Friday, August 26, 2011

Om 'n verskil te kan maak!

Verlede week eindig ek skielik op ‘n reis deur die verlede. Ek besoek elke semester saam met ‘n groep MBA studente die Anglo-Boere oorlogmuseum en Vrouemonument. Dan gesels ons oor hoe ongelooflik moeilik die omstandighede destyds moes wees, en hoe gelukkig ons is om te leef in die tye waarin ons leef, waar ons dink een van ons grootste probleme Julius Malema is.


Hierdie keer is my gas een van ons hoofkantoorbestuurders. En opeens vind ek my in die rol van gids. Soos ons deur die tentoonstellings beweeg bly hy geïnteresseerd vrae vra. En elke vraag lei na ‘n nuwe gesprek. Gesprekke oor hoekom mense die wreedste dinge aan mense kan doen, hoe mens die insig kan kry om bo jou politieke meesters se ideologie te dink, soos wat mense soos Emily Hobhouse gedoen het, en meer nog, wat maak jy met jou geskiedenis as dit jou hart breek?

Daardie aand gaan kyk ons The Bang Bang Club, die storie van ‘n groepie Suid-Afrikaanse fotograwe wat die wrede Township geweld van die negentientagtigs onder ons aandag gebring het. My besoeker is veel jonger as ek, hy staan verstom oor die feit dat hy so naby aan sulke geweld grootgeword het, en nie eers aldag bewus was daarvan nie. Hy het sorgeloos in Eldoradopark sokkerballe geskop terwyl Suid-Afrika op die rand van ‘n revolusie gehuiwer het.

Tussen ‘n museum en rolprentteater stap ons ‘n kopreis deur ons land se geskiedenis. Ek herinner myself aan skooldae met bomdreigemente en kadette. Noodmaatreëloefeninge was deel van ons skoollewe, diensplig het gewink na skool. Kan mens glo dat dit dieselfe land is? Ja, ons het nog ons probleme, ons het hulle wat afbreek doen aan alles wat goed en reg is, maar was hulle nie maar altyd met ons nie?

Dit neem so ‘n reis deur jou eie verlede, jou eie hart en jou eie land om mens te laat besef dat ons vandag so ongelooflik baie het om voor dankbaar te wees.

En ja, dalk het ons wyser geword, dalk sien ons vinniger wanneer daar gevaartekens flikker in die speelvelde van politieke mag, maar dalk, net dalk het ons geleer om met deernis aan ons medemens te dink. Aan hulle wat nie altyd ‘n stem het nie, vrouens en kinders wat in die konsentrasiekampe van gesinsgeweld steeds gevange bly. Mense wat met hulle eie seer probeer vrede maak, ou mense wat wonder hoe hulle nog ‘n jaar van armoede gaan uitsien. Hulle wat minderbevoorreg is.

En dalk, net dalk, herinner Augustus ons dat ‘n merkwaardige vrou soos Emily Hobhouse ‘n verskil kon maak.

En dat elkeen van ons ook kan!



Thursday, August 25, 2011

Meesters van die bord...

Die boek het so pragtige opening gehad. Die seuntjie was so bly dat sy ouma uit die tronk kon kom. Nou kon hy haar immers werklik laat swaarkry. En toe kom die konteks. Hy is besig om teen sy Ouma Monopoly te speel, en sodra sy uit die tronk skuif gaan sy op sy eiendomme staan – en sy gaan betaal. Vir nou is hy in beheer van die bord. En toe kom die besonderse les van die Ouma: “As alles verby is, dan pak ons alles weer terug in die boks.”


Die skrywer van When the game is over, it all goes back into the box, John Ortberg, vergelyk die bordspel met die lewe. Hier waar ons almal soos mal goed probeer om die meester van die bordspel te word, ons jaag die skynsukses van die wêreld na, versamel aardse rykdomme, verhoog ons stresvlakke, verwaarloos ons gesinne. Ons speel die spel van die lewe.

En dan, dan eindig alles weer in die boks. Dalk selfs ‘n netjiese boks, dalk nogal een wat op spesiale aanbod is by die begrafnisondernemer. En die tragedie is so dikwels dat mens allerhande verkeerde goed najaag. Goed waaroor die kinders baklei as jy rustig in die boks lê!

Wat maak regtig saak? Wat het ewigheidswaarde? Jy sien, die prentjies van vandag se sukses – die duur motor, die fris huisverband, die duur tegnologiese speelgoed – dit word almal bemark as dinge wat jou lewe styl gee. Lewensstyl noem ons dit. Tog, is die voorstelling van sukses nie dalk ‘n ander prentjie nie? Dalk ouers wat saam met kinders glimlag. Dalk iemand wat met son op die gesig en wind in die hare hardop lag oor hulle dankbaarheid vir die lewe.

Soos ek verder lees maak die skrywer interessante voorstelle. Neem twee stelle plakkers. Skryf op die een stel “tydelik” en op die ander stel “ewig.” En nou gaanplak jy dit op die dinge in jou huis. Op jou motor, op die televisie, op alles waarvoor jy so hard werk gaan daar dalk staan “tydelik.” Op jou kinders, jou eggenoot en ander dinge gaan jy dalk graag die plakker van “ewig” wil plak. Vra jouself nou af – hoe lyk my prioriteite. Jy sien op die ou einde gaan dit wat jy vir ander gedoen het jou nalatenskap word. Die goed wat jy versamel het gaan erfstukke word wat uiteindelik op ‘n skrootwerf gaan eindig.

Die boek het my diep getref. Merendeels omdat niks van hierdie dinge nuut was nie, maar omdat ek weereens besef het hoe ek te maklik my eie prioriteite laat deurmekaarraak, hoe ek die feit dat ek besig is beskou as opoffering vir my gesin, en hoe ek soms vergeet dat die werklike opoffering nie opoffering is nie, want om waarlik om te gee was nog nooit opoffering nie.

En ja, dit word onthou – lank nadat die spel verby is en alles teruggeplaas is in die boks!

Wednesday, August 24, 2011

Oor walrusse en Selfgeldendheid

Ek wens ek was meer selfgeldend. Interessante woord: Selfgeldend. Soos wat ek dit interpreteer beteken dit dat jy kan opstaan vir jouself, selfs al veroorsaak dit konflik. Tog, dit is juis waar die probleem inkom. Ek hou niks van konflik nie. En dis juis omdat ek nie van konflik hou nie dat ek dikwels maar die regverdigheid van ‘n situasie met my verbeelding oplos.


Ek wens ek het die selfvertroue gehad om vir selfsugtige rokers langs ‘n openbare swembad te vra of ek hulle ‘n leesles kan gee. Veral as hulle met sigarette tussend die vingers en rook wat oralheen draal, ten spyte van borde wat wys dat rook verbode is, hulleself vergenoeg in die inteug van elke longvernietigende twaksel nikotien.

Hierdie vakansie was dit juis die rokers wat my verdryf het van die swembad. Ek wens elke roker kan voel hoe dit voel as jou sinuskanale verstop, jou kop onmiddellik voel of dit opswel en jou oë begin traan terwyl jy hyg na asem. Dit is hoe ek voel as die rook my betrap. Dankie tog vir die wet wat rook in openbare plekke verbied. Tragies tog die verontagsaming daarvan. Ek kan nie onthou hoeveel restaurantetes suinige rokers al vir my in pynlike aande van oorlewing omskep het nie.

Toe die spul rokers my hierdie vakansie van my rustige toesig-oor-die-kinders swembadstoel verdryf, en boonop ons handoeke onseremonieel na ‘n ander stoel verplaas wend ek my maar weer tot my verbeelding. Walrusse. Hulle is walrusse. In my geestesoog verdubbel ek hulle gewig en begin aan allerhande snaakse goed oor hulle dink. Ek verbeel my hoe die een walrus in die swembad induik en twee kindertjies wat met vlerkies aan die vlak kant geswem in in die ruimte in lanseer danksy die skielike verplasing van die water. Gelukkig vir die vlerkies want nou vlieg die kindertjies rookvry in die ruimte.

Ek sien ook dat die jong walrus wat langs sy rokende moeder draal, self met ‘n sigaret in die hand, met sy bont narre-kostuum in ‘n sirkuswalrus verander wat toertjies doen. Met hierdie twee prentjies in my kop slaag ek darem daarin om glimlaggend die handoeke te gaan haal, tog, ek wens steeds dat ek vir hulle presies kon vertel wat ek van hulle stinkrookgedrag en arrogante handoekverskuiwings dink. Maar nee, die selfgeldendheid ontbreek. Uiteindelik stap ek met ‘n vriendelike groet en beleefde verskoning weg. Alles terwyl ek kwaad is vir myself oor my eie onvermoë om konflik te hanteer.

Hoewel ek weet dat ek nie selfgeldend is nie, en dat ek hopelik een van die sagmoediges is wat volgens die Bybel die aarde gaan erf, bly ek steeds stomgeslaan oor die arrogansie van die menswalrusse wat ons aarde met ons deel. Ek dink aan die padvarke, selfsugtige rokers – daar is baie bedagsame rokers ook-, sowel as die winkeltrollie buffels en die ry-indrukkers wat ek al teëgekom het deur my lewensreis.

En ek wonder of hulle selfgeldend is.

Of bloot onbeskof?



Tuesday, August 23, 2011

Om te dans met die Rene in jou

Haar naam was René. Verder weet ek niks van haar nie, nie waar sy vandaan kom, waar sy op skool is, of wie haar ouers is nie. Haar naam het ek toevallig tydens die speletjie gehoor.


Die speletjie het spontaan in die swembad ontstaan. Toe ek weer kyk is ek en Benno ook in die baster waterpolo-netbal swembadspeletjie. Daar is twee spanne, ek en ‘n ander vakansieganger Omie is aan die dogters se kant en speel desperaat om die tienerseuns se aanslag af te weer. Ek skat René is so in graad 8 of 9. Maak seker nie saak nie. Behalwe dat ek daardie dag sien hoe natuurlike sporttalent vir iemand ‘n ongelooflike voordeel in die lewe kan gee. Dis nie alleen die balle wat sy dikwels onderskep nie, dis haar posisionering in gapings, haar natuurlike aanvoeling vir die ruimtes waarin die bal gegooi gaan word wat maak dat sy meer balle by die seuns afneem as wat Heinrich Brussouw in ‘n seisoen sonder beserings sal kan doen.

En dis terwyl ek in daardie swembad staan dat ek besef ons het elkeen ‘n René talent. Sommige dans goed, ander sing goed. Party is goed in sport en ander in wiskunde. Elkeen het sy eie – noem dit talente, gawes, sterkpunte – enige iets. Dis daardie ding wat jy doen en, sonder dat jy te hard probeer kry jy dit reg. En jy geniet dit! Jou eie natuurlike intelligensie. Na soveel jare van IK toetse het Howard Gardener mos ‘n boek geskryf oor veelvuldige intelligensies en dat on skoolsisteem net enkele daarvan toets. Dus, baie mense kom nooit op skool hulle eie vaardighede teë nie en verloor selfvertroue langs die pad. Ander, soos René staan uit omdat haar talent en haar omgewing mekaar komplimenteer.

Hoeveel van ons doen dit waarvoor ons lief is? Hoeveel van ons doen dit waarin ons werklik die beste is? Dit waar ons sterkpunte lê? Want sien, die wêreld leer ons om oorlewers te word. So dikwels doen ons wat ons dink ons plig is – ons moet kos op die tafel kry, ons moet ons verbande en skuld betaal, ons moet vasbyt...

Maar in elkeen van ons is ‘n René. ‘n Meersterlike vaardigheid wat net jy kan uitleef – net so uniek aan jouself soos jou eie vingerafdrukke. Dit kan op ‘n terrein wees wat nie noodwendig die aansien van die wêreld geniet nie. Dink maar aan Bill Gates wat kode geskryf het toe niemand daaraan gedink het om rekenaars te hê nie. Dit was nie ‘n slim besigheidsplan vir ‘n middelklas aftrede nie – dit was iemand wat sy passie nagejaag het ten spyte van die omgewing wat nie altyd ondersteunend was of hom verstaan het nie. Êrens het ek die vakansie gelees dat die toeskouers wat kyk na die dansers sal dink die dansers is mal as die toeskouers nie die musiek hoor nie.

Hoor jy die musiek? Dans jy?

Of oorleef jy net?

Dink gerus bietjie oor jou innerlike René, soek haar, vind haar.

En laat haar dans!

Al is dit net vir vyf minute op ‘n dag.

Sy verdien dit. Meer nog: Jy verdien dit!

Kompas vir 'n ongekaarte toekoms

Die afgelope naweek is ek genooi om by ‘n kerk in Bloemfontein te gesels oor “Toekomstendense.” Dis ‘n heerlike onderwerp want mens hoef mos eintlik nie te weet waarvan jy praat nie – dis dinge wat dalk kan gebeur. Indien dit nie gebeur nie is dit ook in orde, wie kan nou immers die toekoms voorspel.


Die kerk het ‘n heerlike gespreksgroep wat elke Sondagaand bymekaarkom en dan oor allerhande uitdagende onderwerpe gesels. Die doel is nie om antwoorde te vind nie, maar om denke te stimuleer. En dit is wonderlik om te sien hoeveel mense op ‘n koue Sondagaand hierdie “Koffietafelgesprek” kom bywoon. Oud en jonk kom met die doel om te debatteer, te leer en te groei. Doelbewus daag jy jou eie denkwyse uit.

Een van die onderwerpe waarop ons toe debatteer is wat mens jou kinders (en dalk ook jouself) moet leer om gerat en gereed te wees vir die toekoms. Seker die belangrikste gevolgtrekking is dat ons onderskeidingsvermoë moet leer. Jy sien, in die skole fokus ons nog om kinders te leer memoriseer. Dalk besef ons nie dat die internet ‘n fantastiese geheue het nie? Jy sien ek kan baie data daar kry, maar wat ek nodig het om te bepaal of dit die regte inligting is, is die vermoë om te onderskei tussen die koring en die kaf van die internetweiveld.

Saam met onderskeidingsvermoë is deursettingsvermoë krities belangrik. Dink maar aan wiskunde. Wiskunde is veronderstel om ‘n kind te leer om probleme op te los, om te dink, om formules toe te pas, en om jouself uit te daag om oplossings te vind. Nie om massas berekeninge in sekondes te doen nie. Daar is rekenaarprogramme wat dit kan doen. Maar geen rekenaar kan jou deursettingsvermoë leer nie, hoewel baie jongmense wat rekenaarspeletjies speel en van vlak na vlak beweeg dalk nie sal saamstem nie.

In ‘n wêreld waar alles meer gekompliseerd en deurmekaar raak danksy die vrye vloei van inligting gaan die vermoë om te vereenvoudig ‘n fantastiese gereedskapstuk vir die verwerking van die toekoms wees.

Teen die einde van die gesprekke was die groot vraag – wie gaan dit vir ons leer? Wie gaan dit vir ons kinders leer? Dis nie tans heeltemal in skoolsillabusse nie, maar dalk net is dit tyd dat ons by die huis na ons eie sillabus vir die lewe kyk. En soms gaan ons toetse dop, maar ons gaan moet koers hou in ‘n ongekaarte landskap.

En ja, ons gaan ‘n kompas nodig hê.

Wanneer laas het jy gaan kyk na jou kompas?