Friday, August 26, 2011

Om 'n verskil te kan maak!

Verlede week eindig ek skielik op ‘n reis deur die verlede. Ek besoek elke semester saam met ‘n groep MBA studente die Anglo-Boere oorlogmuseum en Vrouemonument. Dan gesels ons oor hoe ongelooflik moeilik die omstandighede destyds moes wees, en hoe gelukkig ons is om te leef in die tye waarin ons leef, waar ons dink een van ons grootste probleme Julius Malema is.


Hierdie keer is my gas een van ons hoofkantoorbestuurders. En opeens vind ek my in die rol van gids. Soos ons deur die tentoonstellings beweeg bly hy geïnteresseerd vrae vra. En elke vraag lei na ‘n nuwe gesprek. Gesprekke oor hoekom mense die wreedste dinge aan mense kan doen, hoe mens die insig kan kry om bo jou politieke meesters se ideologie te dink, soos wat mense soos Emily Hobhouse gedoen het, en meer nog, wat maak jy met jou geskiedenis as dit jou hart breek?

Daardie aand gaan kyk ons The Bang Bang Club, die storie van ‘n groepie Suid-Afrikaanse fotograwe wat die wrede Township geweld van die negentientagtigs onder ons aandag gebring het. My besoeker is veel jonger as ek, hy staan verstom oor die feit dat hy so naby aan sulke geweld grootgeword het, en nie eers aldag bewus was daarvan nie. Hy het sorgeloos in Eldoradopark sokkerballe geskop terwyl Suid-Afrika op die rand van ‘n revolusie gehuiwer het.

Tussen ‘n museum en rolprentteater stap ons ‘n kopreis deur ons land se geskiedenis. Ek herinner myself aan skooldae met bomdreigemente en kadette. Noodmaatreëloefeninge was deel van ons skoollewe, diensplig het gewink na skool. Kan mens glo dat dit dieselfe land is? Ja, ons het nog ons probleme, ons het hulle wat afbreek doen aan alles wat goed en reg is, maar was hulle nie maar altyd met ons nie?

Dit neem so ‘n reis deur jou eie verlede, jou eie hart en jou eie land om mens te laat besef dat ons vandag so ongelooflik baie het om voor dankbaar te wees.

En ja, dalk het ons wyser geword, dalk sien ons vinniger wanneer daar gevaartekens flikker in die speelvelde van politieke mag, maar dalk, net dalk het ons geleer om met deernis aan ons medemens te dink. Aan hulle wat nie altyd ‘n stem het nie, vrouens en kinders wat in die konsentrasiekampe van gesinsgeweld steeds gevange bly. Mense wat met hulle eie seer probeer vrede maak, ou mense wat wonder hoe hulle nog ‘n jaar van armoede gaan uitsien. Hulle wat minderbevoorreg is.

En dalk, net dalk, herinner Augustus ons dat ‘n merkwaardige vrou soos Emily Hobhouse ‘n verskil kon maak.

En dat elkeen van ons ook kan!



No comments: