Wednesday, February 09, 2011

Die teddiebeer met die zol

Soms val die sonstrale van mens se kindertyd deur die kraaksinkdak van ouer word. Dis dan dat jy net vir ‘n oomblik die innerlike warmte van nostalgie voel. En sulke sonstraalsit-oomblikke is seker van die kosbaarste, veral as hulle jou onverwags kom verlig.


Dit was sommer so tussen die vrugterolletjies op die winkelrak met ‘n haastige Vrydagaand aankoopsessie dat ek aan Adriaan Naude dink. Adriaan was ons bure se seun – een van daardie hoogs begaafde skoliere wat die radar van die skoolelite vernuftig en onwetend omseil, om dan ‘n paar onderskeidings te kry, sonder fanfare ‘n ingenieur te word, en mens te laat uitbars van die lag – jare later- terwyl jy na vrugterolletjies kyk.

Tannie Wilna van Schoor was een van ons wonderlike plaasbure en ons het dikwels saam met haar kinders tyd verwyl. Tannie Wilna was nooit regtig kwaai nie, maar ons het ook geweet om in ons spoor te trap. En dit is wat ek en Adriaan nie kon doen nie. In elk geval nie as die hele kamer vol vrugterolletjies was wat netjies onder ‘n net opgerol was nie. Ek weet nie waar die ander kinders daardie dag was nie, maar ek en Adriaan beland saam met tannie Wilna in die huis. Teen daardie tyd het die tannie al vir ons elkeen ‘n paar vrugterolletjies gegee, maar uit ervaring het ons geweet dat mens nie meer as jou kwota durf vra nie.

Dis toe die tannie gaan tee maak dat ek en Adriaan die oogkontak van twee samesweerders deel. Soms hoef mens niks te sê nie. Net te weet dat hier ‘n klein geleentheid is, en dat mens dit met beide hande moet aangryp.

Hoe tannie Wilna so vinnig teruggekom het, sal ek tot vandag nie weet nie. Al wat ek weet is dat ek die hele vrugterol in my mond ingebondel het en probeer het om so onskuldig moontlik te lyk. Dis toe ek na Adriaan kyk dat ek nie verstaan nie. Op sy gemak gesels hy met Tannie Wilna oor die weer en die impak daarvan op vrugterolle. Die rolletjie wat hy pas gehad het, het tussen hand en mond verdwyn.

En toe val my oog op die teddiebeer...

Tot vandag toe sal ek nie weet hoe Adriaan dit so vinnig gedoen het nie, sy reaksies moes blitsig wees. En toe ek dit sien is dit so snaaks dat ek glad nie die perskerol in my mond kan hou nie. Die teddiebeer wat stigtelik agter Adriaan op die rak sit, het nou ‘n vrugterolzol in sy mond. Dit hang skeef soos Columbo s’n by sy mond uit terwyl Adriaan, die meester zolverskaffer, toonbeeld van onskuld, en kenner van weerpatrone se impak op vrugterolle salig gesels – asof heuning nie in sy mond kan smelt nie.

Ongelukkig was sy bondgenoot ook sy ondergang. Ek kon die humor van die teddie nie weerstaan nie. Met ‘n proessproei het ek my perskerol uit my mond laat kom, darem in die hande gevang.

Tannie Wilna het niks gesê nie, ek wonder soms of sy iets opgemerk het, maar tot vandag toe, as ek vrugterolle sien dink ek aan Adriaan Naude en die teddiebeer met die zol.

En dan glimlag ek, want sommige herinneringe is soos kosbare sonstrale wat jou Vrydagaandaankope met ‘n glimlag laat doen.

No comments: