Sunday, April 10, 2011

Om te reis met 'n vol kattebak

Dit was kort nadat ek ‘n aanbieding vir ‘n groep dames gedoen het dat sy my genader het. “Ek het so ‘n paar idees vir foto’s wat jy kan neem.” Sy het verduidelik wat sy in gedagte gehad het. ‘n Huis waar na Vigsleiers omgesien word, ‘n boom vol strikkies vir elkeen wat daar gesterf het. Dan was daar die arm man wat langs die pad gestaan het, en die tuinman. Soos wat sy verduidelik het was die prentjies reeds helder voor my.
‘n Week of twee later kom die e-pos. En sommer so, terloops, sal ek uitvind dat sy die dogter is van die regter wat in beheer was van Nelson Mandela se hoogverraadsaak. Haar man weer, op sy beurt, was regter Harmse van die Harmse kommissie. En die stories stroom eenvoudig terwyl ons ry. Latere ontmoetings met Nelson Mandela, die plakboek wat sy aan hom oorhandig het met al die artikels oor die verhoor. Dis asof Suid-Afrika se geskiedenis net eenvoudig lewendig word wanneer Irene Harmse daaroor praat.
Die sentrum waar Vigsleiers behandeling ontvang is slegs ‘n paar kilometer buitekant Bloemfontein. Irene ry moeiteloos tussen die slaggate en klippe deur. “Ek het op ‘n plaas grootgeword. Moenie kommer oor die pad nie.” Toe ons voor die huis stop haal sy voorraad uit die kattebak. Noodsaaklikhede vir die mense wat swaarkry. Dit word afgelaai sonder seremonie. Asof dit maar is soos dit moet wees. Na ‘n gesprek met die tydelike bestuurder van die sentrum stap ons deur die huis. ‘n Spastiese meisie in ‘n rolstoel lag onbedaarlik toe sy Irene herken. Die vadoek op haar skoot is papnat van die straal speeksel wat sy konstant kwyl. “Dankbaar vir ‘n heenkome. Haar ouers het geen geld gehad nie, haar uitgehuur vir haar lyf.” Ek verstaan nie. Hoe kan mense so iets doen? Aan hulle eie kind? “As jy nie geld het nie, dan doen jy enige iets om te oorleef.”
Ten spyte van die feit dat die Dood voortdurend in die huis hang, speel kinders vrolik buite. Buite getuig rooi strikkies aan die boom van elkeen wat al hier gesterf het. Sommige sonder identiteit of familie, ander weer sonder hoop.
Die uitstappie verander in ‘n reis na mens se eie wese. Daar is dinge wat nie met ‘n kamera of ‘n storie vasgevang kan word nie. Dinge wat mens seer en dankbaar laat voel. Dinge wat jou lewe verander sonder dat jy alles kan begryp.
En soms, net soms, verander mens se lewe, terwyl jy saam met ‘n gids foto’s soek in plekke waar ander swaarkry en jy wonder oor ‘n leë kattebak, en of jy nie dalk net soms iets moet inlaai vir iemand anders nie...

1 comment:

Anonymous said...

Hier het jy nou my hart raakgeskryf! Dankie