in graad 5. En ek verstaan nie wat van die afgelope vyf jaar geword het nie. Die ergste is dat ander ouers vir my sê ek moet my gordel vasmaak, want die volgende paar jaar gaan nog vinniger gaan.


Tussendeur is Benno dwarsdeur graad 1 en besig om al meer ‘n seun as ‘n seuntjie te wees. Mens wil alles tot stilstand bring en net weer stilstaan en na jou kinders kyk, selfs wens dat jy hulle ‘n oomblik kan vasvang in tyd. Maar die lewe drafstap eenvoudig voort – van vakansies, skoolkonserte, huiswerk en oggend-aantrekkery na die einde van die jaar.

Hulle word groter, maar die meedoënlose tik-tak van Vader Tyd se horlosie staan ook nie stil vir ons ander nie. Op watter ouderdom hou mens op om groot te word, en begin jy oud word? Soos wat die kinders groei wonder ek al meer of my eie ouers so min geweet het soos ek toe hulle “ouer” was. Mens luister na aanbiedings, lees boeke, en sien allerhande bronne oor ouerskap. Steeds bly jou eie kinders uniek handleidingloos. Dit wat ander voorskryf, en wat vir hulle gewerk het, is nie altyd dit wat vir jou voel die beste is vir jou eie kind nie.

Die ergste is dat ek lief is vir lees. En hoe meer mens lees, hoe meer deurmekaar raak alles. En uiteindelik bou mens maar jou eie filosofie vir die grootmaak van jou eie kinders, wetende dat jy soms in duister rondtas. Dis dan dat mens onthou van geloof, hoop en liefde. En dat die grootste van die drie maar liefde is.

Elke nou en dan deel ek en Arné met mekaar ons bekommernisse, ideale, idees, onsekerhede en vrese. Soos meeste ander ouers. En dan, so nou en dan is daar ‘n verassing – ‘n besonderse rapport, ‘n goeie toets, ‘n gedeelde grappie. En ja, selfs ‘n wonderlike les van jou kinders se kant af. Hierdie week was ek besig om ‘n boek te lees waarin die skrywer praat oor hoe ons God sien. So terwyl ek lees, fladder Anienie verby, en ek besluit op die daad om haar te vra hoe sy God sien. Sy stop. Trek haar skouertjies op, en slaan my voete onder my uit: “Ek weet nie hoe hy lyk nie, Pappa. Ek is net baie bly hy is daar.”

En ja, ek weet dat God ook seker soms wonder oor Sy kinders. Maar dit maak nie saak nie, Hy is daar vir hulle. En ek besef dat ons nie altyd handleidings of oplossings het nie, maar dat ons seker net sover dit in ons vermoë is kan probeer wees om daar te wees vir hulle.

Want Hy is daar vir ons. Die Een wat werklik weet van ouerskap.

Monday, November 15, 2010

Skole, trots en tandartse

Etlike oomblikke nadat die tandarts die spuit uit my mond gehaal het, het ek begin lam voel. Af in my linkerarm, toe so ‘n bietjie duiselig, en toe baie eienaardig. Die tandarts was reg oorkant ‘n mediese sentrum. ‘n Paar minute later is ek met ‘n rolstoel in die ongevalle afdeling ingestoot.


Wat presies gebeur het, is ek nie seker nie. Dit wil voorkom asof die tandarts se spuit een van die aartjies in my mond getref het, en die adrenalien wat deel van die inspuiting was deur die aar na my hart gegaan het, wat toe maar net hard gewerk het om daarvan ontslae te raak. Dis in elk geval die beste uitleg wat ek tot nou toe kon vind.

Nou was ek gesnoeker. Die tandarts kon niks verder doen nie, maar die seer in die tand wat my oorspronklik daarheen laat gaan het was nog nie weg nie. Ek het solank as moontlik uitgestel, rondgevra, en probeer om simpatie te wen. Tog, niemand kan mens se pyn en vrees ervaar soos jyself nie. Uiteindelik is ek op aanbeveling van verskeie mense na ‘n ander tandarts.

Met die eerste besoek was dit bloot ‘n ondersoek. Ek het ‘n kwotasie ontvang, en is fort huis-toe. Uiteindelik het ek die moed (en pyn) gehad, om weer te bel. Ek het geweet dit sou so twee weke neem om weer ‘n afspraak te kry, so ek was heel dapper. “O, ons is bly jy bel, ons het ‘n kansellasie môre,” het my uitgestelde angs in ‘n kitsnagmerrie ontaard.

Die tandarts was briljant. Seker een van die bestes. En ja, terwyl ek daar op die stoel lê in angssweet, sou ek uitvind dat hy ook van Bethlehem af kom Ook sy assistent. Dis op daardie oomblik dat ek toe om een of ander rede aan Bethlehem se twee Hoërskole dink. En ek wonder toe of hulle besef wat hulle vir mekaar beteken. Sien, ek dink jaar na jaar kompeteer Witteber en Voortrekker. En uit die kompeterende gees word gehalte onderwys verseker. En albei skole het uitnemende onderwysers en leiers. Soos ek weer vanjaar ervaar het.

Ek onthou hoe Witteberg se Meneer Botha my gehelp het met die reëlings rondom die fotofees – hoe hy gehelp het om koppies en pierings aan te dra. Hoe hy met trots die nuwe teater beskikbaar gestel het. Ek onthou ook hoe Mnr Burger van Voortrekker vroegoggend met ‘n manne ontbyt gehelp het om alles reg te kry toe ek as gasspreker moes optree. En terwyl ek so agteroor lê en onthou op die tandarts se stoel, word dit vir my al duideliker waarom hierdie twee skole sulke puik herinneringe by hulle oud-leerlinge meebring. Dit gaan oor trots.

Jy sien, toe ek regop kom, kon ek sien dat die tandarts trots was op sy werk, op sy praktyk en op die hantering van sy kliënte.

En ek was trots om te kan sê dat hy van dieselfde dorp as ek kom.

Want Bethlehem se skole maak ons trots op wie ons is, en waar ons vandaan kom. Hulle leer ons om trots te wees, maar nie arrogant nie, om nederig te wees, maar nie vernederd nie, en om altyd ons beste te doen – omdat daar niks so goed is soos gesonde kompetisie nie!