Tuesday, November 16, 2010

Les van Anienie

Net die ander dag is Anienie skool-toe. Dit klink na so ‘n cliché om te sê dat die tyd vlieg. Maar toe ek my oë oopmaak hierdie jaar is sy in graad 5. En ek verstaan nie wat van die afgelope vyf jaar geword het nie. Die ergste is dat ander ouers vir my sê ek moet my gordel vasmaak, want die volgende paar jaar gaan nog vinniger gaan.


Tussendeur is Benno dwarsdeur graad 1 en besig om al meer ‘n seun as ‘n seuntjie te wees. Mens wil alles tot stilstand bring en net weer stilstaan en na jou kinders kyk, selfs wens dat jy hulle ‘n oomblik kan vasvang in tyd. Maar die lewe drafstap eenvoudig voort – van vakansies, skoolkonserte, huiswerk en oggend-aantrekkery na die einde van die jaar.

Hulle word groter, maar die meedoënlose tik-tak van Vader Tyd se horlosie staan ook nie stil vir ons ander nie. Op watter ouderdom hou mens op om groot te word, en begin jy oud word? Soos wat die kinders groei wonder ek al meer of my eie ouers so min geweet het soos ek toe hulle “ouer” was. Mens luister na aanbiedings, lees boeke, en sien allerhande bronne oor ouerskap. Steeds bly jou eie kinders uniek handleidingloos. Dit wat ander voorskryf, en wat vir hulle gewerk het, is nie altyd dit wat vir jou voel die beste is vir jou eie kind nie.

Die ergste is dat ek lief is vir lees. En hoe meer mens lees, hoe meer deurmekaar raak alles. En uiteindelik bou mens maar jou eie filosofie vir die grootmaak van jou eie kinders, wetende dat jy soms in duister rondtas. Dis dan dat mens onthou van geloof, hoop en liefde. En dat die grootste van die drie maar liefde is.

Elke nou en dan deel ek en Arné met mekaar ons bekommernisse, ideale, idees, onsekerhede en vrese. Soos meeste ander ouers. En dan, so nou en dan is daar ‘n verassing – ‘n besonderse rapport, ‘n goeie toets, ‘n gedeelde grappie. En ja, selfs ‘n wonderlike les van jou kinders se kant af. Hierdie week was ek besig om ‘n boek te lees waarin die skrywer praat oor hoe ons God sien. So terwyl ek lees, fladder Anienie verby, en ek besluit op die daad om haar te vra hoe sy God sien. Sy stop. Trek haar skouertjies op, en slaan my voete onder my uit: “Ek weet nie hoe hy lyk nie, Pappa. Ek is net baie bly hy is daar.”

En ja, ek weet dat God ook seker soms wonder oor Sy kinders. Maar dit maak nie saak nie, Hy is daar vir hulle. En ek besef dat ons nie altyd handleidings of oplossings het nie, maar dat ons seker net sover dit in ons vermoë is kan probeer wees om daar te wees vir hulle.

Want Hy is daar vir ons. Die Een wat werklik weet van ouerskap.

No comments: