Friday, October 28, 2011

Die Paashaas, Kersvader en Jesus


Na ‘n paar weke van aktiewe rondhardloop is diehele gesin ‘n paar aande gelede vroeg in die bed. Benno gesels nog salig oor die vakansie, Anienie lees boek, en mens dink net dat alles vir ‘n keer rustig is. En dit is net toe die bootjie na droomland vertrek dat iets my en Arné gelyk laat regop sit.
Iemand huil.
Benno.
Dis nie een van daardie harde maagpynhuile nie. Hy snik saggies maar deurdringend. Ons wil dadelik weet wat fout is.
“Dis Jesus…”
Nou is ons albei meer wakker.
“Wat van Jesus?” vra Arné.
“Ek weet nie of Jesus regtig is nie.” Nou as ons nog nie helder wakker is nie, dan is dit die woorde wat mens dadelik wakker skud.
“Julle sien, Kersvader is nie regtig nie, die Tandmuis is nie regtig nie, en die Paashaas is nie regtig nie. Julle het vir my gesê hulle bestaan en bring vir my goeters. Nou weet ek hulle was nooit regtig nie. Dit was julle wat al die persente gebring het. Hoe moet ek nou weet of Liewe Jesus regtig is?” Hy snik steeds kliphard. “En hoe weet ek of Adam en Eva nie gejok het oor God nie? Hoe weet ek hulle was regtig?”
Nou teen hierdie tyd het Anienie haar boeke neergesit en staan sy bedremmeld, bedroë en bekommerd nader. Bedremmeld oor sy amper aan die slaap was, bedroë omdat die vrae haar ook onkant gevang het, en bekommerd oor haar broer se skielike gebrek aan geloof.
Dis in tye soos hierdie dat ek dankbaar is vir Arné. Terwyl ek dadelik skuldig voel oor waar ek as ouer die pad so byster geraak het, sit sy saggies haar hande om die kinders se skouers. Sy verduidelik met deernis en liefde. Benno raak geleidelik rustiger. Vrede daal oor sy gesiggie neer. Wie weet waaraan hy alles gedink het – die hemel wat dalk nie bestaan nie, - en waar sal die dooie oupa’s dan wees, die gebede vir die armes en siekes wat op dooie ore sou val, al hierdie dinge wat dalk so verskriklik waardeloos sou wees as Jesus nie bestaan nie.
Toe Benno uiteindelik met vrede op sy gesiggie aan die slaap raak, kan ek lank nie slaap nie. Ek dink oor al die wonderlike geskenke wat mens vir jou kinders gee. Maar ook die feit dat jy vergeet dat jy ook lank gelede ‘n wonderlike geskenk ontvang het.
Dink net. Kersvader, die Tandmuis en die Paashaas – hulle bring geskenke, maar niemand sien hulle nie. Jesus se vergifnis is ‘n geskenk. ‘n Sigbare geskenk. Mens sien dit in die lewens van hulle wat werklik glo.
My grootste geskenk aan my kinders sal sekerlik wees om nie deur te vertel nie, maar deur reg te lewe vir hulle te wys dat Jesus regtig bestaan. Om die Paashaas, Kersvader of die Tandmuis te wees is maklik.
Om ‘n voorbeeld te wees is ‘n lewenstaak!

No comments: