Friday, June 24, 2011

Almal wil "tekkel" maar niemand wil ge-"tekkel "word nie

Toe Arné my die eerste keer van hulle planne vertel was ek nie heeltemal seker of die dag ‘n sukses sou wees nie. ‘n Kleuterskole-Bulletjie-Rugbydag. Tog, daar is niks wat ‘n paar entoesiastiese ma’s nie kan regkry nie. En toe die grondwerk gedoen is, was daar geen keer aan die veldbrand nie. Verskeie ander kleuterskole was nog versigtig, maar sodra pa’s van die byeenkoms gehoor het , was daar geen keer nie. Al rig pa af, Boeta se span sal speel!


Elke keer as Arné my vertel het wat nog beplan word, het ek swyend geluister en gewonder hoe hulle dit gaan regkry. Rugbyvelde moes bespreek word, Cheetah-spelers wat kom handtekeninge uitdeel, geborgde pakkies met rugbytoerusting vir die seunjies wat deelneem, skeidsregters wat die wedstryde beter kon blaas as wat Marius Jonker die Cheetahs se wedstryd teen die Sharks geblaas het. Dit is gelukkig maklik, synde jy net twee oë nodig het.

In die week voor die rugbydag draai alles toe skeef. Die wintterreënvloede en koue fronte tref Bloemfontein soos dit nie in die afgelope twintig jaar gebeur het nie. Teen Donderdagaand is die velde wat hulle kon gebruik nie meer beskikbaar nie, en word sterk getwyfel of die dag moet voortgaan. Teen Vrydagoggend is die daar tentatiewe velde beskikbaar. Nou is daar nie meer omkeer nie.

En Saterdagoggend word ons geseën met ‘n lieflike Vrystaatse windlose sonskynwintersdag. 27 Spanne daag op en die entoesiasme het geen einde nie. Almal wil tekkel, maar niemand wil getekkel word nie. Daar is blitsige vleuels en stadige stamperige stutte. Elkeen wil ‘n drie druk. Afrigters en ouers hardloop agter die bondeltjies balgrypers aan en verdeel hulle aandag tussen aanmoedig en troos. Sommige seuntjies huil nog oor hy getekkel is, dan moet hy weer tekkel, en word terstond teruggewerp in die stryd.

Langs die kantlyn skreeu een vir ‘n ander dat hy hom gaan tekkel. Die arme slagoffertjie kry ‘n glas water en loop die res van die dag daarmee rond – indien iemand lyk of hy nader kom skreeu hy: “Moet my nie tekkel nie, ek gaan mors!” En tussen al die opgewondenheid, ouerlike-inspirasie en gesellige sosaties deur word ses-en-dertig pragtige rugbywedstryde gespeel.

Intussen het verskeie Cheetah spelers handtekeninge uitgedeel. Hoe verder die dag vorder, hoe meer het ek waardering vir elke ouer en onderwyser wat van ‘n blote gedagte ‘n besonderse dag kan maak. Ja, daar is baie spanning, dinge loop dikwels verkeerd in die aanloop, maar op ‘n pragtige Saterdag besef ek weer dat mense wat groot drome opvolg met harde werk altyd aan die wenkant van die wedstryd van die lewe gaan wees.

Al word hulle so nou en dan getekkel.

Monday, June 13, 2011

Soms was 'n pak slae net beter...

Ek was nog op laerskool. So ongeveer standerd drie. Deesdae praat ons van Graad vyf. Hoe dit gebeur het sal ek nooit weet nie. Tog, toe ons die wiskunde boeke oopmaak is my verbeteringe nie gedoen nie. Die hoof was meneer Maree. Genade was daar nie. As jou verbeteringe nie gedoen is nie, dan was ‘n pak slae jou voorland. Meneer Maree was seker nie ‘n nare mens nie, en ek was nie met opset ‘n stout kind nie. Tog, hy het my gelooi sodat ek dit vandag nog kan onthou.
‘n Jaar of wat is meneer Maree toe weg by die destydse Volkskool Hoogland, en het ek nog met hom korrespondeer. Ek was seker maar ‘n eienaardige kind wat met oud-onderwysers en proef-onnies korrespondeer het. Dit was in die dae van slakkepos en seëls, en ja, die korrespondensie was nie eensydig nie. Ek sit vandag nog met bokse vol briewe – briewe van oud onnies, van ma – toe ek in die weermag was, en ja, allerhande mense-in-briewe-oomblikke waarvan ek nie kan ontslae raak nie.
 Later het ek Meneer Maree weer raakgeloop toe ons albei vir die onderwysdepartement gewerk het. En verlede week by die rugby. En elke keer het ek daardie pak slae onthou. Miskien omdat ek so teleurgesteld in myself was oor ek van die verbeteringe vergeet het, miskien omdat ek dit as so onregverdig beskou het omdat my intensie nooit was om stout te wees nie. Miskien was dit bloot omdat dit my eerste pak slae was, en die vrees in onuitwisbare ink op my kindergemoed geskryf het. Miskien omdat die doel van die pak slae was om my te help om beter te doen deur te leer dat verbeteringe my help om my wiskunde te verstaan en ‘n beter rapport te kry.
En nou is ‘n pak slae nie meer deel van die onderwysstelsel se mondering nie. Huiswerk word dikwels ontvang met omslagtige take, en ja, daar is ‘n ander vorm van dissipline. Die ander dag het Anienie haar taak vergeet. By die skool aangekom sien sy al die ander kinders het hulle take by hulle. Ek dink haar skok was maar soos myne met die wiskunde verbeteringe.
Op my tyd was die straf seker lig maar doelgerig. ‘n Pak slae. Vir Anienie is dit anders...
Anienie het die volgende dag haar taak probeer ingee. Die onnie het geweier. Sy sal nul kry. Sy moet leer. Ek verstaan dit, maar ek verstaan ook nie. Sien, my straf het my geleer om te doen wat ek moet doen, maar die doel was om my beter te laat doen op my rapport. In haar geval is dit haar rapport, die verslag oor haar skoollewe wat swak lyk. En ja, in my tyd was dit my ego wat op die spel was, vir haar gaan dit oor haar selfbeeld as leerder.
‘n Pak slae was net soveel meer regverdig.

Monday, June 06, 2011

Is ons onderwysstelsel nie dalk effe mal nie?

Ek mag verkeerd wees, en dalk ook subjektief, maar ek dink die huidige laerskoolsillabus is vrot aanmekaargeslaan, en strek tot nadeel van ons kinders. Toe ek vanoggend oor ‘n radioprogram hoor dat onderwysers meer stres het as wat hulle veronderstel is, kon ek presies verstaan hoekom. In graad 4 word kinders oorlaai met konsepte en inligting wat, soos wat ek dit probeer verstaan, eintlik oorsigtelik is tot wat hulle in graad 5 moet doen. Vandaar die feit dat die kinders alles oor die oog moet leer wat ek in graad 10 Biologie geleer het, en onderwysers moet spartel om die volle sillabus deur te werk.
Teen die einde van graad 4 het ek vir Arné gesê dat mens uiters suksesvol is as jou kind met redelike punte en ‘n goeie selfbeeld aan die ander kant uitkom.  Nou verstaan baie mooi, ek glo die handhawing van ‘n hoë standaard is krities, maar as kinders verdrink word in inligting wat bloot memoriseer word om toetse en eksamens te oorleef – dan is dit nie meer standaarde nie.
Teen die tyd wat Anien in graad 5 beland het, was ons gepantser vir die aanslag – en toe is die sillabus weer heel rustig – net om in graad 6 weer te versnel, met stempels, style, vrugbeginsels, positief geotrofies en fototrofies – weer reguit uit my graad 11 handboek. Is hierdie nie die tyd om te verseker dat vaslegging en begrip van konsepte plaasvind nie? Kom ons leer die kinders hierdie dinge, maar nie as vragte studeerbare informasie wat memoriseer moet word en op eksamenvraestelle weergegee moet word, stap vir stap, woord vir woord – dit nogal deur ‘n generasie kinders wat google tot hulle beskikking het!
Ek kan daarmee saamleef dat my kinders hard moet werk, dat hulle op standaard moet wees, en dat die fondamente van elke vak solied gelê moet word. Maar die huidige pappegaai-veldtog maak nie sin nie. Ek hoor dat EBW nou in sekere grade gaan uitfasseer, so dankie tog – graad 5’s hoef nie meer van “gesinne as ekonomiese eenhede” en allerhande dinge te leer wat, op die regte manier aangebied, seker iets kan beteken, maar in ‘n oorvol sillabus bloot kinders en onderwysers laat jaag na ondeurdagte data.
Toe ek ook nog sien dat die nasionale vraestel, nogal gerig daarop om standaarde te verhoog, vrot van die spelfoute is, is ek plein moedeloos. Ja, en die drukkers is skynbaar weer familie van familie van iemand in die regering. Waarom kan ons dan nie die speelveld gelyk maak nie? Kom ons leer die kinders van Tenderpreneurskap en “gesinne as potensiële mede ekonomiese parasiete?
Ek hoor die sillabus verander weer.
Ek wens tog so dat die politieke narre in die onderwysowerhede vir een keer gaan luister na die mense wat saakmaak en verstaan. Die onderwysers wat die fondamente probeer lê vir die toekoms van ons kinders.
Huise sonder fondamente val net te maklik om.
Dalk, net dalk is ek verkeerd oor alles. As iemand my kan oortuig sal ek bly wees.
Tog my groot vrees is dat ek dalk reg is.

Daar loop spoke in ons huis

Daar loop spoke in ons huis. Hulle los die melkbottels se proppe af, hulle laat leë joghurt houertjies met taaierige blink deksels agter, en hulle maak nie die yskasdeure toe nie. Dit lyk ook of dit niemand in die gesin, behalwe vir my, pla nie. Dis asof dit my lot is om elke keer eerste op die spook se werke af te kom. En dan, durf ek dit waag om te dink dis een van die kinders, vind ek dadelik uit dat hulle nooit so iets sou doen nie, en dat dit eintlik ‘n vreeslike belediging is om selfs te durf vra of dit die betrokke kind was. Ek het selfs al begin dink om op skoonma te spioeneer. Dalk het sy een of ander los-dinge-oop afwyking. Tog, sy kla self oor ligte wat aangelos word en deure wat op misterieuse wyse oopbly.
Dis nogal snaaks dat hierdie spoke slegs loop wanneer die kinders tuis is. Wanneer hulle terug op die skoolbanke is na ‘n naweek of vakansie, raak die spoke ook stiller. Dis asof hulle ook skoolgaan. En dan, in die middae kom dieselfde spokery weer te voorskyn wanneer die kinders huiswerk gedoen het. Hierdie keer steek hulle potlode, penne en ja, selfs skoolboeke weg. Die kind kan sweer hulle het die potlood of boek nou net iewers neergesit, en ja, sowaar as wraggies, dis net skoonveld. Tog, die spoke is nie venynig nie. Heelwat later spoor ons die boek of pen of watookal op. Nogal iewers waar die kind gedurende die middag gedwaal het. Tog, die kind sou dit seer sekerlik nie self gedoen het nie. Die spook probeer net dat iemand anders skuldig lyk.
En dan is daar nog die klere wat die kinders so sorgvuldig in die wasgoedmandjie gooi. Net om weer uitgegooi te word deur die spoke. En wanneer pappa in die badkamer instap lê die klere op die vloer. Gewoonlik roep ek die kind. “Benno! Kom gou hier...” Hy weet ook al dis die spoke want ek hoor hoe hy sug as ek hom roep. “Kan jy glo my kind? Pappa weet jy sou nooit jou klere hier gegooi het nie. Maar kyk nou net wat het daardie stoute spoke alweer gedoen. Ag help tog maar net weer om dit stewig terug te pak in die mandjie.” Hy pak maar gedweë die klere in die mandjie. Kyk ook skalks na sy pa asof dié se varkies nie meer lekker op hok is nie, en verdwyn dan terug na waarmee hy ookal besig was.
Gedurende die afgelope vakansie en langnaweke was die spoke woes besig. Speelgoed het uit kaste geval, die televisie is aangeskakel nadat die kinders dit afgeskakel het en ja, daar is selfs plastiekhouers uitgedra na die visdam by die tuin. Die honde het ook niks gesien nie. Ek kan in elk geval niks uit hulle gedrag aflei nie.
Dalk is dit net ek.
Sal seker maar ‘n sielkundige moet gaan sien oor die spoke.
Ek hoop nie hulle sê ek leef in ontkenning nie.