Friday, December 16, 2011

Oor filosofie en manipulasie


Sondagmiddag. Ek het geen behoefte om kruideniers te gaan koop nie. Tog, as die brood en melk op is, dan is dit op. Voorts is my skeerroom ook op, dus het ek nie veel van ‘n keuse nie. Arné en Benno ry saam. Benno het altyd ‘n strategie. Wanneer ons vertrek onderneem hy dat hy niks sal koop nie, maar wanneer ons by die winkel kom het hy oënskynlik vergeet en kyk hy ons met smekende spaniel-ogies aan. Soms vir lekkers en soms vir iets anders. Ten einde hierdie supermark-afpersing te vermy het ons ook al ‘n strategie. Arné spring vinnig uit, en ek en hy soek kwansuis parkering. Dan wag ons sommer vir mamma in die motor.
En hierdie rondte is presies dieselfde. Nadat ons geparkeer het wag ek en Benno in die Sondagmiddag somerson. So ‘n lekker luiheid hang mos Sondagmiddag oor ‘n mens. Asof jou hele liggaam weet dat daar bepaal is dat daar op die sewende dag gerus moet word. En in die Paradys was skeerroom nie eers nodig nie!
En dan kom Benno se vraag uit die bloute. “So Pappa,...” Hy aarsel effens. “Wat is die doel van mens se lewe?” Ek wens ewe skielik dat ek die ene is wat in die supermark was en nie in die spervuur nie. Wanneer Benno met so ‘n vraag kom, dan kom dit gewoonlik na deeglike oorweging sowel as met die natuurlike nuuskierigheid wat graad 3 bied. ‘n Nuuskierigheid wat nie sommer enige geblikte antwoord aanvaar nie.
Ek hink hierdie kant toe, dan daardie kant toe. Ek verpak die antwoord soos ek dit al dikwels van predikante, opleiers en sprekers gehoor het. Maar die verpakking bly tekortskiet. Uiteindelik kom dit daarop neer dat ons hier is om die wêreld ‘n beter plek te maak as wat dit was toe ons hier gebore is, om jou roeping uit te leef, jou talente te benut, jou aardse geleenthede te waardeer. Om vir ander mense iets te beteken. Soos wat ek antwoord knik Benno saam.
En dan, wanneer ek alles beantwoord het, en net dink dit was waaroor alles gegaan het, kom sy opvolgvraag: “Kan ons gougou by die speelgoedwinkel verbyry? Asseblief Pappa. Dit sal my lewe beter maak – dan leef jy so ‘n bietjie van jou doel in die lewe uit.
Nodeloos om te sê, ek het by die speelgoedwinkel verbygery. Nee, ek hoef niks te gekoop het nie, hy wou net rondkyk – jy sien, dis nie meer so lank voor Kersfees nie. En Benno wou net gaan sien wat alles beskikbaar is.
Soms is filosofie ‘n bedekte vorm van manipulasie.
En soms is dit goed om ‘n kort tydjie van ‘n lui Sondagmiddag met jou seuntjie in ‘n Speelgoedwinkel rond te stap.

No comments: