Saturday, September 29, 2007

Luke Skywalker en verbeelding

Die tenger seun het droomverlore in die tuin gespeel. Iewers in sy verbeeldingswêreld was hy Luke Skywalker wat met die slegte ouens baklei het. Dit was sy onvlugting uit die druk van sy skoolbestaan en werklikheid.

Later by die skool het hy ook droomverlore gesit. Net gesit. Hy was ‘n bietjie hartseer omdat hy gevoel het dat hy sy pa teleurgestel het. Sy pa wou graag hê hy moes sport doen en presteer. ‘n Seun wees om op trots te wees. Nou was hy in ‘n kleiner skooltjie omdat hy nie met die hoofstroommassa kon kompeteer nie. Dit was net te veel vir sy sensitiewe gemoed.

Sy pa was uiters suksesvol. Hoë profiel besigheidsman. Sterk. Jare gelede voorry gespeel vir een of ander klubspan. ‘n Man’s man. Donker en aantreklik.

En in die aande het sy pa soms alleen in die sitkamer gesit. Soms was sy ma ook daar. Dan was daar die kwaai stemme. Hy het die kussing oor sy kop getrek en aan Luke Skywalker gedink.

Want hy was bang.

Hy was bang vir die langmourok wat sy ma die volgende somersdag sou moes aantrek. Hy was bang vir die kringe onder haar oë. Meer nog was hy bang vir die trane wat so vlak agter haar oë gelê het. Trane, nie van die seer van die blou merke aan haar arms nie. Maar trane van die onsienbare merke in haar hart.

Die enigste plek waar hy veilig gevoel het was die verbeeldingswêreld. Maar dis juis waar sy skoolprestasie ‘n knou gekry het. Hy droom te veel. Dit was elke onderwyser se oordeel. Hy moet beter konsentreer in die klas. Ons sal hom op medikasie moet plaas. Wat is fout met die kind?

Sy storie is maar een van talle soortgelyke stories wat ek elke dag hoor. Dis nie stories wat ver van ons af plaasvind nie. Hulle kom sit in klaskamers met allerhande afwykings, hulle word voortdurend veroordeel oor hulle skoolprestasies, hulle voel sleg omdat hulle nie die beste presteer nie, want hulle dink hulle stel hulle ouers en onderwysers teleur.

Hulle vind hulle saligheid in hulle eie verbeelding. Weg van die tronk van wêreldse druk.

En hulle wag vir iemand.

Iemand wat met ‘n sagte, nie oordelende stem, en teerheid in sy oë hulle naderwink en sê:

Laat die kindertjies na my toe kom.

No comments: