Tuesday, August 23, 2011

Kompas vir 'n ongekaarte toekoms

Die afgelope naweek is ek genooi om by ‘n kerk in Bloemfontein te gesels oor “Toekomstendense.” Dis ‘n heerlike onderwerp want mens hoef mos eintlik nie te weet waarvan jy praat nie – dis dinge wat dalk kan gebeur. Indien dit nie gebeur nie is dit ook in orde, wie kan nou immers die toekoms voorspel.


Die kerk het ‘n heerlike gespreksgroep wat elke Sondagaand bymekaarkom en dan oor allerhande uitdagende onderwerpe gesels. Die doel is nie om antwoorde te vind nie, maar om denke te stimuleer. En dit is wonderlik om te sien hoeveel mense op ‘n koue Sondagaand hierdie “Koffietafelgesprek” kom bywoon. Oud en jonk kom met die doel om te debatteer, te leer en te groei. Doelbewus daag jy jou eie denkwyse uit.

Een van die onderwerpe waarop ons toe debatteer is wat mens jou kinders (en dalk ook jouself) moet leer om gerat en gereed te wees vir die toekoms. Seker die belangrikste gevolgtrekking is dat ons onderskeidingsvermoë moet leer. Jy sien, in die skole fokus ons nog om kinders te leer memoriseer. Dalk besef ons nie dat die internet ‘n fantastiese geheue het nie? Jy sien ek kan baie data daar kry, maar wat ek nodig het om te bepaal of dit die regte inligting is, is die vermoë om te onderskei tussen die koring en die kaf van die internetweiveld.

Saam met onderskeidingsvermoë is deursettingsvermoë krities belangrik. Dink maar aan wiskunde. Wiskunde is veronderstel om ‘n kind te leer om probleme op te los, om te dink, om formules toe te pas, en om jouself uit te daag om oplossings te vind. Nie om massas berekeninge in sekondes te doen nie. Daar is rekenaarprogramme wat dit kan doen. Maar geen rekenaar kan jou deursettingsvermoë leer nie, hoewel baie jongmense wat rekenaarspeletjies speel en van vlak na vlak beweeg dalk nie sal saamstem nie.

In ‘n wêreld waar alles meer gekompliseerd en deurmekaar raak danksy die vrye vloei van inligting gaan die vermoë om te vereenvoudig ‘n fantastiese gereedskapstuk vir die verwerking van die toekoms wees.

Teen die einde van die gesprekke was die groot vraag – wie gaan dit vir ons leer? Wie gaan dit vir ons kinders leer? Dis nie tans heeltemal in skoolsillabusse nie, maar dalk net is dit tyd dat ons by die huis na ons eie sillabus vir die lewe kyk. En soms gaan ons toetse dop, maar ons gaan moet koers hou in ‘n ongekaarte landskap.

En ja, ons gaan ‘n kompas nodig hê.

Wanneer laas het jy gaan kyk na jou kompas?





No comments: