Tuesday, April 03, 2012

Wense vir 'n Perdevriend

Die hele ding het met Arne se verjaardag begin. Daar was twee van die dinge wat gebeur het wat ‘n indruk op Benno gelaat het, en wat Vrydagaand gelei het tot sy unieke hantering van die dood van Tannie Lutje se geliefde perd, Jupie.

By Arné se verjaardagpartytjie het ons ‘n sirkel gevorm, vanaf die een wat haar die langste ken, tot die een wat haar die kortste rukkie ken. En elkeen moes iets van haar vertel. Iewers daardie aand het ons toe ook wense op heliumballonne geplaas en dit die lugruim ingestuur. Elkeen kon sy eie wens op die ballon skryf, en dan toekyk hoe dit die Vrystaatse aandskemer inseil.

Dit was ook daardie week dat Jupie uitgesit moes word. En teen Vrydagaand is daar baie trane. Dis toe dat Benno begin. Ons moes ‘n lekker kampvuur maak. En toe moes elkeen vertel van sy mooiste oomblik met Jupie. Benno het besluit: “Ons begin by die een wat die liefste was vir Jupie, dis Anienie, dan ekke, dan mamma, en dan jy pappa.” Nou ek weet nie waarom ek laaste in die ry was nie, maar so het ons elkeen ons storie vertel. Vir Benno was dit egter nie die einde nie. Nou moes elkeen ‘n wens vir Jupie op ‘n stuk papier neerskryf. Hy het die wense voorgelees en toe met groot seremonie in die vuur gegooi: “sodat die boodskappe na Jupie by Liewe Jesus kon gaan.”

Die waarde van die seremonie het nie verbygegaan nie. Wat begin het as ‘n tranedal was nou besig om te ontaard in ‘n huldeblykseremonie. Ek weet nie van een perd wat se lof al so besing is nie, teen die einde van die aand toe daar nog net as op die vuur is, gesels almal nog oor Jupie. Jupie wat net te oud geword het. Jupie wie se tande uitgeslyt het, en sy lyf begin uitteer het. Jupie wat ‘n legende op die plaas was.

 Sien, vandat die kinders gebore was, was Jupie daar. Daar was dikwels die aandra van appels na Jupie, die rondgelei word, en die roskam van sy palimino vel. Jupie wat as jong perd vir tannie Lut op die skou laat ry het, en as ou perd ter aanskoue van ons almal die kinders geduldig karwei het.

En soos wat mens luister na die kinders se herinneringe, terwyl die wense vir Jupie in die lug invaar, besef mens dat kosbare herinneringe ‘n wonderlike geskenk is.

En dit is die geskenk waarmee Jupie ons gelaat het!
Ons glo hy galop nou op groot groen grasvelde.
Tot wedersiens ou Perdevriend.
Die kinders mis jou.

No comments: