Thursday, November 18, 2010

Nie 'n idol nie

Ek maak geen geheim van die feit dat ek nie die wêreld se grootste sanger is nie. Ek kyk nie eers Idols nie, want dit is heeltemal te ver van my eie verwysingsraamwerk – mense wat so kan staan en sing, musiek maak, en ja, selfs op die regte noot bly! Dis ‘n geskenk wat uitgedeel is onder ‘n boom waar ek nie was nie.


Verlede week hou die kleuterskool waar Arné skoolhou konsert. Geleidelik begin die opdragte deurkom. Eers is ek net ‘n bywoner en ondersteuner van my vrou, kort daarna hoor ek dat ek die seremoniemeester is, en net voordat ons ry vir die konsert verneem Arné dat die fotograaf se kamera gebreek is, en ek word dood eenvoudig ingelig dat ek ook sommer as fotograaf moet optree. En ja, daar moet een of twee kort video’s vertoon word – ek moet net met die klankman sinchroniseer. En o, ja, daar is ‘n lied wat gesing moet word as die skriflesing en gebed verby is...

Genadiglik hou die lysie uiteindelik op toe ons by die saal stop. Die kinders begin arriveer, en ek kry die program – ek moet net kophou reken my geliefde vrou, daar is so ‘n paar veranderinge, maar niks ernstig nie. Teen hierdie tyd is ek ordentelik deurmekaar, maar ek weet ek moet uiterlike kalmte uitstraal, anders klits ek almal om.

En so begin die program. Alles loop baie mooi – die verwelkoming, die video’s, die skriflesing en gebed. En toe verlaat die dominees die verhoog.

Op die bord is die gesang. In my hand is die mikrofoon.

As dinge nie so vinnig gebeur het nie, sou ek seker kon kophou, en die gesang laat verbygaan. Maar nee, op daardie stadium is ek so betrokke by die proses dat ek die gesang aankondig. Later sou ek hoor iemand moes ‘n CD met begeleidende musiek reël, en het vergeet! Op daardie oomblik is dit egter tyd vir my om “in te sit”.

Die trekkerige vals klank van my eie stem, is die eerste wat terug-eggo – saam met die dwaalsang van een of twee simpatiseerders. Ek besef ek moet red: “Nee, Dames en Here, ons kan beter doen! Kom ons begin weer.” Hemele behoed my, toe ek dit klaar genoem het, besef ek dat ek weer sal moet insit... My entoesiasme kwyn toe ek by die tweede reël agterkom dat ek besig is met ‘n onbegeleide solo. “Nee, mense, ons moet sing!” Toe ek die vierde keer stop en voor begin, besef die gehoor dat hulle vanaand gaan moet saamsing, of hulle gaan na hierdie mannetjieskatgeraas-solo moet luister vir die res van die aand. Ons sing een strofe, en genadiglik kom die gesang tot ‘n einde.

Die res van die aand het vlot verloop. Ek bedoel, dit kon nie juis erger nie. Nie nadat ek soos ‘n verdwaasde idols-deelnemer ten toon gestel het waar my talente juis nie lê nie.

Die interessante was dat dit die eerste kleuterkonsert was, waar die kleintjies uit volle bors saamgesing het – hulle het seker besef:”Eerger as daardie onvoorsiene voorvertoning kan dit nie!”

No comments: