Monday, June 13, 2011

Soms was 'n pak slae net beter...

Ek was nog op laerskool. So ongeveer standerd drie. Deesdae praat ons van Graad vyf. Hoe dit gebeur het sal ek nooit weet nie. Tog, toe ons die wiskunde boeke oopmaak is my verbeteringe nie gedoen nie. Die hoof was meneer Maree. Genade was daar nie. As jou verbeteringe nie gedoen is nie, dan was ‘n pak slae jou voorland. Meneer Maree was seker nie ‘n nare mens nie, en ek was nie met opset ‘n stout kind nie. Tog, hy het my gelooi sodat ek dit vandag nog kan onthou.
‘n Jaar of wat is meneer Maree toe weg by die destydse Volkskool Hoogland, en het ek nog met hom korrespondeer. Ek was seker maar ‘n eienaardige kind wat met oud-onderwysers en proef-onnies korrespondeer het. Dit was in die dae van slakkepos en seëls, en ja, die korrespondensie was nie eensydig nie. Ek sit vandag nog met bokse vol briewe – briewe van oud onnies, van ma – toe ek in die weermag was, en ja, allerhande mense-in-briewe-oomblikke waarvan ek nie kan ontslae raak nie.
 Later het ek Meneer Maree weer raakgeloop toe ons albei vir die onderwysdepartement gewerk het. En verlede week by die rugby. En elke keer het ek daardie pak slae onthou. Miskien omdat ek so teleurgesteld in myself was oor ek van die verbeteringe vergeet het, miskien omdat ek dit as so onregverdig beskou het omdat my intensie nooit was om stout te wees nie. Miskien was dit bloot omdat dit my eerste pak slae was, en die vrees in onuitwisbare ink op my kindergemoed geskryf het. Miskien omdat die doel van die pak slae was om my te help om beter te doen deur te leer dat verbeteringe my help om my wiskunde te verstaan en ‘n beter rapport te kry.
En nou is ‘n pak slae nie meer deel van die onderwysstelsel se mondering nie. Huiswerk word dikwels ontvang met omslagtige take, en ja, daar is ‘n ander vorm van dissipline. Die ander dag het Anienie haar taak vergeet. By die skool aangekom sien sy al die ander kinders het hulle take by hulle. Ek dink haar skok was maar soos myne met die wiskunde verbeteringe.
Op my tyd was die straf seker lig maar doelgerig. ‘n Pak slae. Vir Anienie is dit anders...
Anienie het die volgende dag haar taak probeer ingee. Die onnie het geweier. Sy sal nul kry. Sy moet leer. Ek verstaan dit, maar ek verstaan ook nie. Sien, my straf het my geleer om te doen wat ek moet doen, maar die doel was om my beter te laat doen op my rapport. In haar geval is dit haar rapport, die verslag oor haar skoollewe wat swak lyk. En ja, in my tyd was dit my ego wat op die spel was, vir haar gaan dit oor haar selfbeeld as leerder.
‘n Pak slae was net soveel meer regverdig.

No comments: