Thursday, July 05, 2007

Julio se pa se treinstel

Julio se pa het al begin planne maak vir sy aftrede. Toe gebeur die motorongeluk. Opeens was aftrede nie meer iets om na uit te sien nie. Dit was ‘n werklikheid. Medies ongeskik. En Julio se pa het begin twyfel aan homself. Hy was nie meer die broodwinner nie. Daar was nie sin in sy dag tot dag bestaan te vinde nie. Hy was afhanklik, en ja, selfs moedeloos.
Julio se ma moes ‘n plan maak met haar man. Die donker maalkolk van depressie het hom al dieper ingetrek. En sy moes die proses omkeer. Na lang gesprekke en omgedraaide sente besluit sy dat ‘n oorsese reis net die regte ding is. Die kaartjies is gekoop en die datum van vertrek het al nader gekom.
En toe besluit Julio se pa hy wil nie meer gaan nie. Hy hou nie van vlieg nie, vreemde lande staan hom nie aan nie. Vir soveel jare het hy ander se planne help uitvoer. Genoeg was genoeg. Hy wou tuisbly.
Julio se ma was slim genoeg om nie te karring nie. Maar sy het oor een ding voet by stuk gehou. Sy gaan geld spandeer, een van die familie sou saam met haar reis, maar in ruil daarvoor moes hy ook iets doen waarvan hy hou. Sy sou te skuldig voel om die enigste een te wees wat ‘n groot bedrag van sy pensioenuitbetaling gebruik. Dit was immers sy beloning vir jare se werk.
Na lang oorreding en laatnaggesprekke besluit Julio se pa toe op iets om te koop. As kind wou hy bittergraag ‘n treinstel hê. Sy ouers kon dit egter nooit bekostig nie. Nou was daar net een droom om te verwesenlik: Die Treinstel.
En toe gaan koop hy een. ‘n Duur een. Die ekwivalent van die koste van sy vliegtuigkaartjie. Almal het gewonder oor die aankoop…maar, soos ek mos sê – dit was sy beloning. Hy kon hierdie keer kies wat hy wou doen…
So begin Julio se pa se tweede lewe. Die treinstel het weer sy belangstelling wakker gemaak. Vriende het kom kuier. Stasies is noukeurig gebou en perronne aanmekaargesit. Julio se pa het weer begin lag. Die vonkel was terug in sy oë. Vroegoggend het hy nie lam in die bed bly lê nie, hy het gaan stap, planne gemaak, selfs weer dorp toe gegaan. Daar was altyd nog ‘n stasie, nog ‘n perron…nog passasiers wat kom deel word het van sy lewe.
Die hele gesin het die energie geniet.
Julio het my die storie vertel terwyl ons een oggend op die plaas stap. Teen die einde van die storie stop Julio in sy spore. Hy bly lank stil. Ek weet nie of hy emosioneel of filosofies is nie, maar ek wag. Hy draai na my en vra:
Het jy al jou treinstel in die lewe gevind?
En dit, liewe leser, is al wat ek jou vandag wil vra.

No comments: