Monday, November 02, 2009

Die skool van die lewe

Die mistigheid het swaar oor die landelike teerpad gehang. Daar was net die drie kinders, die koue en die snerpende wind. Oppad skool-toe. Die wasem-asems het wit en wolkerig hulle gesprek onderskryf hoewel ek nie kon hoor waaroor hulle praat nie.
Tog was daar soveel opgesluit in die prentjie. Nugter weet hoe laat hulle opgestaan het, hoe ver hulle al gestap het, of nog moes stap nie. Wat wel lekker was was die wete dat dit nie vir hulle soos opoffering gelyk het om skool toe te gaan nie. Op ‘n eienaardige manier was daar selfs ‘n opgewondenheid in die lug. Dit het my herinner aan pa se storie oor geleerdheid.
Pa het die storie jare gelede gelees. Skynbaar een van O’Henry se stories. Dit het gehandel oor die ou koster wat die kerk so mooi opgepas het. Die vensters het geblink, die klok het helderder geskyn weens die voortdurende politoer en die terrein was onberispelik.
Toe kom die prins.
Die prins was verstom oor die netjies opgepaste kerkgebou. Hulle het die ou man nader geroep. “Watter kwalifikasies het jy?” het die prins gevra. “Standerd 1,” het die ou man skaam geantwoord. Toe die prins ry het hy die priester beveel om van die ou man ontslae te raak. “Iemand met so min kwalifikasies kan nie na so mooi kerk omsien nie.”
Vir die ou koster was dit vernietigend om te hoor. Die kerk was sy hele lewe. Hy het in ‘n parkie gaan sit en wonder wat om te doen. Op ‘n stadium wou hy ‘n sigaret rook. Daar was geen kafee in sig nie. En dis waar die plan begin het. Hy het sigarette gaan koop, en daarna een vir een in die parkie verkoop. Met die wins het hy meer sigarettte gaan koop, dit ook weer verkoop, en so het ‘n hele klein besigheid begin. Uiteindelik het die ou koster in drie parkies sigaret-kiosks bedryf. Teen hierdie tyd het die bankbestuurder gesien dat die ou man een van die rykste mense in die land is. Hy het hom laat roep. “Meneer, u het meer as ‘n miljoen pond in die bank. U is een van ons welvarendste kliënte. U moet baie intelligent wees. As ek mag vra, watter kwalifikasies het u?
Die ou man het geglimlag. “Ek het standerd 1”.
Die bankbestuurder het verdwaas gelyk. “Sjoe, kan u dink wat u sou gewees het as u selfs verder studeer het?”
Weer het die ou man geglimlag: “Ja, ek sou nog die koster by die kerk gewees het….”
Ek weet pa het die storie vertel om ons te leer dat kwalifikasies nie tel nie. Dit gaan eerder oor die bereidheid om dinge te doen, die ingesteldheid waarmee ons die lewe benader.
Terwyl die drie kinders laggend in die mistigheid verdwyn, oppad na hulle skool, bly die storie in my kop. Ek weet nie wat hulle onderwysers hulle gaan leer nie, ek weet nie watter boeke hulle gaan lees nie, ek weet nie eers in watter graad of standerd hulle is nie. Al wat ek weet is dat hulle vroegoggend oppad skool-toe is met toekomsdrome op ‘n wit wasige winderige wintersoggend.
En ek hoop hulle weet dat skool nie net oor papier en rapporte gaan nie, maar oor die deursettingsvermoë om, wanneer jou drome in skerwe spat, te kan aanhou.
Tuis kyk ek na een van die foto’s wat ek geneem het toe my kinders hierdie jaar hulle Kaalvoet Tjokkie loopbane begin het. En ek hoop en bid vir goeie onderwysers wat die sillabus van die lewe verstaan, nie oorgee aandie gek gejaagde sirkussillabus wat die departement voorskryf nie.
Want na alles gaan dit nie oor punte, proewe of profyt nie.
Dit gaan oor die kernkwalifikasies van ingesteldheid, entoesiasme en ywer. Ek hoop dat my kinders dit altyd belangriker sal ag as al die ander vakke.
En dat hulle dit met onderskeiding sal slaag.
Soos die ou koster.

No comments: