Thursday, August 25, 2011

Meesters van die bord...

Die boek het so pragtige opening gehad. Die seuntjie was so bly dat sy ouma uit die tronk kon kom. Nou kon hy haar immers werklik laat swaarkry. En toe kom die konteks. Hy is besig om teen sy Ouma Monopoly te speel, en sodra sy uit die tronk skuif gaan sy op sy eiendomme staan – en sy gaan betaal. Vir nou is hy in beheer van die bord. En toe kom die besonderse les van die Ouma: “As alles verby is, dan pak ons alles weer terug in die boks.”


Die skrywer van When the game is over, it all goes back into the box, John Ortberg, vergelyk die bordspel met die lewe. Hier waar ons almal soos mal goed probeer om die meester van die bordspel te word, ons jaag die skynsukses van die wêreld na, versamel aardse rykdomme, verhoog ons stresvlakke, verwaarloos ons gesinne. Ons speel die spel van die lewe.

En dan, dan eindig alles weer in die boks. Dalk selfs ‘n netjiese boks, dalk nogal een wat op spesiale aanbod is by die begrafnisondernemer. En die tragedie is so dikwels dat mens allerhande verkeerde goed najaag. Goed waaroor die kinders baklei as jy rustig in die boks lê!

Wat maak regtig saak? Wat het ewigheidswaarde? Jy sien, die prentjies van vandag se sukses – die duur motor, die fris huisverband, die duur tegnologiese speelgoed – dit word almal bemark as dinge wat jou lewe styl gee. Lewensstyl noem ons dit. Tog, is die voorstelling van sukses nie dalk ‘n ander prentjie nie? Dalk ouers wat saam met kinders glimlag. Dalk iemand wat met son op die gesig en wind in die hare hardop lag oor hulle dankbaarheid vir die lewe.

Soos ek verder lees maak die skrywer interessante voorstelle. Neem twee stelle plakkers. Skryf op die een stel “tydelik” en op die ander stel “ewig.” En nou gaanplak jy dit op die dinge in jou huis. Op jou motor, op die televisie, op alles waarvoor jy so hard werk gaan daar dalk staan “tydelik.” Op jou kinders, jou eggenoot en ander dinge gaan jy dalk graag die plakker van “ewig” wil plak. Vra jouself nou af – hoe lyk my prioriteite. Jy sien op die ou einde gaan dit wat jy vir ander gedoen het jou nalatenskap word. Die goed wat jy versamel het gaan erfstukke word wat uiteindelik op ‘n skrootwerf gaan eindig.

Die boek het my diep getref. Merendeels omdat niks van hierdie dinge nuut was nie, maar omdat ek weereens besef het hoe ek te maklik my eie prioriteite laat deurmekaarraak, hoe ek die feit dat ek besig is beskou as opoffering vir my gesin, en hoe ek soms vergeet dat die werklike opoffering nie opoffering is nie, want om waarlik om te gee was nog nooit opoffering nie.

En ja, dit word onthou – lank nadat die spel verby is en alles teruggeplaas is in die boks!

No comments: