Monday, November 15, 2010

Skole, trots en tandartse

Etlike oomblikke nadat die tandarts die spuit uit my mond gehaal het, het ek begin lam voel. Af in my linkerarm, toe so ‘n bietjie duiselig, en toe baie eienaardig. Die tandarts was reg oorkant ‘n mediese sentrum. ‘n Paar minute later is ek met ‘n rolstoel in die ongevalle afdeling ingestoot.


Wat presies gebeur het, is ek nie seker nie. Dit wil voorkom asof die tandarts se spuit een van die aartjies in my mond getref het, en die adrenalien wat deel van die inspuiting was deur die aar na my hart gegaan het, wat toe maar net hard gewerk het om daarvan ontslae te raak. Dis in elk geval die beste uitleg wat ek tot nou toe kon vind.

Nou was ek gesnoeker. Die tandarts kon niks verder doen nie, maar die seer in die tand wat my oorspronklik daarheen laat gaan het was nog nie weg nie. Ek het solank as moontlik uitgestel, rondgevra, en probeer om simpatie te wen. Tog, niemand kan mens se pyn en vrees ervaar soos jyself nie. Uiteindelik is ek op aanbeveling van verskeie mense na ‘n ander tandarts.

Met die eerste besoek was dit bloot ‘n ondersoek. Ek het ‘n kwotasie ontvang, en is fort huis-toe. Uiteindelik het ek die moed (en pyn) gehad, om weer te bel. Ek het geweet dit sou so twee weke neem om weer ‘n afspraak te kry, so ek was heel dapper. “O, ons is bly jy bel, ons het ‘n kansellasie môre,” het my uitgestelde angs in ‘n kitsnagmerrie ontaard.

Die tandarts was briljant. Seker een van die bestes. En ja, terwyl ek daar op die stoel lê in angssweet, sou ek uitvind dat hy ook van Bethlehem af kom Ook sy assistent. Dis op daardie oomblik dat ek toe om een of ander rede aan Bethlehem se twee Hoërskole dink. En ek wonder toe of hulle besef wat hulle vir mekaar beteken. Sien, ek dink jaar na jaar kompeteer Witteber en Voortrekker. En uit die kompeterende gees word gehalte onderwys verseker. En albei skole het uitnemende onderwysers en leiers. Soos ek weer vanjaar ervaar het.

Ek onthou hoe Witteberg se Meneer Botha my gehelp het met die reëlings rondom die fotofees – hoe hy gehelp het om koppies en pierings aan te dra. Hoe hy met trots die nuwe teater beskikbaar gestel het. Ek onthou ook hoe Mnr Burger van Voortrekker vroegoggend met ‘n manne ontbyt gehelp het om alles reg te kry toe ek as gasspreker moes optree. En terwyl ek so agteroor lê en onthou op die tandarts se stoel, word dit vir my al duideliker waarom hierdie twee skole sulke puik herinneringe by hulle oud-leerlinge meebring. Dit gaan oor trots.

Jy sien, toe ek regop kom, kon ek sien dat die tandarts trots was op sy werk, op sy praktyk en op die hantering van sy kliënte.

En ek was trots om te kan sê dat hy van dieselfde dorp as ek kom.

Want Bethlehem se skole maak ons trots op wie ons is, en waar ons vandaan kom. Hulle leer ons om trots te wees, maar nie arrogant nie, om nederig te wees, maar nie vernederd nie, en om altyd ons beste te doen – omdat daar niks so goed is soos gesonde kompetisie nie!

No comments: