Wednesday, February 09, 2011

Oor die bye en die blomme

Ek weet al lankal dat mens versigtig moet wees vir wat jy jou kinders op televisie laat kyk. Maar die laaste plek waar ek verwag het Benno van die bytjies en blommetjies sou leer was op Discovery Channel. En alles het nogal met sy ma se entoesiastiese ondersteuning begin. Toe Arné sien daar is ‘n program oor Tyrannosaurus Rex op die televisie, het sy alles laat staan en Benno geroep om te kom kyk. Hy is mos sedert sy kinderdae versot op dinosouriërs. Veral Tyrannosaurus Rex.


Tog, hierdie keer het Arné verkeerd gelees. Die program se naam was eintlik Tyrannosaurus Sex. En dit het bespiegel, heel grafies nogal – oor hoe die Tyrannosaurus miljoene jare gelede sou voortplant. Nou ek was nie daar om Benno se gesigsuitdrukkings te beleef en sy totale fassinering met die vreemdsoortige optrede van die Tyrannosaurus nie. Ek was ook nie daar toe hy Arné bombardeer met vrae nie. Ek het gelukkig laatmiddag tuisgekom, met Benno wat my by die agterdeur inwag.

“Pappa, ek weet nou ook van Tex.” Ek staan uit die veld geslaan. Sover ek dit het is ‘n Tex ‘n tipe sjokolade, of, as dit anders gespel word, iets wat mens met ‘n selfoon doen wanneer jy SMS’e stuur. Terwyl ek die woord probeer prosesseer val Anienie in: “Ja, en dit is onregverdig, julle het my eers vertel toe ek elf was.” Nou is ek eers uit die veld geslaan. Die oorslaan van die werk se situasie na die huis se gesprekke is soms ‘n groter sprong as die een waarvan Niel Armstrong gepraat het toe hy van daardie “giant leap for mankind” melding gemaak het.

Met Arné wat aansluit verstaan ek uiteindelik diekonteks van die gesprek. Benno is baie opgewonde oor die nuwe inligting wat hy bekom het. Hierdie kan ‘n sosiale deurbraak in die graad 3 klas beteken. Dis immers inligting waaroor hy nie weet of sy maats beskik nie, en iets wat dalk net so goed soos ‘n effe vuil Van Der Merwe grappie ontvang kan word deur sy klasmaats. Ek en Arné moet nou eers hokaai roep en baie omsigtig verduidelik dat sy planne vir ‘n sosiale deurbraak dalk tot sosiale skande kan lei. En genadiglik verloor hy belang.

Totdat hy en Anienie die naweek stry kry. Sy wil nie met hom speel nie, en hy is woedend. Ma is die eerste klagtekantoor, maar met ‘n skrumskakelaangee word die weerlig na my herlei: “Pappa, Anienie wil nie met my speel nie. Ek wil ‘n bababoetie hê.”

Ek is weer so uit die veld geslaan dat ek nie weet watter kant toe nie, en gee toe maar ‘n afwykende antwoord: “ Nee, pappa is te oud. Babas sal my mal maak. Jy moet maar wag tot jy jou eie kinders kry.”

Hy gaan staan doodstil. Frustrasie straal uit sy hele lyfie.

“Pappa, ek wens ek kan, maar ek weet nie hoe om te Tex nie.”

No comments: