Monday, June 06, 2011

Daar loop spoke in ons huis

Daar loop spoke in ons huis. Hulle los die melkbottels se proppe af, hulle laat leë joghurt houertjies met taaierige blink deksels agter, en hulle maak nie die yskasdeure toe nie. Dit lyk ook of dit niemand in die gesin, behalwe vir my, pla nie. Dis asof dit my lot is om elke keer eerste op die spook se werke af te kom. En dan, durf ek dit waag om te dink dis een van die kinders, vind ek dadelik uit dat hulle nooit so iets sou doen nie, en dat dit eintlik ‘n vreeslike belediging is om selfs te durf vra of dit die betrokke kind was. Ek het selfs al begin dink om op skoonma te spioeneer. Dalk het sy een of ander los-dinge-oop afwyking. Tog, sy kla self oor ligte wat aangelos word en deure wat op misterieuse wyse oopbly.
Dis nogal snaaks dat hierdie spoke slegs loop wanneer die kinders tuis is. Wanneer hulle terug op die skoolbanke is na ‘n naweek of vakansie, raak die spoke ook stiller. Dis asof hulle ook skoolgaan. En dan, in die middae kom dieselfde spokery weer te voorskyn wanneer die kinders huiswerk gedoen het. Hierdie keer steek hulle potlode, penne en ja, selfs skoolboeke weg. Die kind kan sweer hulle het die potlood of boek nou net iewers neergesit, en ja, sowaar as wraggies, dis net skoonveld. Tog, die spoke is nie venynig nie. Heelwat later spoor ons die boek of pen of watookal op. Nogal iewers waar die kind gedurende die middag gedwaal het. Tog, die kind sou dit seer sekerlik nie self gedoen het nie. Die spook probeer net dat iemand anders skuldig lyk.
En dan is daar nog die klere wat die kinders so sorgvuldig in die wasgoedmandjie gooi. Net om weer uitgegooi te word deur die spoke. En wanneer pappa in die badkamer instap lê die klere op die vloer. Gewoonlik roep ek die kind. “Benno! Kom gou hier...” Hy weet ook al dis die spoke want ek hoor hoe hy sug as ek hom roep. “Kan jy glo my kind? Pappa weet jy sou nooit jou klere hier gegooi het nie. Maar kyk nou net wat het daardie stoute spoke alweer gedoen. Ag help tog maar net weer om dit stewig terug te pak in die mandjie.” Hy pak maar gedweë die klere in die mandjie. Kyk ook skalks na sy pa asof dié se varkies nie meer lekker op hok is nie, en verdwyn dan terug na waarmee hy ookal besig was.
Gedurende die afgelope vakansie en langnaweke was die spoke woes besig. Speelgoed het uit kaste geval, die televisie is aangeskakel nadat die kinders dit afgeskakel het en ja, daar is selfs plastiekhouers uitgedra na die visdam by die tuin. Die honde het ook niks gesien nie. Ek kan in elk geval niks uit hulle gedrag aflei nie.
Dalk is dit net ek.
Sal seker maar ‘n sielkundige moet gaan sien oor die spoke.
Ek hoop nie hulle sê ek leef in ontkenning nie.

No comments: