Thursday, July 05, 2007

Benno, die Duiwel en die Blou Bulle

Ek is nie die wêreld se grootste rugbyspeler nie. Om die waarheid te sê, my loopbaan het op Voortrekker se rugbyveld ‘n yslike knou gekry toe ‘n halfblinde Meneer my in die stutposisie gekies het tydens ‘n oefening. Nou daardie tyd was ek ‘n paar borde kos agter. Vandag is ek ‘n paar borde kos voor. Die sielkundige oorsaak dalk nog vasgevang in die merke wat my tande daardie dag na elke skrumoefening gelaat het. Dit was ál weerstand wat my graatagtige liggaam gehad het – tande in die grond.
Ten spyte van my verwronge en tragiese rugbyverlede poog ek tog om te ondersteun waar en wanneer ek kan. En so was dit dan na vele jare die afgelope twee jaar tyd vir die Cheetahs om in die finaal teen die Blou Bulle te speel. Die hele gesin was betrokke by die ondersteuningsgroep. Skoonma wou selfs die katte oranje verf – maar daarvoor het ons ‘n stokkie gesteek. ‘n Cheetah is ‘n Cheetah, en ‘n kat is ‘n kat. Skoonma het grommig haar plan laat vaar, maar elke nou en dan het die kinders gekla dat ouma vreeslik hongerig lyk as hulle besig is om met die oranje waterverf of potlode in te kleur.
Die effek op die kinders het egter nie by skoonma gebly nie. Iewers het ek en Arné sowel as suster Lutje en swaer Theo se entoesiasme deurgeskemer.
En verlede week het ek eers die impak daarvan verstaan.
Daar by Sunnyside verval Benno toe in die rol van hoofdierebeskermer. Die kinders is nog besig om krappe te vang toe hy met sy vyfjarige kleuterskoolwysheid daar aankom. Terwyl ‘n krap nog hang aan ‘n stuk tou, laat waai hy van die kant af:
“Haai, julle moet nie die diere seermaak nie.”
Sy woorde val op dowe ore, die kinders speel heerlik, Anienie inkluis. Benno besef hy sal veel ernstiger moet wees.
“Daai is Liewe Jesus se diertjies. Moenie hulle seermaak nie.”
Steeds speel die kinders voort. Niemand steur hulle nie, hulle maak immers nie eers regtig die krappe seer nie, so die borselkopseuntjie op die oewer se pleidooie raak hulle nie regtig nie.
Benno probeer nou die kleuterskooljuffrou se tegniek:
“Is julle Liewe Jesus se kinders?”
Steeds geen reaksie nie. Hy moet nou artilleriewoorde gaan soek. Woorde wat hulle aandag sal trek.
“Hei, is julle die Duiwel se kinders?”
Dis in sy opinie omtrent die skokkendste aantyging wat hy kan maak. Steeds geen reaksie nie, die spul speel so lekker hulle sien hom nie eers nie.
En toe haal hy die ergste van ergste skoktegniek uit sy woordarsenaal.
“Skreeu julle vir die Blou Bulle?”
Die woorde het oor die water weerklink. Ook die gelag van die grootmense. Ek het geweet dat daar baie terreine is waar ek meer entoesiasties sal moet wees oor wat reg en wat verkeerd is. Ek sal moet werk aan prioriteite en waardes – soos elke ouer maar moet doen. En ek sien uit daarna om al hierdie dinge met my kinders te deel.
Solank as wat hulle net sal aanhou om op te staan vir die regte van al Liewe Jesus se kindertjies – dierekinders of mensekinders.
Want dit is waarvoor ons hier is!
igno@intekom.co.za

No comments: