Tuesday, April 03, 2012

Oor donsies, drome en dromme

Verlede week was ek weer eens bevoorreg om in die meesterlike menswees van Dr Bruce Copley te deel. Soms wens ek dat ek elke mens wat daarna streef om balans in die lewe te kry met Copley in aanraking te bring. Jy sien, hierdie man het die kuns van outentieke lewe bemeester. As meesterlike musikant en opleier marsjeer hy op sy eie tromslag. En wat ‘n tromslag is dit nie.

Copley is een van daardie meesters wat met die metafoor van ‘n waterpyp as musiekinstrument vir onderwysers wys dat ons geroepe is om die buitengewone uit die algemene te haal. Ons moet weer leer om potensiaal te ontsluit, in onsself en andere. En vir elkeen van ons is dit maklik. Die belangrikste is dat ons weer die eenvoudige dinge in die lewe leer waardeer. En dit geld nie alleen vir almal wat opleiding gee nie, maar almal wat op hierdie aarde leef.

Een van die dinge wat my sal bybly het gebeur kort na Copley se vier dae lange opleidingsessie in Bloemfontein. Dis Vrydagaand. Hy het dag en aand vir die hele week passievol klasgegee, maar op my uitnodiging kom kuier hy by ons aan huis. Terwyl hy deur ons erf stap ervaar ek waar hy sy energie vandaan put. Hy stop en blaas donsies uit klein blommetjies waarby ek elke dag verbystap sonder om hulle te sien. Hy en sy sielsgenoot Barbara Kennedy raak liries oor ‘n Vrystaatse sonsondergang wat ek elke dag as vanselfsprekend ervaar. Dan leer hy ons om ‘n vuur op die antieke manier te maak. Ons draai stokkies met ‘n Boesmansboog, en wanneer die lekker rookreuk die lug intrek vertel hy ons van die krag van vuur, die wonder van die natuur se elemente en die verwantskap tussen vuur en passie.

Die aand kruip nagwaarts en Bruce en Barbara leer my en vriende se kinders die ritme van dromspeel. Die hartslag van die lewe. Ek bewonder die geduld van iemand wat ‘n volle week intensief kursus aangebied het, en nou met die vrede wat alle verstand te bowe gaan sy passie met ons almal deel. Weer leer ek dat mense wat vonkel in wat hulle doen altyd die vonk van passie kan laat brand, dat hulle ligdraers is, dat hulle ‘n verskil maak. Maar meer nog, dat dit vir hulle nie gaan oor die jaagtog na produktiwiteit en produksie nie.
Eerder oor die slakkepas van waardering en dankbaarheid.

En dis wanneer hulle laataand wegry dat ek hartseer is oor die feit dat ek so dikwels vergeet dat die lewe ‘n geskenk is om stadig oop te maak, om te geniet, om te waardeer. Dit kos niks om donsies te blaas en prentjies in die sonsondergangwolke te sien nie. Net oop oë, ‘n oop gemoed, en die wete dat ons omring word deur wonderwerke.
Elke liewe oomblik.

Mimi se oomblik van roem

Haar naam was Mimi. Toe ek die eerste keer in die hotel plek soek om te gaan sit was haar vriendelike glimlag die eerste wat my opgeval het. Die tweede oggend het sy my dadelik herken en na dieselfde tafel as die vorige dag verwys.

Ek was bevoorreg genoeg om ‘n opleidingsessie in Mauritius te mede-fassiliteer. Een van die ander fassiliteerders was Jennifer Ferguson wat met liedjies soos Master Jack en Bay of Bombay treffers gehad het. En iewers het Mimi uitgevind dat Jannifer ‘n sangeres was. Sy was dadelik in ekstase. “Oh, you must sing for me, then I will sing for you.” Nou Jennifer het ‘n hart van goud en kort nadat ons van die tafel opgestaan het sing neem sy Mimi se hande, kyk haar in die oë en sing saggies vir haar. Mimi was in vervoering. Sy het belowe om vir Jennifer ook te sing.

Intussen het ons voortgegaan met programvoorbereiding. Met die laaste oudisies besef ek dat Mimi dit sal waardeer om Jennifer te hoor sing. Ek het toestemming gevra en afgesit na die eetsaal. Mimi was besig met die dinge waarmee kelners hulle maar besig hou. Tafels regpak, skottelgoed en eetgerei uitsorteer. “Come, Jennifer is going to sing,” het ek genooi. Haar gesig het opgehelder.

En toe kom sit Mimi in die aanbiedingslokaal. ‘n Gehoor van een. En Jennifer sing uit die hart uit, soos wat net Jennifer kan. Mimi was in ekstase. “You sing from inside. You don’t sing with your voice, you sing with your heart.” En Jennifer het nie Mmmi se belofte vergeet nie. “And now you must sing for me.” Jy sien, soms verstaan mens dat die grootste geskenk wat mens vir iemand kan gee om vir hulle die kans te gee om iets uit hulle hart te gee. Mimi het gou ‘n liedjie op ‘n stukkie papier neergeskryf. Sonder begeleiding het sy losgetrek en begin sing. Vir ‘n oomblik was sy nie meer kelnerin nie. Sy was Mimmi die sangeres, haar gesig was vol vrede en vreugde.
Soos ‘n engel.

Toe Mimi klaar gesing het omhels Jennifer haar. Dis een van daardie oomblikke wat ‘n mens nie kan beskryf nie. Twee mense wat hulle gawes deel en as geskenke vir mekaar gee.
Ek ek staan en toekyk, wetende dat ek bloot deur dit alles waar te neem dalk die grootste geskenk ontvang het.

Die geskenk van Mimi se gesig toe sy vir ‘n paar sekondes wêreldberoemd was.

Die vrugbare grond van dankbaarheid

Daar is soveel woorde daarvoor. Ingesteldheid, houding, lewensuitkyk. Mens kan voortgaan met ‘n reeks sinonieme. Maar dit is die kern van ons geluk hier op aarde. Hoe mens die lewe en dit wat met jou gebeur interpreteer, waardeer, en dan jou storie maak.

Uiteindelik kom dit neer op storie. Daar is dinge wat gebeur, en dan is daar die stories wat ons onsself vertel oor hierdie dinge. Baie mense verkies die rol van slagoffer, en hulle hele storie gaan dan oor swaarkry en hoe die omstandighede teen hulle draai. Dan is daar die ander groep. Die groep wat ten spyte van teleurstelling en terugslae altyd weer probeer. Soms nogal met ‘n glimlag op die gesig, en determinasie in die oë. Hulle stories is stories van hoop, oorwinning en dankbaarheid.

Tog spandeer ons baie min tyd om aan ons stories te werk. Mens is so besig met die dringende dinge van elke dag dat mens skoon van die belangrike dinge vergeet. En nee, die belangrike dinge is nie moeilik nie. Dit is soms so eenvoudig soos om ‘n paar minute te stop en te dink oor die dinge waarvoor jy regtig dankbaar is. Mens kan selfs jou eie dankbaarheidsjoernaal begin en elke oggend aan vyf dinge dink waarvoor jy dankbaar is.

Die wêreld sal vir jou vertel wat jy nodig het, hoekom jy moet kompeteer, en hoe dringend dit is om die volgende leer na sukses te begin klim. Maar mense wat met ‘n dankbare ingesteldheid as karakter in hulle eie lewensverhaal beweeg het soveel meer rykdom as wat die wêreld jou kan bied. Jy sien, soos ons almal reeds weet is geluk nie iets wat buite ons lê nie, dit is nie iets wat ons kan koop of najaag nie.
Dis reeds geplant binne in ons. Die saadjie van geluk.

Wat rustig wag op die vrugbare grond van dankbaarheid!

Terwyl jy hier lees, voordat jy verder blaai of na nog ‘n artikel kyk. Stop. Dink aan vyf dinge waarvoor jy vandag dankbaar kan wees. Glimlag terwyl jy dink. Bel selfs iemand as jy dit vir hulle wil vertel.

Voel hoe die saad ontkiem.

En hoe jou storie al mooier word.

Wense vir 'n Perdevriend

Die hele ding het met Arne se verjaardag begin. Daar was twee van die dinge wat gebeur het wat ‘n indruk op Benno gelaat het, en wat Vrydagaand gelei het tot sy unieke hantering van die dood van Tannie Lutje se geliefde perd, Jupie.

By Arné se verjaardagpartytjie het ons ‘n sirkel gevorm, vanaf die een wat haar die langste ken, tot die een wat haar die kortste rukkie ken. En elkeen moes iets van haar vertel. Iewers daardie aand het ons toe ook wense op heliumballonne geplaas en dit die lugruim ingestuur. Elkeen kon sy eie wens op die ballon skryf, en dan toekyk hoe dit die Vrystaatse aandskemer inseil.

Dit was ook daardie week dat Jupie uitgesit moes word. En teen Vrydagaand is daar baie trane. Dis toe dat Benno begin. Ons moes ‘n lekker kampvuur maak. En toe moes elkeen vertel van sy mooiste oomblik met Jupie. Benno het besluit: “Ons begin by die een wat die liefste was vir Jupie, dis Anienie, dan ekke, dan mamma, en dan jy pappa.” Nou ek weet nie waarom ek laaste in die ry was nie, maar so het ons elkeen ons storie vertel. Vir Benno was dit egter nie die einde nie. Nou moes elkeen ‘n wens vir Jupie op ‘n stuk papier neerskryf. Hy het die wense voorgelees en toe met groot seremonie in die vuur gegooi: “sodat die boodskappe na Jupie by Liewe Jesus kon gaan.”

Die waarde van die seremonie het nie verbygegaan nie. Wat begin het as ‘n tranedal was nou besig om te ontaard in ‘n huldeblykseremonie. Ek weet nie van een perd wat se lof al so besing is nie, teen die einde van die aand toe daar nog net as op die vuur is, gesels almal nog oor Jupie. Jupie wat net te oud geword het. Jupie wie se tande uitgeslyt het, en sy lyf begin uitteer het. Jupie wat ‘n legende op die plaas was.

 Sien, vandat die kinders gebore was, was Jupie daar. Daar was dikwels die aandra van appels na Jupie, die rondgelei word, en die roskam van sy palimino vel. Jupie wat as jong perd vir tannie Lut op die skou laat ry het, en as ou perd ter aanskoue van ons almal die kinders geduldig karwei het.

En soos wat mens luister na die kinders se herinneringe, terwyl die wense vir Jupie in die lug invaar, besef mens dat kosbare herinneringe ‘n wonderlike geskenk is.

En dit is die geskenk waarmee Jupie ons gelaat het!
Ons glo hy galop nou op groot groen grasvelde.
Tot wedersiens ou Perdevriend.
Die kinders mis jou.