Tuesday, October 24, 2006

Die Reisiger

Dit was ‘n klein dorpie. Op die pad tussen Bloemfontein en Kimberley. Die reisiger het gestop. Iets gesoek om sy innerlike te verfris. Daar was ‘n enkele kafee in die hoofstraat. Dit was 15:00. Die wind het liggies gewaai.
In die kafee was dit warm. Noord-Kaap warm. Voor die reisiger se oë het die gemeenskap se lief en leed ontvou. Die eienares het almal geken. Elke keer as iemand betaal het, het sy hulle by naam gegroet. Elke gesprek het die volgende persoon in die ry betrek. Die bekoring van die name en kleindorpse vriendskappe het die reisiger nie verbygegaan nie.
En toe is die tienerseun en sy ma voor in die ry. Die ma dra 2 pakkies. In die een hand ‘n sakkie met 2 tamaties. In die ander hand ‘n klein blokkie kaas. “Ons gaan pizza eet vanaand”.
Die kasregister lui. Die ma begin in haar beursie krap. Die tienerseun besef wat aangaan. Hy blaai vervaard deur ‘n tydskrif op die winkelrak. Skaam? Bang? Teleurgesteld in sy ma? Gekwes?
“Moenie kommer nie, ek skryf dit op.” Die gedeeltelike redding van die verleentheid kom van die eienares. Dis ook sy wat die gesprek verder voer.
“En wat hoor jy van hom?”
Die vraag hang in die lug. Die reisiger voel soos ‘n indringer in die ander se privaatsake.
“Hy en sy nuwe vrou het skynbaar ‘n babatjie. Hulle woon iewers aan die Rand”. Dis weer stil. Die eienares klik met haar tong.
Die tienerseun en sy ma stap uit.
Die reisiger betaal sy koeldrank.
Oppad by die dorp uit sien hy die tienerseun en sy ma in een van die dwarsstrate. In die seun se een hand swaai die sakkie met die tamaties en kaas. Sy ander hand hou sy ma se hand vas.
Vir die reisiger lyk dit kompleet asof hy sy ma dra.

No comments: