Sunday, November 21, 2010

Liewe Anienie

Liewe Anienie,


Dis net die ander dag dat Pappa vir jou hier geskryf het. Jy was gereed vir jou eerste skooldag, en ek en mamma het met angstige opgewondenheid gewag om te sien watter weë die skoollewe met jou sou stap.

Nou staan jou graad 5 jaar al einde se kant toe. En ja, dit was nie ‘n maklike pad nie. Omdat jy ‘n dromer is, is jou pad soveel moeiliker as baie ander. En tog, my kind, pappa is so ongelooflik trots op jou. Elke oggend as ek jou by die skool aflaai, en sien hoe jy kop-onderstebo en droomverlore staan, dan wil my hart breek. Ai, pappa wens ek kon selfvertroue in ‘n boks koop, en dit kersfees vir jou gee. Ek wens ek kon woorde van bemoediging in jou kosblik pak sodat jy dit kon uithaal en eet as dinge pouses moeilik raak. Ek wens ek kon vir jou ‘n skuilplek wees as kinders ongenaakbare opmerkings oor jou maak. Ek wens ek kon vir net een spesiale maatjie wys watter lojale, liefdevolle en besonderse maatjie jy is. En meestal wens ek dat ek ‘n spieël kan wees waarin jy kan sien watter wonderlike, wonderlike dogtertjie jy is.

In een van Koos du Plessis se liedjies sing hy treffend vir een van sy kinders:

Ons val soms, en almal kry seer, my kind, dit is al wat ek jou kan leer.

Pappa wil vandag vir jou sê dat seerkry gaan altyd gebeur, maar dat ek hoop dat dit jou sal leer om op te staan. Jy sien, die enigste ding wat Pappa en Mamma nie kan bekostig nie is om geloof in jóú of in die Here se plan vir jou lewe, te verloor nie. Dis ook die een ding wat die hardepad mens leer – om gelowig te wees. Pappa hoop dat elke hartseer traan wat oor maatjies gestort word, die groeiplek van jou menswees sal vrugbaar maak vir omgee vir ander. Ek hoop dat elke ongevraagde opmerkingspyl nêrens ‘n stoorplek jou sagte sielsteiken sal vind nie, maar sal wegval en toegroei met woorde van liefde en omgee.

Die moeilikste deel van ouer wees is om te sien hoe mens se kind swaarkry en seerkry. En waarom dit met die sagstes die ergste moet wees sal ek seker nooit verstaan nie. Miskien omdat sagte klei in ‘n harde oond gebak moet word om goddelike kruike van genade te word. Die een ding wat ek net wil hê jy moet mooi verstaan my kind, is dat pappa en mamma altyd sal probeer om daar te wees vir jou, dat ons onwrikbaar in jou glo, dat ons met ‘n glimlag staan as jy jou verbeeldingspeletjies speel wat ander maatjies net nooit verstaan nie, dat ons ook weet dat jy nog ongelooflike dinge gaan doen in jou lewe, dinge wat die wêreld ‘n beter plek gaan maak – omdat ons sien dat jy gebrei word daarvoor.

Liewe dogtertjie – jy word groter, jou hart raak oper en die wêreld oënskynlik wreder. Onthou net om te bly droom, te bly hoop en te bly glo.

Ons het jou soort meer as ooit nodig.

Liefde,

Pappa.

No comments: