Monday, November 22, 2010

Rowwe naweek

Soms, net soms is iemand anders se erns iets wat verstommend kostelik, en selfs snaaks is.


Een van hierdie kostelike momente het onlangs gebeur toe Anienie by ‘n maatjie gaan kuier het. Nou met kuiers, soos met skooldae, is dit asof mens die inligting by die kinders moet “bedel.” Die gewone antwoord op die vraag: “Hoe was jou skooldag?” is gewoonlik iets soos: “Orraait, Okay of Nie te sleg nie.” Daarmee is die gesprek gewoonlik afgehandel.

Nou ek het al geleer om alles te doen wat die gesinstydskrifte voorstel. Die motorradio word afgeskakel, die vraag hang in die lug, en dan wag mens maar vir antwoorde. Soms is daar sommer ‘n stortvloed woorde, ander kere niks.

Saterdagoggend het ek en Arne vir Anienie gaan oplaai na ‘n kuier by ‘n maatjie. “So hoe was die naweek?” Die vraag het in die lug gehang. En toe, na ‘n rukkie die antwoord.

“Erg.”

Ons luister.

“Julle sien, ons klim toe in die kar om saam met die oom en die tannie na ‘n eetplek toe te gaan. En daar sit ek, agter in die middel. En die oom en die tannie begin te rook. Hulle rook sulke blou wolke, en al die wolke kom tussen die twee sitplekke deur, reguit na my toe. Ek kon omtrent nie asem kry nie. “

Dan is sy ‘n oomblik stil.

“Maar dit was nie die ergste nie!” Ek en Arné kyk na mekaar en wag vir die hoogtepunt van “erg.” Het die mense gejaag? Het die motor gebreek? Al die moontlike scenarios blits deur mens se verstand.

En toe, na haar dramatiese pouse:

“Net toe eg dog dit kan nie erger nie, toe sit hulle hulle Bloubul musiek kliphard. Geen mens kan dit hou met die Bloubulle geraas nie.”

En ek kan nie anders as om saam te stem nie.

Geen mens kan dit hou met die Bloubulle se geraas nie.

Dit kon nie erger nie. Met ‘n glimlag kyk ons na haar, en Arné draai om met ‘n vonkel in die oog:

“Sjoe my kind, dit was ‘n rowwe naweek.”

1 comment:

Anonymous said...

daar skort iets met die kinders se opvoeding. Bloubul geraas bestaan nie, dis n jok-storie, daar bestaan net bloubul musiek. Mense verwar die liedjie, want as n mens baie mooi luister dan sal jy hoor dit bevat die note van n triomf mars! Gaan luister weer en julle sal dit hoor, n triomf mars!