Tuesday, January 26, 2010

Gebed oor Bakugans

Die graad 1 klas bly ‘n miernes van bedrywighede. Benno het selfs een oggend gesê hy kan nie wag om skool toe te gaan nie, want die een dogtertjie verkoop Bakugans vir net drie Rand. Nou as mens in ag neem die goedkoopste Bakugans waarvan die hoog ingeligte graad 1 netwerk weet is R15.00, by Mêggies Fêshions, dan is hierdie ‘n reuse winskopie


Net jammer dat soos met enige besigheid wat dinge onder kosprys verkoop, was die dogtertjie se spesiale aanbiedinge van korte duur. Tog, die seuns se oë en ore bly oop vir enige nuus, advertensies of gerugte van Bakugans. Daar is ‘n paraatheid soos wat mens jare gelede in die Weermag gesien het. Benno oorweeg selfs om een of twee dinosourusse uit sy kleuterjareversameling te verkoop, ten einde sy versameling Bakugans uit te brei. En ja, wie ookal “Drago” mag wees, hy is die karakter wat saam met Benno bad en slaap, want hy is ‘n “good guy”.

Sodra dit klink of iemand die Bakugans kritiseer kom Anienie tussenbeide. “Hulle is nie verkeerd nie. Mens kan op TV kyk. Hulle leer mens goeie lesse oor vriendskap en goed-wees.” Tussenin word redekawel oor wie die beste Bakugan versameling het, wie die sterkstes het, en wie die meeste het –

En toe die storie.

Arné was by die skool. Een van die seuntjies se Ouma kom hom gereeld haal. Die ma werk harde en lang ure sedert die pa twee jaar gelede skielik oorlede is. Dan deel sy en Arné stories oor die kinders. Tog hierdie keer is die Ouma se verhaal iets wat mens diep laat dink.

Die vorige Dinsdag was dit twee jaar sedert die pa oorlede is. ‘n Besoek aan die graf teen laatmiddag, na werk is beplan. Toe hulle uit die motor klim haal die seuntjie al sy Bakugans uit. Dalk om mee te speel, hoe sal mens weet?

Maar nee.

Met sy stowwerige skoolskoene en uithanghemp kniel hy langs sy pa se graf. “Liewe Jesus, ek sal vir jou al my Bakugans gee, as jy net my pappa vir my teruggee.”

By die aanhoor van die storie tref die realiteit my. Geen materiële dinge kan die plek van liefde en omgee inneem nie.

Maak tyd vir dit wat vir jou saakmaak.

Tyd is nie geld of goeters nie.

Dit is baie meer waardevol.

Mag ons dit altyd onthou.

No comments: