Wednesday, August 24, 2011

Oor walrusse en Selfgeldendheid

Ek wens ek was meer selfgeldend. Interessante woord: Selfgeldend. Soos wat ek dit interpreteer beteken dit dat jy kan opstaan vir jouself, selfs al veroorsaak dit konflik. Tog, dit is juis waar die probleem inkom. Ek hou niks van konflik nie. En dis juis omdat ek nie van konflik hou nie dat ek dikwels maar die regverdigheid van ‘n situasie met my verbeelding oplos.


Ek wens ek het die selfvertroue gehad om vir selfsugtige rokers langs ‘n openbare swembad te vra of ek hulle ‘n leesles kan gee. Veral as hulle met sigarette tussend die vingers en rook wat oralheen draal, ten spyte van borde wat wys dat rook verbode is, hulleself vergenoeg in die inteug van elke longvernietigende twaksel nikotien.

Hierdie vakansie was dit juis die rokers wat my verdryf het van die swembad. Ek wens elke roker kan voel hoe dit voel as jou sinuskanale verstop, jou kop onmiddellik voel of dit opswel en jou oë begin traan terwyl jy hyg na asem. Dit is hoe ek voel as die rook my betrap. Dankie tog vir die wet wat rook in openbare plekke verbied. Tragies tog die verontagsaming daarvan. Ek kan nie onthou hoeveel restaurantetes suinige rokers al vir my in pynlike aande van oorlewing omskep het nie.

Toe die spul rokers my hierdie vakansie van my rustige toesig-oor-die-kinders swembadstoel verdryf, en boonop ons handoeke onseremonieel na ‘n ander stoel verplaas wend ek my maar weer tot my verbeelding. Walrusse. Hulle is walrusse. In my geestesoog verdubbel ek hulle gewig en begin aan allerhande snaakse goed oor hulle dink. Ek verbeel my hoe die een walrus in die swembad induik en twee kindertjies wat met vlerkies aan die vlak kant geswem in in die ruimte in lanseer danksy die skielike verplasing van die water. Gelukkig vir die vlerkies want nou vlieg die kindertjies rookvry in die ruimte.

Ek sien ook dat die jong walrus wat langs sy rokende moeder draal, self met ‘n sigaret in die hand, met sy bont narre-kostuum in ‘n sirkuswalrus verander wat toertjies doen. Met hierdie twee prentjies in my kop slaag ek darem daarin om glimlaggend die handoeke te gaan haal, tog, ek wens steeds dat ek vir hulle presies kon vertel wat ek van hulle stinkrookgedrag en arrogante handoekverskuiwings dink. Maar nee, die selfgeldendheid ontbreek. Uiteindelik stap ek met ‘n vriendelike groet en beleefde verskoning weg. Alles terwyl ek kwaad is vir myself oor my eie onvermoë om konflik te hanteer.

Hoewel ek weet dat ek nie selfgeldend is nie, en dat ek hopelik een van die sagmoediges is wat volgens die Bybel die aarde gaan erf, bly ek steeds stomgeslaan oor die arrogansie van die menswalrusse wat ons aarde met ons deel. Ek dink aan die padvarke, selfsugtige rokers – daar is baie bedagsame rokers ook-, sowel as die winkeltrollie buffels en die ry-indrukkers wat ek al teëgekom het deur my lewensreis.

En ek wonder of hulle selfgeldend is.

Of bloot onbeskof?



No comments: