Friday, October 28, 2011

Die langer dae is oppad!

 Die jaar het gedraai. Ja, die dae gaan nou weer langer word en hopelik sal die koue ook geleidelik wyk. Ek het geen probleem met die winter nie, dis net dat die kort dae soms vir die kinders te veel raak. Daar is nie genoeg dagligtyd om van hulle energie ontstlae te raak nie, en dan wil hulle dit in die aande uitbaklei.
Die natuur het my deksels vinnig ‘n streep getrek. Net die ander dag was ek die stout kind met wie geraas is omdat ek nie my broers en susters in vrede kan laat nie. Nou is ek die pa wat die raaswerk doen. En dit het te vinnig gebeur.
Ek is doodseker my ouers sit in die hemel en giggel oor my frustrasies.  En ja, hulle het dit sien kom. Ek dink nie my pa het ooit bedoel om ons te vervloek nie, maar ek onthou nog baie goed hoe hy eendag, duidelik uiters gefrustreerd met die toestand van die motor na ‘n aand by die inry, vir ons sê:  “Mag julle kinders eendag tjips en vetterige goed in julle motors eet, sodat julle kan voel hoe dit voel.” Wel, ek voel deesdae hoe dit voel. En pa se woorde spook elke dag.  Veral as ons die lang pad vat.  Dis ook nie asof ek ondersteuning kry nie.  Arné beskou reis as vervoer.  Jy ry ver, en die kinders moet ge-voer word.  Dus is ek die defeated minority, soos Julius Malema dit sou stel.
Nou, synde in die minderheid, en synde oorwonne, ly ek maar die laaste tyd in stilte.  Tog, ek glo die lente gaan alles verander.  Ek glo al die afgelope ses jaar so, en miskien is ek besig om glo en hoop te verwar. Nou moet ek sê ek het al ‘n bietjie vrede oor die motor, maar die kinders se winteraand gestry en bakleiery kan ek nog nie verwerk nie. Nie oor enige ander rede as die feit dat hulle oor totale sinnelose, nietige en irrelevante dinge baklei nie. Benno sal sommer uit die blote vir Anienie sê dat sy lui is, of dat sy een van sy albasters gesteel het. Dan word die ouer-as-prokureur ingeroep, en minute later is mens besig met een of ander veldslag wat nooit eers deel van jou eie oorlog moes wees nie.
Teen die einde van die aand is die prokureur die skuldige en die kinders het vrede met mekaar gevind. Hulle is immers nou in dieselfde span – die span wat die badkamervloer in ‘n swembad omvorm en die nie-lineêre verstrooiing van klere rondom die wasgoedmandjie met die grootste grasie vervolmaak.
Teen die einde van badtyd het ek gewoonlik al meer dreigemente uitgedeel as wat Bush vir Hussein uitgedeel het, en slaan ek pap op die bed neer.  Dan kyk ek na die horlosie en sien dis nou eers 7 uur.
Die aand gaan begin.
Ek kan nie wag vir die lente, die somer, die warmte, en ja, meer as alles, die langer dae nie!

No comments: