Tuesday, January 02, 2007

Die wonder van vakansies

Dis nou vakansie. Nou kan ons almal saam jaag see toe, sodat ons moeg daar kan kom. Dan pak ons vyftig weke se stres weg en besweer dit met twee weke se rus. Om dan weer sogenaamd uitgerus terug te jaag huis toe.
En ons glo dit.
Ons jaarlikse uittog see toe om te gaan verbrand in die son, soutwater in te sluk en in groot winkelsentrums te verdwaal is eintlik verstommend snaaks. Dit sluit nie in die sand wat in die motors ingevoet word, warm teer parkeerareas onder kaal kindervoete en pogings om sambrele in die wind regop te hou nie. Vergeet ook nie die gevegte van die kinders op die agterste sitplekke wat mekaar vir nog twee ure gaan irriteer nie. Al hierdie gekkernye wat ons aan onsself opdis as lekkernye!
Wat besiel ons?
Miskien is dit tog die moeite werd. Daar is immers die sloffie-stop by die ultra city se coffeeshop. Daar is die wete dat ons selfone afgeskakel kan word, en dat ons, soos kinders en met die kinders, weer met sand en water kan speel, sodat ons net weer onsself kan vind – sonder e-pos of inbokse. Daar is die lekker van braaivleisreuke in die aand wanneer die son oor die water sak. Daar is die soektog na skulpe saam met die kinders. Die rustelose rustigheid van brekende branders.
Voordat alles weer verby is, en ons terugjaag met twee bottels water in die kattebak vir die huisbediende. Deur tolhekke en spitsverkeer. Gereed vir nog ‘n seisoen by die werk…
Reg of verkeerd, dit lyk my ons het almal ons vakansies nodig…
Maar ons het nie nodig om soos cowboys en crooks te ry daarheen of daarvandaan nie. Maak seker dat jy hierdie jaar die rit net soveel geniet soos die bestemming. Sien weer die mooi dinge langs die pad. Waai vir die jaende massas wat verbystorm, om maar net weer by die volgende vulstasie agter te raak.
Want die vakansie begin reeds as jy in jou motor klim, en eindig eers wanneer jy tuis aanland…
Dit is behalwe vir die herinneringe wat altyd in jou hart sal woon, selfs wanneer jou kinders se kinders op die agtersitplek baklei…
En omdat ons kan kies wat ons wil onthou is die herinneringe soms die mooiste deel van die vakansie. Bewaar dit mooi.
Ry veilig.

No comments: