Sunday, April 10, 2011

Wanneer kinders planne maak...

Met die afgelope langnaweek eindig ons weer op Bethlehem by my sussie-Die kinders kan nie wag om by hulle tannie Lut se plaaspartytjieplek “Horses 4 Joy” te kom nie. Ten spyte van die feit dat dit die ou vleiskamer is wat met perdeplakkate en allerhande perdestal-gereedskap opgemaak is, en al word daar nie eers altyd perdgery nie, het Tannie Lut daarin geslaag om hulle te oortuig dat dit die prettigste plek onder die son is.
Hierdie rondte eindig die twee niggies toe saam met hulle tannie, en hulle wil perdry. Tannie Lut word toe hoofgetuie van die volgende gesprek. Anienie, my dogter, en haar niggie Annerie is albei perdgek. En dit is Anienie wat die saak vir die aanklaer teen haar ouers sommer driftig opneem. “Ek gaan my pa forseer om vir my ‘n perd te koop!” Dit is net hier waar die gesprek vir Tannie Lut te interessant raak om nie betrokke te raak nie: “En Anienie, hoe gaan jy dit regkry?”
Teen hierdie tyd val Annerie ook met die versugting van ‘n dogtertjie wat ‘n perd wil hê in: “Met moeite!” Tog, Anienie laat haar nie afsit nie: “Nee, met ‘n cute en innocent gesiggie.” En dan vertel sy ook sommer hoe mens jou pa eintlik moet benader: “Jy begin deur te vra vir ‘n olifant. Jou pa sal dit mos nie kan doen nie. Dan vra jy ‘n renoster. Hy gaan dit weer nie kan doen nie. En so hou jy dan aan. Dan, eendag, vra jy vir ‘n perd. Jou pa het teen daardie tyd al soveel keer nee gesê dat hy eenvoudig moet ja sê.”
Nou tussen al die wyshede deur het hulle heerlik gekuier, perdgery, perde geroskam, en sommer heerlike ure saam met hulle tannie verwyl. Die volgende dag was dit weer kuiertyd saam met hulle tannnie. En oppad terug is dit Anienie wat weer praat oor iets waaroor sy skynbaar ‘n hele rukkie gewonder het:
“Tannie Lut...” ‘n Klein stemmetjie van agter uit die motor.
“Ja, Anienie?”
“Tannie Lut, ek weet dis ‘n lelike vraag, maar wie gaan die sleutel vir Horses 4 Joy kry as jy eendag doodgaan?
Tannie Lut kon haar lag skaars hou. Maar ja, sy het ‘n weldeurdagte antwoord gegee. En Anienie het die gesprek afgesluit: “Dis nie dat ek wil hê dat  tannie moet doodgaan nie. Dis net dat ek gewonder het.”
En tannie Lut het wys geantwoord: “Toemaar, Anienie, ek beplan nie om nou al dood te gaan nie, ek het nog te veel lekker dinge om te doen.”
Soos om te luister na die gesprekke van dogtertjies wat weet hoe om met hulle pa’s te werk, en die wonderwêreld van perde waardeer.
Want, Tannie Lut was ook een van hulle!

No comments: