Tuesday, April 03, 2012

Die vrugbare grond van dankbaarheid

Daar is soveel woorde daarvoor. Ingesteldheid, houding, lewensuitkyk. Mens kan voortgaan met ‘n reeks sinonieme. Maar dit is die kern van ons geluk hier op aarde. Hoe mens die lewe en dit wat met jou gebeur interpreteer, waardeer, en dan jou storie maak.

Uiteindelik kom dit neer op storie. Daar is dinge wat gebeur, en dan is daar die stories wat ons onsself vertel oor hierdie dinge. Baie mense verkies die rol van slagoffer, en hulle hele storie gaan dan oor swaarkry en hoe die omstandighede teen hulle draai. Dan is daar die ander groep. Die groep wat ten spyte van teleurstelling en terugslae altyd weer probeer. Soms nogal met ‘n glimlag op die gesig, en determinasie in die oë. Hulle stories is stories van hoop, oorwinning en dankbaarheid.

Tog spandeer ons baie min tyd om aan ons stories te werk. Mens is so besig met die dringende dinge van elke dag dat mens skoon van die belangrike dinge vergeet. En nee, die belangrike dinge is nie moeilik nie. Dit is soms so eenvoudig soos om ‘n paar minute te stop en te dink oor die dinge waarvoor jy regtig dankbaar is. Mens kan selfs jou eie dankbaarheidsjoernaal begin en elke oggend aan vyf dinge dink waarvoor jy dankbaar is.

Die wêreld sal vir jou vertel wat jy nodig het, hoekom jy moet kompeteer, en hoe dringend dit is om die volgende leer na sukses te begin klim. Maar mense wat met ‘n dankbare ingesteldheid as karakter in hulle eie lewensverhaal beweeg het soveel meer rykdom as wat die wêreld jou kan bied. Jy sien, soos ons almal reeds weet is geluk nie iets wat buite ons lê nie, dit is nie iets wat ons kan koop of najaag nie.
Dis reeds geplant binne in ons. Die saadjie van geluk.

Wat rustig wag op die vrugbare grond van dankbaarheid!

Terwyl jy hier lees, voordat jy verder blaai of na nog ‘n artikel kyk. Stop. Dink aan vyf dinge waarvoor jy vandag dankbaar kan wees. Glimlag terwyl jy dink. Bel selfs iemand as jy dit vir hulle wil vertel.

Voel hoe die saad ontkiem.

En hoe jou storie al mooier word.

No comments: