Tuesday, January 02, 2007

Die wonder van Briewe

Ek wonder hoeveel mense geniet nog briewe. Om na die poskantoor te gaan en ‘n brief te ontvang is seker een van die lekkerste dinge. Nou praat ek nie van daardie vensterkoeverte wat jou herinner om jou kredietkaart te betaal nie. Ek praat van ‘n “properse” brief van ‘n vriend of familielid wat net gesels.
Dis anders as e-pos. Daar is immers die reuk van die skrywer wat nog aan die skryfblokblaadjies kleef. Die handskrif wat sê dis persoonlik en vol karakter, en meer nog, die tasbaarheid. Dis nie saam met 50 ander briewe op ‘n skerm in die middel van ‘n besige dag nie.
Deesdae is selfs kerskaartjies digitaal. En mens stuur dit sommer aan 100 mense gelyk. Ag nee wat mense. Ons is mos nie intekenaars op mekaar se lewe nie. Ons is mense. En nou wil ek ‘n beroep doen vir hierdie jaar. Stuur weer briewe, of kerskaartjies (met gedrukte foto’s van die gesin), geskryf in handskrifte en met die wete jy neem tyd om net aan die persoon wat dit gaan ontvang te dink. Dis nie net wonderlik vir die persoon aan die ander kant van die koevert nie – dis ook wonderlik vir jou siel. Want dit stop die gejaag en massamaking van mense.
Ek het nog briewe wat ma vir my gestuur het toe ek in die weermag was. Briewe van my broers en suster toe ek weg van die huis was, en dan die enkele briewe wat pa gehou het toe ons vir hom geskryf het terwyl hy oorsee was. Die beste waarskynlik die briewe wat ek en Boetie Frans geskryf het wat altwee begin met: “Dit gaan goed. Lutje is baie stout.” En dan die eerlikste een van almal, Sus Lutje se brief wat dan open: “Ek is baie stout.” Ek kan net dink hoe pa dit moes geniet het. Lutje was so in graad 2 rond, kon skaars skryf en was sekerlik onder die invloed van een van die broers.
Maar dis wat briewe so wonderlik maak.
Die eerlikheid daarvan. En die wete dat dit jare later nog pret verskaf. Anders as e-posse wat saam met hardeskywe en digitale ontwikkeling vergaan. Hoe grafies en mooi ook al.
Want ‘n mens kan nie die mens agter ‘n boodskap wegneem nie.
Stuur gerus vandag ‘n brief.

No comments: