Sunday, April 10, 2011

Boerdery in die huis!

Boerdery in ‘n huis is ‘n anderster soort ding. Tot sover werk dit nie vir my nie, maar ek is mos die persoon met die minste stemreg in my huis. My rol is broodwinner en nie stemgeregtigde nie. Dit het al ‘n paar jaar gelede met Benno en die paddavisse begin. Elke jaar as dit reën “verskyn” die paddavisse in ons visdam, en die plotboerdery brei uit. Hier reken ek nie eers Skoonma en haar katte in nie – en vergeet nie van Rosie, die wit konyn, wat in Skoonma se badkamer loseer het nie. Dankie tog, die honde bly nog buite. Mens moet darem iewers jou voet neersit.
Met Benno se verjaardag het ek ‘n oomblik se breinstilstand tydens die aankoop van die geskenk. Tog, op die boks lyk ‘n mierkolonie wat jy soos ‘n akwarium aanhou, nie na ‘n slegte idee nie. Totdat ek die spul begin aanmekaarsit en reeds met die “eenvoudige” stap-vir-stap instruksies dinge verkeerd verstaan en die plakker plak wat die hele kolonie isoleer van mense-aangesig. Uitieindelik, met die hulp van Broer Frans is die kontrêpsie gebou, en is dit tyd vir die volgende stap. Miere vang. Die instruksies noem dat jy ‘n klompie miere by een miernes moet vang, met ‘n lepel nogal. Hulle gee so ‘n klein plastiekbotteljie saam waar die gevangenis gestoor word totdat hulle na die nuwe “binneshuise-kolonie” oorgeplaas word.
Elke keer as ons gelukkig is om een mier te vang, en ons maak die botteltjie oop, spring die huidige gevangene uit. Ek voel soos Sisyphus. Die ou wat rotse teen die berg oprol, en dan rol hulle weer af – ‘n eindelose gerollery van klippe, of, in my geval, gelollery van miere. Op die einde het ons drie miere – alles behalwe ‘n kolonie. Gelukkig verloor Benno ook belang. Net tot die volgende boerdery-insig ons uit ‘n totaal onverwagte oord tref!
Rona Swart is baie slim. Sommer ‘n reuse spul onderskeidings gekry. Nou wat haar besiel het om vir Benno te vertel dat hy R500 vir brulpaddas kan kry weet nugter. Dalk het sy een aand te veel studeer, dalk het sy haar kop gestamp toe sy uit hulle motor klim terwyl hulle oppad was van hulle vakansie in die Kaap, en gou kom inloer. Terwyl sy salig saam met haar gesin hulle reis voortsit bars die herrie los in die huis. Skoonma en Benno is aanmekaar. Skoonma sien nie kans dat haar bad ‘n brulpaddatelery moet word nie, en Benno is bereid om haar vyf rand van elke R500 te gee wat hy gaan invorder. Anienie is reeds buite-toe om groter paddavisse te gaan soek. ‘n Nuwe era het begin.
Die brulpadda era...
Ek glip maar saggies by die deur uit werk toe sodat Skoonma en Arné die “grondhervorming” of “badhervorming” uitsorteer.
Soms is broodwinner wees nie so sleg nie.

No comments: