Friday, December 16, 2011

Beginselvaste Besemmakers


Dit was Anienie wat voorgestel het dat ek hierdie stukkie oor Siobhan skryf. Anienie, my eie dogtertjie wat haar pad tussen maatjie-kwessies deur probeer vind met al die meisie-politiek wat graad ses kenmerk. Meisie-politiek wat Siobhan  met ‘n stil bravade trotseer, ten spyte van die klomp wat haar waarskynlik vermy as gevolg van haar groter bou, haar huislike omstandighede na haar ouers se egskeiding en haar doelgerigte vasbeslotenheid om haar eie pad deur die woud van sosiale slagstrikke oop te vee.
Sien, Siobhan  is nie een van daardie buierige maatjies wat jou elke dan en wan, sonder rede, in die steek laat of in die rug steek nie. Haar ja is ja, en haar nee is nee. En nee, sy veg nie vir punte by die gewildste kinders of onderwysers nie. Sy maak haar keuses en staan daarby. Soms dalk nie reg nie, maar wel dapper. Siobhan  het lankal reeds besef of besluit dat sy nie op die Leerderraad gaan wees nie, hoewel sy na my mening een van die beste leierskapskwaliteite het wat daar kan wees. Self-leierskap. Verstaan mooi, sy is nie ‘n rebel nie, sy is nie jammerlik oor haarself nie, maar sy het vaste selfgekose beginsels waarvolgens sy haar besluite neem.
So nou en dan, as sy kom kuier, vertel sy my van hulle motor wat gebreek het, en hoe hulle laatnag daarmee gesukkel het. Sy en haar ma. Sy het al vertel van hulle moeilike trek na ‘n ander huis met niemand om te help pak en dra nie. En tog, haar vertellinge is nie beswarend nie. Elke keer vertel sy dit met die opgewondenheid van ‘n avonturier. Dit was net nog uitdagings in ‘n doringpad waaroor sy soms dans, soms trippel, en verseker ook soms val.
Dit is wanneer Siobhan  kom kuier dat ons weet daar gaan nie bakleiery tussen Anien en Benno wees nie. Dit gebeur so dikwels wanneer beide maatjies kry. Dan word dit mos ‘n oorlog van seuns en dogters. Maar nie met Siobhan  nie. Sy het lankal besluit dat kinderbakleiery onnodig is, en deur bloot die gevegte te vermy en die seuns se aanslag te ignoreer, leer sy hulle die ou beginsels van “sticks and stones may break my bones, but I will not allow words to hurt me.” Dit is Siobhan  wat nie aarsel om vir ek of Arné met takies in die huis te help nie. En dit is Siobhan  wat my kinders herinner dat dit ‘n wonderlike voorreg is om iemand te hê wat jou met jou huiswerk kan help.
In ‘n wêreld waar skoolsukses dikwels aan akademiese prestasie of gewildheid gemeet word is dit Siobhan  wat, ten spyte van die feit dat sy haar nie aan daardie maatstawwe steur nie vir my kinders ‘n voorbeeld stel waarvoor sy dalk nie erkenning kry nie. Dalk wel, ek weet nie, ek ken haar nie so goed nie.
Tog, ek salueer haar, en ek gun haar ‘n besem om die dorings van die lewenspad mee weg te vee. Maar ek weet, as sy nie een kry nie, sal sy waarskynlik een maak met die takke en stokke tot haar beskikking.
En ek hoop sy leer my kinders ook van die krag van besemmakers eerder as die passiwiteit van hulle wat wag vir besems, of die skynpopulariteit van hulle vir wie die besems geredelik toeval.
Jy sien, ons gaan besemmakers al meer nodig kry.
Beginselvaste besemmakers.
Mense wat vir ons land ‘n nuwe pad na ‘n nuwe visie kan oopvee.

No comments: