Friday, December 16, 2011

Oor stories en afdraaipaadjies

Toe ons die eerste keer by Nieu Bethesda indraai is dit reeds laat skemer. ‘n Sagte motreën ritsel teen die motorruite vas en ons het pas die langer grondpad van Middelburg se kant af uitgery met weerligstrale wat in die verte kortstraalklief.
Met die eerste opslag vat Nieu Bethesda my gedagtewêreld terug na Clarens van jare gelede. Stofstrate, straatbrakke en mak katte dwing jou eenvoudig om stadiger te beweeg. En hoe nodig het ons dit nie om net so nou en dan in stofstrate tot stilstand te kom na die teergeraas van ‘n jaar se Rotteresies nie. In Nieu Bethesda is daar geen straatligte nie, maar ons gesin stap nadat die donker sy kombers oor die dorpie getrek het in die kwartmaanlig deur donker strate.
Benno groet iemand wat in die donker staan en rose natlei, en ons begin met Oom Louw gesels. Oom Louw gaan pluk ‘n roos uit sy tuin om vir ons te wys dat alle rose nie deesdae massaproduksie rose is nie. “Ruik gerus, hierdie rose ruik nog na rose.” En inderdaad is daar die kenmerkende reuk van die rose van my kinderdae. Vir die tweede keer in twee weke kom ek weer onder die indruk van die wonderkrag wat reuk het om mens na jou kinderdae te verplaas.
Die kinders is heeltemal tevrede om skermloos in die huisie te oornag. En die volgende oggend, na ‘n huisstoepontbyt by een van die ontbythuise besoek ons die Uilehuis. Die toeriste-aantreklikheid waarvoor Nieu Bethesda bekend geword het. Vir die kinders is die lekkerste egter om op ‘n fossieltoer en fossieluitwysings-ekspidisie te gaan. Die “tannie” wat hulle rondwys demonstreer met waterbottel in die hand hoe fossiele uigeken kan word, en te vinnig kom ons besoek tot ‘n einde. Hoewel die tyd gaan stilstaan het, het die tyd ook gevlieg. Ons wou nog donkiekar ry, ‘n paar ander draaie stap, en ja, net nog bietjie langer op die sendingstasie van stilword vertoef, maar ek moet daardie aand in Port Elizabeth wees. Tog, daar was die hartsbelofte van ons sal weer kom. Maar selfs ek het nie geweet hoe vinnig dit sou wees, en watter ongelooflike kersfees-ervaring ons tweede besoek sou meebring nie. Daaroor sal ek volgende keer meer vertel.
Intussen het my gedagtes gaan stilstaan by die Clarens van my kindertyd. Die kunstenaar wat in die grot gebly het, die stofstrate en straatkafee. Êrens het daardie Clarens plek gemaak vir die nuwe Clarens, ‘n wonderlike toerisme aantreklikheid, ‘n idilliese parkeerplek vir die gejaagde reisiger, maar tog, wat ons dalk vergeet, ‘n dorpie wat sy karakter deur jare ontwikkel het. ‘n Plek vol karakter en karakters. ‘n Plek vol stories wat, ek hoop, nooit sal verlore gaan nie. Jy sien, dis stories wat kersgeskenke is op ons lewensreis, dis stories wat karakter en karakters vorm, en dis stories wat maak dat toeriste terugkeer om meer te ontvang. Jy sien, stories ruik soos rose. Stories gee nie voor nie. Stories vat ons terug na die voetspore van ons kinderdae.
As jy hierdie vakansie reis, maak nie saak waarheen nie – sorg dat jy nie die stories van die plekke waar jy reis mis nie. Jou werklike rus lê nie in die reis nie. Dit lê in die stories wat jy optel en in jou sakkie van herinneringe plaas.
Laat die malles maar by die stories verbyjaag na hulle bestemming.
Dis die wat die stories vind wat weet dat elke afdraaipaadjie ook ‘n bestemming is.

No comments: